Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 18 hours ago
- 4 min read
Maandag, 2 Februarie 2026
Koos Espach
Die verlossing van die heidennasies (9)
Die God van genade
Rom. 11:22 – “Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word.”
Vergelyk ook 1 Pet 5:10 – “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.”
Paulus se laaste vermaning aan die Christene uit die heidennasies én ons Jesusvolgelinge van vandag, is uiters belangrik. Nêrens anders vind ons so ‘n deeglike uiteensetting van die leer van God se genade en redding deur geloof in Jesus Christus alleen nie. Die wortel van alle sonde is die miskenning van God se genade, daarom vermaan Paulus ons om te “let op die goedheid en strengheid van God.” Ons deel nou in die “goedheid” van God se genade, maar dit beteken nie dat ons onsself mag verhef oor “die afvalliges” nie – God se goedheid geld solank as wat ons in “sy goedheid lewe, anders kan (ons) ook uitgekap word.”
Deur die hele Bybel word God se goedheid en genade soos ‘n magtige tema beklemtoon. As ons die genadetroon op die regte manier wil waardeer en liefhê, moet ons verstaan wat God ons wil bied. Die Bybel gebruik groot woorde soos “rykdomme van genade”, die “heerlikheid van genade”, die “oorvloed van genade”, die “menigvuldige rykdomme van genade”. Wat beteken dit? Watter skatte is daar nie in hierdie woorde opgesluit nie? Die goedheid van God wat in Jesus Christus tot uitdrukking kom en deur die Heilige Gees geopenbaar word, verseker ons van verlossing – “Julle ken die ongelooflike goedheid van ons Here Jesus Christus. Alhoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword sodat julle deur sy armoede ryk kon word” (2 Kor. 8:9).
God se genade en “goedheid” stel ons in staat om as vrygekooptes, deel van sy gesin te word. As ons die werke van God net wil verstaan sal ons God vertrou en gehoorsaam. Maar, tipies van ons, is daar altyd ‘n knaende stemmetjie wat vra of ons nie nog méér moet doen om God se genade en goedheid te verdien nie? In plaas daarvan om God te gehoorsaam, probeer ons met ons ontoereikende intellek, ons eie verlossing volgens ons menslike standaarde, te beplan en te leef.
Ons pogings om onsself te regverdig is verniet, ons kan nie God se genade deur ons dade koop of verdien nie, dit is ‘n gawe wat God ons skenk, ‘n genadegawe deur Jesus Christus ons Here (Rom. 6:23). “En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie” (Rom. 11:6). Op grond van die vergifnis van sonde wat Jesus Christus bewerk het, skenk God ons sy verrassende genade en spreek ons vry van ons sondeskuld en gee Hy ons, gratis, ‘n nuwe en ewige lewe saam met Hom.
Sjoe, werklik? Ja, inderdaad! Petrus beaam dit in 1 Pet. 5:10: “God wat alle genade gee, sal julle moedig, sterk en standvastig maak.” En tog, êrens in die agterkop herinner Paulus se woorde ons: “Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word.” Kan ons uitgekap word? Nie as ons ingesteldheid is op hierdie God, die Middelpunt van die heelal, die Bron van alle krag, die Gids wat alles laat gebeur nie. Met elke nuwe dag moet ek en jy onsself nederig in sy hande plaas en ons absoluut oorgee, sodat ons van Hom die vervulling van sy beloftes kan ontvang. Beloftes soos: “God wat alle genade gee, sal julle moedig, sterk en standvastig maak.”
Watter vreugde om te weet dat ons spirituele lewe hang nie van ons af nie, maar van Hom wat “alle genade gee.” En wanneer ons tot sy genadetroon nader, kan ons met vrymoedigheid dink aan wat dit Christus gekos het om daardie troon op te rig en watter versekering dit vir ons gee dat ons die genade sal ontvang om ons deur moeilike tye te dra.
Mag dit deur die genade die gesindheid wees waarmee ek en jy elke oggend wakker word en mag dit deursyfer na ons werk, ons vriende, ons kollegas, ons familie en ons gesin, sodat ons nederig op die belofte sal vertrou: “God wat alle genade gee, sal ons toerus. Hy sal in ons tot stand bring wat elkeen van ons in ons lewe nodig het.”
“God se genade is genoeg vir elke dag. Dit is nie iets wat ons byvoorbaat besit nie. Dit is ‘n guns wat telkens weer en weer aan ons gegee word na die mate waarin ons dit nodig het” (Willie Jonker).
Gebed: Ewige Vader, teen die agtergrond van hierdie nuwe dag se lewe en werk, rus my hart geheel en al op U. My hoop is op U Woord gevestig: “U wat vrede gee sal my toerus met alles wat goed is. U wat alle genade gee, sal my moedig, sterk en standvastig maak.” Amen.

Comments