Gedagte vir Vandag
Woensdag, 24 Julie 2024
Koos Espach
Festus en Agrippa se reaksie (3)
God se deur staan oop
Hand. 26:30-32 – “Die koning het opgestaan en saam met hom ook die goewerneur en Bernice, met hulle gevolg. 31 Toe hulle uitgaan, sê hulle vir mekaar: ‘Hierdie man het niks gedoen wat die dood of tronkstraf verdien nie.’ 32 Agrippa sê toe vir Festus: ‘Hierdie man kon vrygelaat gewees het as hy hom nie op die keiser beroep het nie.”
Paulus het die laaste woord gehad. Grootmoedig was sy vurige wens en bede dat almal wat na hom geluister het, saam met hom moet deel hê aan die nuwe lewe saam met Christus, maar sonder die boeie. Ek dink die ‘grotes’ is verslaan. Paulus kon nie die koning tot Christenskap beweeg nie en Festus het gedink Paulus is mal, maar Paulus kon Christus dank vir leiding. Hy kon sy geboeide hande in ‘n dankgebed saamvou vir die Gees se hulp gedurende sy getuienis.
Agrippa het duidelik ongemaklik geword met die verloop van die verhoor en het saam met sy gevolg opgestaan en weggestap. Dit was die teken dat die byeenkoms afgesluit is. Hulle en die ander gaste het die gehoorsaal verlaat sonder dat iets gekom het van die voorondersoek wat beplan is, of dat Festus iets kon kry om aan die keiser te skryf. Hulle kon egter nie help om vir mekaar te sê dat Paulus nie die doodstraf of boeie verdien nie. Dit ontbreek hulle egter aan die moed om volgens hulle oortuiging te handel en Paulus vry te laat. Paulus is terug na die gevangenis. Maar hy weet hy is op pad Rome toe. Christus het dit beloof (Hand. 23:11). Hy moet nog daar ook gaan getuig. Dié sekerheid sal hom laat vasbyt!
Paulus se moeilikheid het begin toe hy Jesus begin volg het. Hy was ‘n gelukkige man terwyl hy ‘n Fariseër was. Hy het ‘n blink toekoms gehad in die Joodse godsdiens-gemeenskap. Maar hy het al die wonderlike dinge waaraan hy deel gehad het, prysgegee. Hoekom? Paulus het nie Christus begin volg omdat Hy al sy probleme sou oplos en voorspoedig maak nie. Trouens, hy is weer terug gevangenis toe! Nee, hy het Christus begin volg oor alles wat Christus klaar vir hom gedoen het. Wat het Christus vir hom gedoen? Hy het Paulus vrygespreek omdat hy in Hom glo (Fil. 3:9). Die Here het hom geroep om sy getuie te wees, en dit was genoeg, meer as genoeg om Hom te volg, al kos dit wat! Buitendien, die Here het by Paulus gestaan en vir hom gesê om moed te hou (Hand. 23:11). Hy moet nog in Rome sy Goddelike boodskap met ander deel.
Toe ek en jy gelowiges geword het, het ons ook die Here se boodskappers geword. Hy het immers vir ons ook vrygespreek omdat ons in Hom glo! En “wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart …” (1 Joh. 5:10). Die Here wil deur ons met ander mense praat. Paulus het gesê in een van sy briewe: “Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God” (2 Kor. 2:17). God wil ons gebruik om ander mense deel van sy familie te maak. My en jou lewensboodskap, of liewer, ons getuienis-storie van hoe Christus ‘n verskil in ons lewe gemaak het, moet met ander gedeel word. Jesus wil dit hê dat ons dit moet doen toe Hy gesê het: “Julle sal my getuies wees …” (Hand. 1:8).
Om ‘n getuie te wees, is nie altyd maklik nie. Wanneer ons huiwerig is om te getuig, of bang is om die evangelie met iemand te deel, kan ons God vra om ons te help, eerder as om op ons beperkinge te konsentreer. Sodoende maak ons dan die pad oop vir die Heilige Gees om ons lewe binne te kom en deur ons te werk. Jesus het mos belowe “die Heilige Gees sal oor ons kom …” (Hand. 1:8).
Die vraag is nou wat ek en jy gewillig is om te doen sodat mense hemel toe kan gaan? Miskien kerk toe nooi; aanhou bid vir hulle wat nog nie Jesus ken nie; hulle van Jesus vertel. Ons moenie geleenthede laat verby gaan nie. Paulus sê: “Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid” (Kol. 4:5). Ek wil nie voorbarig klink nie, maar dink net as ons eendag in die hemel kom en iemand sê vir ons: “Ek wil jou bedank. Ek is hier omdat jy vir my genoeg omgegee het om my van Jesus Christus te vertel.”
Stephan Joubert sê die hemel se deure staan nie op grendel vir God se kinders nie. Christus is die Deurwagter wat ons sal inlaat. Jesus sal ons persoonlik begelei tot voor ons Vader. Daar kan ons gelowig en nederig ons plekke voor Hom inneem. Dink net hoe wonderlik dit gaan wees om eendag in die hemel mense te groet wat danksy ons getuienis as boodskappers van Christus, daar is. Dink net hoe wonderlik dit gaan wees as ons kinders en kleinkinders, danksy ons getuienis as boodskappers van Christus, daar is. Paulus se boodskap kon lewens verander. My en jou verhouding met Jesus Christus is al wat tel om ander se lewens te verander. Is mense gretig om na ons te luister?
“Die Heilige Gees is die geheim van die krag in my lewe. Al wat ek moet doen is om my lewe onvoorwaardelik aan Hom oor te gee” (Kathryn Kuhlman).
Gebed: Here, vandag gaan ek met verskillende mense praat. Help my asseblief om só te praat dat ek hulle na U toe aantrek. Amen.
Comments