top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 18 Julie 2024

Koos Espach


Paulus se getuienis aan die Jode en aan die heidennasies (1)

 

Die Gees wat in ons bly

 

Hand. 26:19-21 – “Van toe af, koning Agrippa, was ek nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam nie. 20 Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die heidennasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God moet bekeer; en dit moet hulle bewys met dade wat by die bekering pas. 21 Daarom het die Jode my by die tempel aangeval en probeer vermoor.”

 

Paulus staan voor die twee belangrikste persone in Palestina. Tog was hy nie bang nie en praat reguit met hulle. Die geboeide gevangene het die Romeinse goewerneur Festus en Joodse koning Agrippa, nou geboei! Paulus se waagmoed in die teenwoordigheid van die hooggeplaastes én die luisteraars in die saal, ken geen aansien van persoon nie. Elkeen teenwoordig, kon begryp dat Paulus steeds aan sy opdrag uit die hemel gehoorsaam is. Agrippa as Jood sou moes toegee dat ’n boodskap uit die hemel ten alle koste gehoorsaam moet word. Dit is die regsgrond van die Christelike sending.

 

God se opdragte was die fondament van die Joodse godsdiens. En nou het God sy wil en verlossingsplan aan Paulus bevestig en kan Paulus nie anders as om God se opdrag te gehoorsaam nie. Paulus sê m.a.w. wat hy later geskryf het: “As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ‘n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie ... dit is ‘n taak wat aan my toevertrou is” (1 Kor. 9:16, 17b). Sy gehoor is getuie van sy moet en moed. Daarom het die Jode hom in die tempel gearresteer en probeer doodmaak. Dit was oor sy prediking dat die Jode ook tot bekering moet kom soos hulle van die heidene verwag het, ’n totale omkeer van hulle lewe, uit die duisternis na die lig, Satan na God!

 

Dit word vertel van ‘n sakeman en ‘n jong feminis wat gelyktydig by ‘n deur van ‘n gebou aan kom. Hy hou hoflik die deur vir haar oop, maar ergerlik snou sy hom toe dat dit nie nodig is om vir haar as vrou die deur oop te hou nie. Hy antwoord gedwee: “Ek doen dit nie omdat jý ‘n vrou is nie, maar omdat ék ‘n gentleman is.” Paulus maak dieselfde punt wanneer hy vir die Korintiërs skryf – “hy verkondig die evangelie omdat hy móét ... dit is ‘n taak wat aan hom toevertrou is.”

 

In terme van die voorbeeld hier bo, verkondig Paulus dus nie die evangelie op grond van wat ander mense van hom verwag nie; hy verkondig dit op grond van wie hy in Christus is. Sy dade pas by sy bekering. Paulus se “gentlemanship” is geleë in die feit dat die Here hom geroep het. Hy doen die taak wat Jesus aan hom toevertrou het omdat hy nie anders kan of sal nie. Hy het dus geen rede tot roem nie, hy doen dit omdat hy wil.

 

Is dit nie wat Christus van ons as Christene ook verwag nie? Ons tree ordentlik op en dra die evangelie soos ‘n gentleman uit. Ons behoort dit nie te doen om ander se goedkeuring te probeer wen of selfs ‘n “pat on the back” te kry nie. Dit gaan immers nie oor ons nie, maar oor Hom wat ons stuur! Ons doen dit op grond van wie ons in Christus is. Ons behoort soos geroepe kinders te voel met ‘n baie belangrike taak wat aan ons toevertrou is. Dit is wat Jesus immers tot ons wou tuisbring kort voor sy hemelvaart toe Hy gesê het ons sal sy getuies wees ... (Hand. 1:8). Ek en jy moet ook deel wees van hierdie groot plan van God om die evangelie te versprei.

 

Dit is die geheim van ‘n florerende kerk. Ons kan en mag nie net Sondae die kerkbanke warm sit nie. Elke gelowige is ‘n getuie vir Jesus. Die Here se majesteit moet verkondig word, wêreldwyd sê Jesus. Die Psalmdigter beaam dit: “Mag sy verhewe Naam vir altyd geloof word, mag die hele wêreld vol wees van sy majesteit” (Ps. 72:19). Wat ‘n wonderlike vooruitsig dat hierdie wêreld wat op meeste plekke nog onder die Bose se heerskappy is, nuut gemaak en vervul kan wees met die Here se majesteit; ‘n nuwe wêreld waarin geregtigheid sal seëvier. Ons gelowiges is geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Ef. 2:10). Groter as ons eie eer, bestem vir goeie dade gerig op ander. Bestem om die Godgewe doel van ons lewe te verwesenlik.

 

Ons getuig soos Paulus op grond van wie Christus in ons is. Wat beteken “Christus in ons?” Dit word alleen ‘n werklikheid wanneer ons elke dag God se teenwoordigheid opsoek, ons geloof in Hom bely en sy inwonende Gees wat ons krag gee, se teenwoordigheid leef. Hoe doen ons dit? Ons begin en eindig elke dag met die drie-enige God. Ons neem tyd om Hom in gebed aan te roep. Ons neem tyd om onsself aan die Heilige Gees oor te gee en Hom te vertrou met al ons beplanning. Ons neem tyd om Christus se lewende teenwoordigheid in ons, ons eie te maak.

 

“O mens, troos jouself hieraan: Jy sou God nie gesoek het, as Hy jou nie reeds gevind het nie” (Blaise Pascal).

 

Gebed: Dankie Here dat u Gees my dring om U teenwoordigheid op te soek. Dankie dat U my bron van krag is. Bind my vaster aan die Gees wat in my woon. Breek my klein geloofswêreldjie oop en open my oë om U almag te aanskou. Maak my ‘n goeie draer van die evangelie met ‘n dienende gesindheid. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page