top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 25 Julie 2024

Koos Espach


Paulus gaan na Rome (1)

 

Wees mens vir ander mense

 

Hand. 27:1-3 – “Toe ons vertrek na Italië toe bepaal was, het hulle Paulus en ‘n paar ander gevangenes aan Julius, ‘n offisier van die keiserlike regiment, oorhandig. 2 Ons het weggevaar aan boord van ‘n skip van Adramittium wat by die hawens van die provinsie Asië sou aandoen. Saam met ons was Aristargos, ‘n Masedoniër van Tessalonika. 3 Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus en het hom toegelaat om sy vriende te besoek. Hulle het hom van die een en ander voorsien.”

 

Lukas gebruik weer die ‘ons’ in sy vertelling wat moontlik beteken hy het Paulus vergesel na Rome. Nadat Festus besluit het dat Paulus en dié wat saam met hom was, na Rome gestuur moet word, is reëlings getref hiervoor. Hulle en ander gevangenes is toevertrou aan die sorg van Julius, ’n offisier van die keiserlike regiment, d.w.s. dié afdeling wat ter eervolle onderskeiding na die keiser vernoem is. Wie die ander gevangenes was, weet ons nie. Heel waarskynlik misdadigers wat tot die dood veroordeel is en Rome toe gestuur is om daar voor die volk in die arena vir wilde diere gegooi gaan word. Hulle is nou Paulus se ‘medegevangenis.’ Hierby is daar ook matrose wat destyds bekend was as ‘n ‘woeste volkie.’ Grof en onbeskof van taal en maniere.  

 

Julius was tydens die hele reis tegemoetkomend teenoor Paulus, moontlik omdat hy Paulus te Sesarea reeds leer ken het en daarom agting vir hom gehad het. (Die mens, wie hy of sy ook al mag wees, moet doen wat God beveel – Julius het onder “Hoër Bevel” gestaan.) Hy het Paulus verlof gegee om in Sidon aan land te gaan en sy vriende te besoek. In Sidon was daar ’n Christelike gemeente wat gestig is in die tyd van die vervolging van Stefanus (Hand. 11:19). Hierdie Christene, wat hier “vriende” genoem word, het hom versorg en van die nodige voorsien.

 

Die “netwerk van vriende” in die antieke wêreld wat omgee vir mekaar, kom van ver af (Gen. 18: Abraham se gasvryheid). Dit het beteken dat jy selfs op jou vriende se vriende kon steun vir dinge soos huisvesting en hulp. Al het hulle jou nie persoonlik geken nie, kon jou vriendskap met hulle vriende tot jou voordeel gereken word. Hierdie beginsel is deurgaans in die vroeë kerk toegepas. Dit het gemaak dat die vriendskap onder die vroeë Christene en die kerk binne ‘n relatief kort tyd die destydse wêreld verower het.

 

Ons kan nie net ledige ontvangers wees van die genade van God nie. Ons verhouding met God, ons dissipelskap van Jesus, ons bekering, moet op konkrete maniere deurgevoer word ná of tót ons medemens. Almal in die wêreld moet weet dat God Hom in oneindige liefde in sy Seun Jesus Christus, neergebuig het na die totale mensdom in nood. Jesus spoor ons as sy volgelinge tot barmhartigheid aan: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, 35 want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36 Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek” (Matt. 25:34b-36).

 

Ons goeie dade moet egter nie verstaan word as ’n manier om ons saligheid te verdien nie. Ons saligheid kan nie verdien word nie. Dit ontvang ons as genadegeskenk deur geloof en op grond van die soenverdienste van Jesus Christus. Koninkrykskinders is elke dag in Jesus, ‘n mens vir ander mense.

 

Ons goeie dade is ook nie moeilik uitvoerbaar nie. Die dinge wat Jesus uitkies is maklik om te doen – honger mense kos gee; iemand wat dors is iets te drinke gee; gasvry wees teenoor vreemdelinge; ‘n sieke opbeur; ‘n gevangene in die tronk besoek …! Alles dinge wat enigeen kan doen vir mense wat ons pad daagliks kruis. In die hemel gaan ons God vir ewig dien. Ons kan nou al op daardie ewige diens voorberei deur op aarde te oefen. “Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ‘n arbeider … wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie …” (2 Tim. 2:15).

 

Natuurlik word opoffering vereis in terme van ons tyd en beskikbaarheid, maar verder niks wat buite my en jou vermoë is nie. Liefde, belangstelling, omgee en sorg kan almal gee. Om iemand se dag op te helder met ‘n gebaar van vriendelikheid en welwillendheid by ons werkplek of waar ook al, kan ‘n groot impak maak in ons dade van voed, klee, besoek ...! Ons liefdesdade teenoor ‘n behoeftige medemens dra krag. Dit dra nie reddingskrag om ons saligheid by God te verdien nie, maar dit gaan wel om die finale dinge van die lewe – dinge wat “gedoen is aan die geringstes” (Matt. 25:40). As ons Redder en Koning, vra Jesus dat ons as sy volgelinge, sy voorbeeld sal volg en sal antwoord op sy liefde, en mens vir ander mense sal wees – omgee mense met liefde en genade oor alle politieke, ekonomiese, nasionale en kerklike grense heen.

 

“Om jammer te voel is menslik, maar om barmhartigheid te bewys, is goddelik” (Heinrich Zscohokke).

 

Gebed: Here, dankie vir U volmaakte voorbeeld van vriendelikheid, barmhartigheid en omgee vir vreemdelinge, verdruktes en sondaars. Help my deur U Gees om U voorbeeld te volg. Dit gaan tog nie om beloning te ontvang nie, maar uit dankbaarheid wat U reeds vir my gedoen het. Laat my liefdesdade nie net woorde en lippetaal wees nie, maar dade wat in opregtheid bewys word. Amen.

Commentaires


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page