top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 26 Julie 2024

Koos Espach


Paulus gaan na Rome (2)

 

Liefde in die gemeente = gasvryheid

 

Hand. 27:3 – “Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus en het hom toegelaat om sy vriende te besoek. Hulle het hom van die een en ander voorsien.”

 

Vergelyk ook Rom. 12:13 – “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.”

 

Met betrekking tot gasvryheid, wil ons vandag verwys na Paulus se brief aan die jong Christene wat in die groot wêreldstad Rome, hulle pad moes vind. In Romeine 12:9-16 is dit asof hy vinnig, kort en afgemete riglyne aan hulle wou gee, riglyne wat vandag steeds van toepassing is. Christelike gasvryheid is een van die mees praktiese maniere om lede van God se ‘huisgesin’ in hulle nood by te staan. Vergelyk ook Hebreërs 13:2 – “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” (Verwysing na Abraham in Gen. 18:1-5).

 

Paulus se riglyn om ons genadegawes prakties uit te leef in die gemeente, behels twee opdragte: “Hulp aan die medegelowiges en Christelike gasvryheid.” Oorlewering wil dit hê dat sommige Romeinse Christene van hierdie jong gemeente aan wie Paulus sy brief rig, hulleself as slawe verkoop het om met hulle koopprys, mede gemeentelede wat in nood verkeer het, te help. Omdat die liefde die selfsug oorwin, het dit die gelowiges geleer om voorsiening te maak vir die minderbevoorregtige gelowiges en na gasvryheid te streef. Wat is ons Christelike roeping in hierdie verband? Watter konkrete verantwoordelikheid lê die Here deur Sy Gees op ons hart?

 

Jesus het self vir ons die wonderlike voorbeeld gestel waar liefde en selfsug oorwin word toe Hy die skare gevoed het met vyf broodjies en twee vissies (Joh. 6:1-15). Jesus se liefde vir die massas wat Hom nie regtig wou volg nie, was 'n groter wonder as die vermeerdering van die brood en vis. Hy het geweet hulle wil méér wondertekens sien; geweet hulle gaan Hom binnekort verlaat en verwerp; geweet hulle gaan aandadig wees aan Sy dood! Ten spyte daarvan, gee Hy sóveel om, is Sy liefde so geweldig dat, ten spyte van hulle verkeerde motiewe, Hy steeds in hulle behoeftes voorsien. Hy stamp nooit iemand weg wat na Hom toe kom nie (Joh. 6:37). Hy maak tyd, Hy is nie geïrriteerd nie, Hy laat hulle nie aan hulself oor nie!

 

Daar is vandag nog steeds baie mense wat Jesus verkeerd verstaan en só 'n tipe Jesus wil hê soos die destydse massa. Hulle wil hê só 'n Jesus moet Sondae van die kansel af gepreek word. 'n Jesus wat vir hulle kan bedien – wat dáár is vir hulle. Iemand wat hul hongerpyne kan stil of hulle Vryheidsvegter kan wees om hul polities te bevry. Terwyl die Jesus van die Bybel die Seun van God is, kan ons nie met ons moderne harte allerlei modelle van Hom maak wat nie ooreenstem met Wie en Wat Hy is nie. Hy het ons kom vry maak van die bande van die dood en die verderf. Gelukkig is Hy ook Voorsiener en sal Hy met liefde aan ons behoeftes voorsien op Sy manier en Sy tyd.

 

Een van die roerendste aspekte van Christenwees is dat vreemde mense ons gesinslede word omdat hulle, soos ek en jy, God as Vader het. Dít is immers die gebod wat Jesus aan al Sy dissipels, wat ons insluit, gegee het: “ ... Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê” (Joh. 13:34). So word die broeder- en susterliefde die uitkenningsteken van Christene: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh. 13:35). Dit is só ‘n oneindige voorreg om Jesus Christus deur ons lewenswyse aan ander te demonstreer. As ek en jy elke dag met toewyding vir Christus leef, kan ons teen slapenstyd met vrede en vreugde van die Here gaan lê. Die duiwel se werk daarenteen, is om ons verhouding met die Here te versteur en hy wil hê ons moet moedeloos wees en nutteloos voel. Waarop fokus ek en jy?

 

As Christene voel ons soms so nietig en ontoereikend. Ons is bewus van ons geringheid as “lewende offer” en daarom volg gewoonlik ‘n magdom redes hoekom ons nie ‘n dienskneg in God se koninkryk kan wees nie. Daar is werk vir almal in Sy koninkryk en niemand hoef oorbodig te voel omdat hy/sy nie besondere gawes of vermoëns het nie. Die alvermoënde Christus kan wonderwerke verrig met die nederigste dissipel. En dan kom Paulus en sy woorde raak, wat ons omstandighede betref, ‘n teer snaar aan. Hy moedig ons gelowiges aan om ander Christene in hulle nood by te staan en gasvry te behandel.

 

Al ken ons nie mekaar persoonlik nie, moet ons gemeenskaplike geloof in Jesus ons saambind as broers en susters. Gasvryheid en hulp in nood beteken ons hart en hande moet uitgestrek wees in diens aan ander, dan is daar geen perke aan wat God deur ons as toegewyde en gehoorsame instrumente kan doen nie. Jesus kon baie doen met min! Hy kan steeds baie doen met min! Liefde in aksie beteken om iets vir ons naaste te doen, al is dit hoe gering. Dit is die noodsaaklike verantwoordelikheid wat die Here deur sy Gees op ons harte vandag lê.

 

“In a world bent on getting, the Christian is bent on giving, because he knows that what we keep we lose, and what we give we have” (William Barclay).

 

Gebed: God van geleenthede, ek voel soms so nietig en ontoereikend en dan vloei die verskonings van te veel werk, tyd maak vir my gesin, sosiale verpligtinge nakom en so nou en dan ontspan ook, oor my lippe. Ek het net nie genoeg tyd en energie oor om nog die dinge wat U Evangelie van my vra, óók te doen nie. Here, vergewe my, alles wat ek is en het kom van U, maak my diensbaar in U werk. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page