Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 16 Julie 2024
Koos Espach
Paulus vertel van sy bekering (3)
Almal staan skuldig voor God
Hand. 26:17-18 – “Ek sal jou beskerm teen die volk Israel en teen die heidennasies na wie toe Ek jou stuur. 18 Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.”
Paulus kry kans om sy storie te vertel, ‘n kans om te vertel hoe sy eie lewe verander het. Hy beskryf verder wat die opdrag was wat die lewende Christus hom gegee het. Die inhoud van sy sending behels kortliks om die oë van die blindes oop te gaan maak sodat hulle die lig van die evangelie kon sien. In hierdie proses moes hy die mense oproep om uit die kloue van satan te kom deur hulle tot God te bekeer. Bekering tot Christus is die enigste toegang tot ‘n nuwe lewe, ‘n lewe waar jou sondes vergewe word en jy opgeneem word as deel van God se volk. Daar is geen ander manier nie.
Paulus noem nie name nie, maar hy staan voor Agrippa en Bernice. Sy geboeide hande is uitgestrek en hy kyk hulle in die oë. Treffend kom dit: “Ek moes hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van Satan tot God kan bekeer...” Paulus sê dit nie, maar Agrippa en Bernice moes seker hier hulle eie verblinde en sondige toestand begryp het. Dit het hulle egter nie tot inkeer en bekering gestem nie. Sonder om te veralgemeen, is daar vandag steeds talle mense wat nie die treffende boodskap van Paulus wil hoor nie. Hulle is van nature blind en sien nie die waarheid van God nie. Op hierdie wyse is hulle nog blootgestel aan die toorn van God. God self moet hulle oë oopmaak, en daarvoor moes die werk van Paulus gebruik word.
In sy brief aan die Romeine stel Paulus dit duidelik: Sou God die mensdom aan ‘n soort ‘godsdienstoets’ onderwerp het, die uitslag kort en kragtig wees: “Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. 10 Daar staan immers geskrywe: ‘Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (Pred. 7:20); 11 daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. 12 Almal het afgedwaal, almal het ontaard (Ps. 14:2-3). Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie” (Rom. 3:9-12). Sjoe! Raar maar waar! Sou ek en jy die ‘godsdienstoets’ slaag?
Paulus bring sy argument oor die sondeskuld van die Jode en heidene, eintlik van álle mense, tot die slotsom deur ‘n donker prentjie te skets: “Almal is in die mag van die sonde.” Om sy punt verder te beklemtoon dat die mensbeeld wat hy aanhaal, nie net sy persepsie is nie, maar bevestig is in die Bybel. Hy haal uit die Ou Testament nie minder as elf keer aan om die basiese oorsaak van die mens se sondigheid te onderstreep. Net in die eerste twee verse noem hy letterlik ses keer dat “daar nie een is” wat God se wil doen nie. Soos ‘n string pêrels ryg hy elke negatiewe “pêrel” in en voltooi die string met “almal het ontaard.”
Voel jy wat hier lees nie hoe die protes in jou opstoot terwyl Paulus hierdie somber prentjie skets nie? Ons protesteer: “Paulus, wag ‘n bietjie, ek weet darem nie, alle mense is nie werklik só sleg nie! Jy kan nie álmal onder dieselfde kam skeer nie, daar móét goeie mense ook wees.” Wat Paulus egter wil beklemtoon is die feit dat almal nie ewe siek is nie, maar wel ‘n sonde-siekte het. Die mens het elkeen op sy eie manier die verhouding tussen God en hom vertrap, God se wil met sy eie wil vervang!
Ons leef in ‘n wêreld waar die verlaging van lewenstandaarde ‘n norm geword het – standaarde van eerlikheid, van ywer, pligsgetrouheid en morele standaarde – soms blyk dit dat daar geen standaarde meer bestaan nie. Elkeen maak sy eie standaarde volgens sy eie wil. God word feitlik nêrens in die wilsbesluite van die mens ingesluit nie en oor die verkeerde wil van sonde-diagnose, is daar al boeke vol geskryf. Dit is bekend in wie se geselskap mens kán ontspan en wie se geselskap standaarde verlaag. Party mense raak die mooiste woorde kwyt as hulle in godsdienstige kringe is, maar elders praat hulle ‘n soort taal wat nooit enige beskaafde woordeboek sal haal nie.
Tydens Jesus se eerste openbare optrede langs die See van Galilea, gee Hy in Sy Bergpreek aan ons as sy volgelinge ‘n kompliment wat ewigheidswaarde het! Jesus dui aan hoe ons die verrotte “wêreld” moet beïnvloed. Hy stel dit feitlik dat ons, onder andere “die sout is vir die aarde”(Matt 5:13). Om vir my en jou te sê ons ís die sout vir die aarde, is ‘n kompliment. Jesus wil daarmee ons nuttigheid beklemtoon.
Die vraag is hoe ons as sout nuttig kan wees in ‘n verrotte wêreld? Die Christen is die voorbeeld van suiwerheid en reinheid – suiwer van spraak, gedrag en selfs gedagte. Ons kan nie ons standaarde verlaag in ‘n wêreld wat besmet is met die verloklikhede van sonde nie. Ons kan ons ongelukkig nie onttrek van hierdie wêreld nie maar ons kan wel alles in die stryd werp om ons skoon te hou van die besmetting van die wêreld. Ons is ín die wêreld maar nie ván die wêreld nie. Ons is God se soutkinders, nie Sy stoutkinders nie. Ons is mos nie skaam vir ons andersheid nie. Ons ís sout vir die wêreld. “Wat (ons) sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en (ons) moet weet hoe (ons) elkeen behoort te antwoord” (Kol. 4:6).
“The saltless salt or the non-Christian Christian will not only be thrown out as useless trash in God’s sight, but will also be trampled underfoot by men” (Brian Schwertley).
Gebed: Here, my mensheid het beperkinge maar ek roem in U krag – daardie krag wat juis in werking kom wanneer ek swak is. Wanneer ek as sout vir hierdie aarde swak word, maak my asseblief weer bruikbaar. Ek vra dit in diepe afhanklikheid tot U eer. Here, help asseblief. Amen.
Comments