Gedagte vir Vandag
13 Okt 2020
Koos Espach

Paneas waar die heidense afgod Pan vereer is, met die ruïnes van die tempel in die voorgrond.
JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.
(Matt. 13:54–16:20)
DIE BELYDENIS VAN PETRUS (1)
(Mark. 8:27-30; Luk. 9:18-21)
OM CHRISTUS TE KEN!
Matt. 16:13-14 – “Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: ‘Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?’ Hulle antwoord: ‘Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”
Vergelyk ook Deut. 18:18 – “Ek sal ‘n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy (Moses) wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel.”
Jesus en Sy dissipels vertrek vanaf Betsaïda en trek noordwaarts na die dorpe rondom die stad Sesarea-Filippi wat geleë is by die Jordaanrivier se oorsprong aan die voet van die berg Hermon se suidelike hang, ongeveer 40 kilometer noord van die See van Galilea. Dit was vroeër as Paneas bekend aangesien die heidense afgod Pan (Baäl) daar vereer is. Later is daar ook ’n tempel ter ere van keiser Augustus gebou. Herodes-Filippus herbou die stad en noem dit Sesarea ter ere van Augustus, met die toevoeging van sy eie naam om dit van die bekende Sesarea aan die kus te onderskei. Die plaaslike inwoners was hoofsaaklik heidene. In hierdie omgewing vind die belangrike gesprek oor die persoon van Jesus nou plaas.
Die vraag wat Jesus aan die dissipels stel, dien om hulle tot ’n persoonlike belydenis te voer en het dus groot sielkundige en opvoedkundige betekenis. Om hulle daartoe te lei, het Jesus juis hierdie omgewing opgesoek waar Hy nie deur die skare of deur teenstanders omring sou wees nie. Tot op hierdie tydstip het Hy sy dissipels onderrig aangaande die nabyheid van die koninkryk van God en deur Sy woorde en werk laat blyk dat Hy die verwagte Messias is. Voortaan leer Hy hulle openhartig dat Hy die Christus is, maar dan die Christus wat deur lyding, dood en opstanding tot heerlikheid sou volg.
Wanneer die dissipels moet antwoord “op wat die ander mense” van Jesus sê, ontbreek dit nie aan vrymoedigheid van hulle kant af nie. Dit is duidelik dat Jesus die mense beïndruk het, en dat hulle in Hom die een of ander groot profetiese figuur uit die verlede sien. Teenoor die mense se opvattings en die ongevoeligheid van die volksleiers met hul ongeloof en vyandigheid, wei die dissipels gemaklik uit oor Jesus se vraag. Sommige meen dat Hy Johannes die Doper is wat uit die dode teruggekeer het om met meer krag as voorheen, die koms van die koninkryk te verkondig; ander dink aan Elia, die voorloper van die Messias; terwyl sommige gesê het Hy is Jeremia, die groot boeteprediker voor die ballingskap, “of een van die profete.” (Opvallend is almal wat genoem is, profete.)
Dit is ook belangrik om te weet op watter tydstip van Sy aardse bediening, Jesus hierdie vraag aan Sy dissipels stel. Dit was nog op die toppunt van Sy lewe. Oral waar Hy optree, is Jesus omring deur ‘n menigte mense en wek Hy belangstelling deur Sy wonderwerke en genesings. “Oral waar Hy verskyn, bring Jesus beroering. Daar bly niks onaangeroer nie, alles word in ‘n ontmoeting met Hom verander” (Helmut Thielicke).
Die mense kon egter nie tot die korrekte siening van wie Hy werklik is, kom nie. Hulle het nie in dieselfde, direkte verband tot Jesus, as Sy dissipels gestaan nie. Met respek wonder ek of Jesus werklik omgegee het wat die mense van Hom sê? Ek meen, Hy is immers werklik die Groot Profeet. Moses het eeue voor dit beloof dat God ‘n profeet sal stuur (Deut. 18:18); al dink hulle sleg van Hom, dan is Hy nog steeds die Seun van God; dink hulle goed van Hom, kan Hy nie méér word as wat Hy reeds ÍS nie!
Ons leef in ‘n wêreld waar ons omgee wat ander van ons dink of sê. As hulle goed dink van my, voel ek goed. As hulle sleg dink, druk dit my in ‘n depressief in! Jesus weet egter dat ons opinie oor Hom niks kan verander aan Hom nie, maar dit kan ‘n wêreld se verskil maak aan óns. Lees dit weer. Vir ons beteken ons opinie oor Jesus, die verskil tussen die ewige lewe of ewige dood!!! Daar is miljoene mense wat steeds nie in Jesus glo nie, of selfs ‘n prentjie vorm van ‘n Jesus wie hulle dink Hy is. Die gevaar is dat hulle die grootste ontmoeting van hulle lewe misloop, net omdat hulle Jesus nie herken en dan wil erken nie.
Daar is ‘n betekenisvolle verskil tussen blote kennis van Jesus en om Hom persoonlik te ken. Wanneer ek en jy onsself deur die werk van die Heilige Gees volkome en onvoorwaardelik aan Hom oorgee, sal die Gees binne ons begin werk. Dit hang natuurlik af op watter manier ons die Gees toelaat om beheer van ons lewe oor te neem. Indien ons die Gees toelaat om ons te beheer volgens Sy wil, sal Hy ons lei op die pad wat ons hemelse Vader deur sy Seun Jesus Christus vir ons beplan het. “Al wat ek wens is om Christus te ken” (Fil. 3:10a) soos Hy werklik is, nie ter wille van Homself nie, maar ter wille van mý! Wanneer ons Jesus se juk wat ongelooflik lig en sag is op ons neem en van Hom leer deur die leiding van sy Gees, dan wandel ons daagliks met die Here op Sy uitgestippelde pad. Wandel jy saam?
“Geestelike volwassenheid word nie bereik deur geleerdheid nie, maar deur gehoorsaamheid aan die geopenbaarde wil van die Here” (DW Lambert).
Gebed: Jesus, ek wil U nie net ken nie, ek wil U lééf! Help my om U lering te verstaan deur u Gees in my. Lei en leer my daagliks om met U te wandel in my doen en late, in my stryd en strewe, in my woorde en dade. “Laat my lewe steeds deur u Gees beheers word” (Gal. 5:16). Amen.
Comments