top of page

Gedagte vir Vandag

23 April 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (71)

(Matt. 16:21–25:46)


Die vraag oor Jesus se gesag (5)

(Mark. 11:27-33; Luk. 20:1-8)


Moses getuig op wie se gesag Jesus optree!


Matt. 21:23-25 – “Jesus het na die tempel toe gegaan, en terwyl Hy besig was om die mense te leer, kom die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk na Hom toe en vra: ‘Met watter gesag doen U hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?’ Toe antwoord Jesus hulle: ‘Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af?”

Vergelyk ook Joh. 5:44-47 – “Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie? Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, op wie julle julle hoop gevestig het, wat vir julle aankla. As julle Moses geglo het, sou julle in my geglo het, want hy het van My geskrywe. Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle My woorde glo?”


Die godsdiensleiers wat hier in konflik met Jesus verkeer, se daaglikse lewe was gekenmerk om deur mense geëer te word. Hulle het mooi klere aangetrek sodat hulle uitgestaan het tussen ander en maklik herkenbaar kon wees. Hulle het gebid daar waar almal dit moes sien. Hulle het die voorste gestoeltes in die sinagoges beset. Hulle het die erkenning van mense op straat geniet. Hulle was die sogenaamde elite, maar ... hulle kon nie die stem van God hoor nie! “Hulle is gesteld op die eer wat hulle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie.”


Die redes – terwyl ek en jy onsself meet teenoor ons naaste, maak dit ons doof vir die stem van God. Dan is dit ‘n geval van “ek is nou wel ‘n sondaar, maar darem nie so erg soos Jan of San nie.” Terwyl ek en jy onsself vergelyk met ander mense, is daar verskriklik baie plek vir selfvoldoening. “Ek is net die beste,” ontruim die plek van God. As ons in die spieël kyk sien ons hierdie pragtige, perfekte mens en dit maak geloof dood, want ons glo soveel in onsself dat daar nie plek vir geloof in Jesus Christus is nie. En geloof word gekweek deur nood! Geloof is genade. Geloof is die één emosie wat die spektrum van ons hele lewe omvat.


Hoe lyk ek en jy in God se spieël? Wanneer ek en jy onsself teenoor Jesus vergelyk, moet ons minder word en Hy meer (Joh. 3:30). Dan kom ons agter wat geloof is en dan besef ons dat daar niks oorbly as om op die genade van God staat te maak nie. Dan moet ons ánders as die godsdiensleiers van destyds wees (Matt. 6:20). Ware geloof in Jesus vat al die eer weg van onsself en gee dit aan God. Wanneer 'n mens na Jesus toe kom, gee jy die reg weg om ooit eer vir jouself te soek. Dit sny in teen die gewoontes van die gevalle mens.


Vervolgens besef ons dat Jesus die sout ‘n bietjie dieper invryf om te bewys dat Hy die Seun van God is, deur na Moses te verwys. Moses was vir die Jode die heel belangrikste persoon in die Ou Testament. Hulle daaglikse lewe is deur die wette van Moses gereguleer. Dit was immers deur hom wat God die wet aan Israel gegee het. Hulle het “hulle hoop op hom gevestig”. Die Ou Testament is deurspek van sy wonderlike dade wat God deur hom verrig het. Hy was die middelman tussen God en Sy volk.


Maar Jesus kom trek die mat onder hulle voete uit. Die Jode wat hulle toelê op die geskrifte van Moses en hulle daarop beroem dat hulle die wet van Moses onderhou, moet weet dat dit juis “Moses, op wie hulle hulle hoop gevestig het, wat vir hulle aankla.” Jesus beklemtoon dat hulle nie moet “dink dat Hy hulle by die Vader sal aankla nie”; Sy taak is nie dié van aanklaer nie, dit is by uitstek die werk van die satan (Sag. 3:1). Jesus het egter gekom sodat dié wat in Hom glo, die lewe kan hê (Joh. 3:16) – Hy wil nie aankla nie maar red wat verlore is!


Die Jode het teen hulle eie tradisies, profete en God gedraai want hulle glo nie eers meer wat Moses geskryf het nie, maar eerder na die manier waarop die boodskap van Moses deur hulle gelees word. Hulle het hulle vasgekyk teen die letter van die wet en daardeur die belofte van die Verlosser uit die oog verloor. As dit gebeur met geskrifte wat hulle herhaaldelik kan lees en ondersoek, watter hoop is daar dat hulle die gesproke woord van Jesus sal glo? En omdat Hy die woorde spreek wat Hy van die Vader gehoor het (Joh. 5:30), beteken hulle verwerping van Sy Woord die verwerping van die Woord van God.


Die getuies van wie Jesus is en met wie se gesag Hy optree, het ons in die afgelope week se dagstukkies probeer saamvat. Nou die vrae: “Wie sê ek en jy, is Jesus? Of ons stem saam met die Joodse leiers van destyds (en baie ander mense vandag) dat Hy nie die Seun van God is nie, of ons aanvaar die getuienisse van die Doper, die Skrifte, van Moses en veral van God self, toe Hy beaam het tydens Jesus se doop: “Dit is My geliefde Seun, Oor Hom verheug Ek My” (Matt. 3:17). Die keuse is ons s’n. ‘n Keuse met ‘n waarskuwing – die keuse is tussen ewige lewe en ewige dood!


“Die hoofspoor van die geloof is om ‘n mens se hoop vir die lewe, jou hoop vir die toekoms, alleen op God en Sy beloftes te bou. Die meeste van ons kies egter die syspoor van ons eie planne”

(I.L. de Villiers).


Gebed: Jesus, ons Here, ek wil U kom loof vir die wonder van geloof. Dankie dat U self geloof in my hart gewerk het; dat ek seker mag weet dat U leef; dat U ‘n plan het vir my lewe. Here help my om aan U beloftes vas te hou al word nie één in hierdie lewe waar nie. Vergewe my wanneer ek nog twyfel aan U almag en U liefde vir my. Help my om my geloof uit te leef in alles wat ek doen en sê. Dankie dat U my elke dag geestelik versterk. Help my om dieselfde vir ander gelowiges te doen. Amen.

Kommentare


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page