top of page

Gedagte vir Vandag

12 Maart 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (68)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (14).

(Matt. 21:1–22:46)


Die vraag oor Jesus se gesag (3)

(Mark. 11:27-33; Luk. 20:1-8)


God die Vader getuig op wie se gesag Jesus optree!


Matt. 21:23-25 – “Jesus het na die tempel toe gegaan, en terwyl Hy besig was om die mense te leer, kom die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk na Hom toe en vra: ‘Met watter gesag doen U hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?’ Toe antwoord Jesus hulle: ‘Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af?”


Vergelyk ook Joh. 5:36-38 – “Maar Ek het getuienis wat nog gewigtiger is as dié van Johannes. Die werk wat die Vader My gegee het om te voltooi en waarmee Ek nou juis besig is, lê oor My getuienis af en bevestig dat die Vader My gestuur het. En die Vader wat My gestuur het, het ook oor My getuienis afgelê. Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en Sy gestalte ook nie gesien nie. En Sy woord lewe nie werklik in julle nie, omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie.”


Jesus gaan voort met Sy getuienis dat Hy die Seun van God is en sonder dat Hy dit aan Sy vraestellers wou bekend maak dat Hy op God se gesag optree, vertel Johannes ons dat Jesus op ‘n ander geleentheid, God as tweede getuie self gebruik het. Die beginwoorde “Maar Ek” stel Jesus op ’n meer verhewe vlak as die bloot menslike waarop Johannes die Doper beweeg. Hy beskik oor getuienis van bomenslike orde en wat daarom ook meer gewig dra as die getuienis van Johannes. Daardie “gewigtiger” getuie is die werke wat Hy doen “deur die Vader wat Hom gestuur het.”


Die “werke” is die Middelaarstaak wat Jesus gekom het om te voltooi, maar dit behels ook die afsonderlike wondertekens wat Hy gedoen het. Hierdie gesprek sluit juis aan by een van die wonderdade waar Jesus die sieke by die Betesdabad genees het. Daardie dade was sigbaar en bewysbaar en spreek meer oortuigend as woorde.


Nog ‘n voorbeeld is Jesus se antwoord aan die Doper se boodskappers toe die Doper uit die tronk uit, getuienis gesoek het dat Jesus werklik die Messias is: Jesus het Johannes se boodskappers beveel om aan hom te gaan vertel wat hulle hoor en sien gebeur: “Blindes sien weer, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig” (Matt. 11:4). Dit is werke wat niemand anders kan doen nie – dit is werke van God wat in die Seun bly en aan die Seun die opdrag en bevoegdheid gee om die werke te doen – werke wat bewys dat Jesus meer is as ’n gewone mens: “Hy is die Seun van God wat deur die Vader gestuur is!” (Joh. 3:17).


“Getuienis wat nog gewigtiger is” as die Doper of die werke, is die merkwaardige woorde van God self deur ‘n engel van God wat aan Jesus se moeder, Maria die boodskap gebring het: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, ‘die Seun van God’ (Luk. 1:35).God sê Sêlf Jesus is heilig. Hy is van God self, die Heilige, afkomstig. As God heilig is kan Sy Seun nie iets anders wees nie.


‘n Dubbele bevestiging was tydens Jesus se doop. Die hemel het geskeur en die Heilige Gees het op Jesus neergedaal. Toe het God uit die hemel gepraat: “Jy is My geliefde Seun, Oor Jou verheug Ek My” (Mark. 1:11). God self getuig dat Christus sy geliefde Seun is, Sy uitverkorene om Sy verlossingsplan in werking te stel, dié Een oor wie God bly is.


Die Jode het dit egter nie aanvaar nie en blind gebly. Die redes daarvoor was onder andere: “Sy stem het hulle nog nooit gehoor nie en Sy gestalte ook nie gesien nie.” Destyds het God tot Moses en die profete gespreek en deur hulle Sy “stem” aan die volk hoorbaar gemaak; en in die volheid van die tyd het die Woord deur die koms van Jesus mens geword (Joh. 1:14), en was Sy woord in werklikheid die woord van God. Ook die gestalte van God het hulle nie gesien nie. Hy is wel die onsienlike, maar het tog Sy gestalte sigbaar gemaak aan Jakob by die Jabbok (Gen. 32:30-31), en aan Moses by Sinai, en Sy teenwoordigheid aan Israel vertoon in die wolkkolom – alles feite wat die Joodse leiers moes geweet het – maar steeds antwoord hulle: “Ons weet nie.” Maar sy gestalte word op ’n besondere wyse sigbaar in Jesus Christus, sodat Hy kan verklaar: “Wie My gesien het, het die Vader gesien” (Joh. 14:9).


Die derde rede was: “Sy woord lewe nie werklik in hulle nie”. Alles wat hulle van God en sy getuienis kan weet, is in sy Woord te vind, maar hulle omgang met die Woord van God het iets uiterliks geword. Die Woord het nie in hulle lewe ingedring en dit verander nie; daarom het hulle oë wat nie sien nie en ore wat nie hoor nie en ‘n verstand wat “nie weet nie”. En nou word verklaar dat die weiering om die getuies te glo, gegrond is in die weiering om Jesus, wat deur God gestuur is, te glo.


Die opklaring van alle verstandelike probleme wat tot ongeloof lei, is wanneer eers in Jesus geglo word, dan gaan die lig aan. Eers dán word dit moontlik om in Sy stem die stem van God te hoor, en in Sy gestalte die gestalte van die Vader te sien. Eers dan getuig ons harte saam dat die getuienis van God waar is: “Jesus is die Seun van God en Hy doen dinge op Sy gesag” (1 Joh. 5:9-10). Hierdie woorde open die venster waardeur ons in God se wonderlike verlossingsplan kan kyk. Christus kom word vir ongeveer drie en dertig jaar mens. Hy kom word wat Hy nooit was nie maar bly wat Hy is – Deur Sy geboorte uit Maria kom word Hy “die Seun van die mens” maar Hy bly nog “die Seun van God” wat Hy van altyd af was. So alleen kon Hy God by ons en ons by God verteenwoordig en ons met God versoen! Hy is die enigste gesag wat ek en jy kan aanvaar. Is jy deel van daardie keuse?


“God het Jesus aan ons kom voorstel deur daardie wonderlike openbaring van Hom wat Hom in staat stel om swakkes te help, die sondaar tot bekering te laat kom en almal aan te raak wat gebroke vlerke het sodat hulle weer kan vlieg” (Henry Ward Beecher).


Gebed: Here Jesus, dankie dat ek in U kan glo, al was ek nie ooggetuie van die wonders wat U gedoen het nie. Dankie dat U my enigste Here is, die Sentrum van my lewe en die Bron van my hoop. Help my om só te leef dat mense aan my leefwyse sal kan sien dat ek aan U behoort. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page