Gedagte vir Vandag
Woensdag, 23 Oktober 2024
Koos Espach
Die sonde en die straf (9)
Minder God = Minder mens
Rom. 1:29-32 – “Hulle is een en al ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; hulle is vol jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Hulle skinder en 30 praat kwaad; hulle haat God, hulle is hooghartig, aanmatigend, verwaand; hulle is mense wat kwaad uitdink, ongehoorsaam aan hulle ouers; 31 hulle is onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, hardvogtig. 32 Hulle is mense wat die verordening van God ken dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.”
Paulus gaan nou voort en lys 24 verdere slegte gedragspatrone van die mens, in hierdie geval die verdorwenheid van die heidene, wat selfs op dieselfde vlak as die vorige sondes, “heteroseksuele (v 24-25) en homoseksuele losbandigheid” (v 26-27), hanteer word. Daarmee wil hy eintlik sê: Só sleg lyk die lewe van die heidene wat aan hulle eie sondige self uitgelewer word. Die rede: Wie God misken, breek ook sy eie mens-wees af.
Namate God mense aan hulle sondige natuur “oorgee”, word die sedelike verval al erger en word mense se lewe al voller van die verkeerde dinge, alles natuurlik sondes waarvan Paulus hier melding maak. Hierin kom die magteloosheid van die mens sonder God na vore. Dit is duidelik waarneembaar, die mens kan hom- of haarself nie maak wat hy of sy volgens hulle eie insig, behoort te wees nie.
Paulus is besig om hier ‘n donker prentjie van die heidene te skilder. Die mens wat eintlik geskep is om God te dien en te verheerlik, God se verteenwoordiger, sy beeld te wees, maar in immoraliteit verval het. Voor ons egter die heidene, vir wie Paulus in hierdie gedeelte (vgl. ons opskrif), wil wys hoekom dit noodsaaklik is om die genadeboodskap aan hulle te bring, veroordeel, laat ons liewer hand in eie boesem steek en in die spieël na onsself kyk.
Kyk in die spieël en neem die duidelike beeld waar van die haglike omstandighede waarin die wêreldsdinge óns geplaas het. Dan moet ons skaam erken: ‘n Mens kan nie in immoraliteit verval nie, ons loop doelbewus met oop oë daarin, dis ons vrye wil. Hierdie aftakelingsproses is ‘n persoonlike keuse en dit is ook nie iets wat toevallig gebeur nie. Dit is gewoonlik die gevolg van ‘n lang proses wat uiteindelik oorgaan in dade. Die sonde binne ons vervang die goeie Godgegewe begeertes met perverse wellus. Niks verhinder ons méér daarvan om by Christus uit te kom, as ons onvermoë om te besef dat ons Hom nodig het, of die onwilligheid om dit te erken nie.
Jesus wil vandag binne jou en my hart en ons lewe kom staan soos Hy in die tempel gaan staan het en ‘n uitnodiging gerig het – “Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh. 8:12). Hy wil kom staan daar waar dit donker mag wees. Hy wil ons vooruitgaan en gaan wag daar waar Hy weet dit dalk vir my en jou nag en donker kán raak! Hy gaan staan in ons donker om dit Lig te maak. Hy wil Sy plek kom inneem in ons lewens wat in die donker vasgevang is en wat smag na sy ewige Lig.
Dit beteken ons moet gewillig wees om met dit wat aanleiding gee tot die sonde, te breek. Ons moet ontslae raak van die ou mens wat na hartelus en harteloos volgens die begeertes van ons sondige natuur leef, en net so nou en dan God wil dien. Alleen kan en sal ons egter nie suksesvol wees nie. Elke keer wanneer satan sy suksesvolste verleidingstegniek van die sensuele en seksuele aan ons voorstel, moet ons hom troef met: “Weerhou my van ‘n nuttelose lewe, Heer. Laat my leef op die weg wat U my aanwys” (Ps. 119:37).
Die persoonlike verhouding met God moet herstel word. God moet weer God van ons lewe word! Die afstand wat deur opstand en afdwaling na die wêreld onstaan het moet oorbrug word. Die keuse van “onderwerping” gaan dan gepaard met ‘n daadwerklike handeling: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog” (Jak. 4:8-10). Daar is net één oplossing vir hierdie krisis waarin die wêreld wat heeltemal in sy lot oorgelaat is en God misken: Jesus Christus. Slegs Hý kan mense hulle menswaardigheid teruggee!
“The man who banishes God not only loses godliness; he loses manhood too” (William Barclay).
Gebed: Dankie Jesus dat U my naam en adres ook geken het toe U vir my aan die kruis gesterf het. Laat my dan lewe soos ‘n mens van die Lig en weerhou my om mee te doen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis. Amen.
Comentarios