Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 22 Oktober 2024
Koos Espach
Die sonde en die straf (8)
Onder nuwe bestuur
Rom. 1:28 – “En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is.”
Paulus wys derdens daarop dat die mens dit van geen belang ag om God te wil ken nie. Daarom gee God die mens oor aan hulle verdraaide opvattings sodat hulle doen wat onbetaamlik is. Perversiteit was in die destydse Grieks-Romeinse wêreld aan die orde van die dag. Generaals het byvoorbeeld ‘n “plesierknaap” saamgeneem op hulle veldtogte. Historiese bronne wil dit hê dat mans en vrouens, afgesien van hulle normale huweliksverhouding, onnatuurlike verhoudings aangeknoop het met ander en selfs groepseks beoefen het. Daar is dus ’n direkte verband tussen die heidene se verwerping van die kennis van God en hulle gebrek aan sedelike betaamlikheid.
Paulus was terdeë bewus van die versoeking van seksuele sondes waaraan die heidene blootgestel is. Sy argumente en opmerkings is vandag steeds baie relevant. In ons tyd waar boeke, tydskrifte, rolprente en TV-programme, buite-egtelike seksuele verhoudings as die normale leefwyse voorgehou word, het eintlik nog niks verander die afgelope twee duisend jaar nie. Media-adverteerders probeer hulle uiterste bes om verbruikers te oortuig dat alles geoorloof is – ons kan doen net wat ons wil. Daarmee sluit hulle aan by vandag se mense se aandrang op die reg om self te kies, self te besluit; om deur niemand voorgeskryf te word nie – die reg van die mens. Ja, ons het miskien ons eie reg, maar dis nie te sê ons is altyd reg nie.
Dit impliseer natuurlik ook dat ons sélf kan kies wat ons met ons liggame wil aanvang. Dit laat my wonder: Is vandag se mense anders as die mense van die Bybel se tyd? Paulus het eeue gelede al daaroor geskryf: “Daar is mense wat sê: ‘Alles is my geoorloof” (1 Kor. 6:12). Dit lyk nie of Paulus dáármee ‘n probleem het nie. My opinie is dat die probleem by die media-adverteerders lê wat ewe gemaklik die twee kwalifikasies wat Paulus aan dié stelling koppel, weglaat. As gelowiges kan ek en jy maar fyn luister na Paulus se raad: “Daar is mense wat sê: ‘Alles is my geoorloof.’ Ja, maar alles is nie heilsaam nie. Alles is my geoorloof, sê hulle. Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets laat verslaaf nie.”
Paulus het nie ‘n probleem met ons vryheid en ons reg om ons eie keuses te maak nie. Hy is ook nie ‘n spoil sport wanneer hy ons raad wil gee nie. Hy weet dat verkeerde keuses en misbruike, die mens se sogenaamde ‘verdraaide opvattings’, nie net ons liggame kan vernietig nie, maar ook ons gees. Paulus waarsku ons “om niks met seksuele losbandigheid te doen te hê nie want iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. 19 Of besef (ons) nie dat (ons) liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? (Ons) het die Heilige Gees wat in (ons) woon, van God ontvang, en (ons) behoort nie aan (onsself) nie: 20 ons is gekoop, en die prys is betaal. (Ons) moet God dus in (ons) liggaam verheerlik” (1 Kor. 6:18-20).
Ek en jy is met ander woorde onder nuwe bestuur. God het eienaarskap van ons lewe oorgeneem toe ons Christene geword het. Ons is nou onder hemelse bestuur, sê Paulus. Ook maar goed so. God het ons op die ‘markplein’ van die sonde en die dood aangetref, ons jammer gekry toe hy ons patetiese sondaars daar aangetref het, en ons losgekoop. Die koopprys was ontsettend duur: die bloed van sy Seun!
Jesus het met sy bloed betaal sodat ek en jy aan God kan behoort. Ons is losgekoop uit die greep van sonde wat seksuele losbandigheid insluit. Ons behoort volledig aan God en is nie meer ons eie baas met ons eie ‘verdraaide opvattings’ nie. Ons mag nie meer doen of sê wat ons wil nie. Indien ons iets wil doen of sê, moet ons eers toestemming by God kry. Hy is immers ons Eienaar en besluit hoe ons moet lewe. Gelukkig is God nie ‘n slawedrywer nie. Trouens, Hy is ons Vader. Hy wil net die beste vir ons hê. Hy het sy Gees as geskenk aan ons gegee om by elkeen van ons te bly. Die Gees verwag dat ons liggaam wat duur gekoop is, ‘n tempel van God sal wees waaruit aanbidding tot God ons Vader en sy Seun, ons Broer, sal opgaan.
“Give your life wholly to the Lord and experience a brand-new start. Die to yourself and live for Jesus! Turn to Him and you will find, silent strength down deep inside you, courage, hope, and peace of mind” (Anonymous).
Gebed: Here, dankie vir die voorreg om onder nuwe bestuur te wees. Dankie vir die voorreg dat my liggaam ‘n tempel vir U kan wees. Ek is só gelukkig om aan U as my genadige Eienaar te kan behoort. Ek wil U met my lewe dien. Help my asseblief Here! Amen.
Comentários