Gedagte vir Vandag
Maandag, 9 September 2024
Koos Espach
Paulus in Rome (8)
Geloof in Christus stimuleer selfvertroue
Hand. 28:30-31 – “Paulus het ‘n volle twee jaar lank in die huis gebly wat hy gehuur het, en hy het almal ontvang wat hom kom besoek het. 31 Hy het die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering.”
Vir twee volle jare het Paulus in sy eie gehuurde huis in Rome gebly, steeds onder bewaking van ’n soldaat. In sy brief aan die Filippense wat hy moontlik tydens hierdie gevangenskap geskryf het, meld Paulus dat sy gevangenskap tot bevordering van die evangelie gelei het. Sodoende het dit by die hele keiserlike lyfwag bekend geword dat hy ter wille van Christus in gevangenskap verkeer: “Deur my boeie is die meeste broers (wagte) ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig” (Fil. 1:14).
So sou Paulus in twee jaar aan meer as ‘n duisend Romeinse soldate die boodskap van heil gebring het. Niks hou Paulus terug nie, God se woord moet gehoor word. En soldate vertel mekaar alles. Paulus se wagte sou ook nie geswyg het nie – sy boodskap word in die Romeinse kaserne bekend en ook onder die keiserlike lyfwag. Nog meer, sommige van hulle het ook ‘broers’ geword soos hy aan die einde van sy brief aan die Filippense meld: “Die broers hier by my stuur vir julle groete. 22 Ook al die gelowiges en veral dié wat aan die huis van die keiser verbonde is, stuur vir julle groete” (Fil. 4:21b-22).
Hierdie getuienis van Paulus het die grondslag vir sy vrymoedigheid gelê gedurende die tydperk wat hy in boeie was in Rome. Iemand het gesê dat sy gevangenskap, sy geloof gestimuleer het tot selfvertroue. Hy het nie minderwaardig gevoel omdat hy ‘n gevangene was nie, inteendeel, hy het vertroue in sy vermoëns gehad. Dit laat ons wonder wat ons sou gedoen het as ons in Paulus se skoene, oftewel sy sandale, in sulke omstandighede was? Miskien moed opgegee of die hele dag gesit en ons lot bekla het. Of eerder voluit in Jesus se voetspore gevolg het soos hy.
Vir Jesus Christus, moes hy ten eerste sy goeie naam binne die Joodse geledere prysgee. Uit die stam van Benjamin het hy al die regte ‘papiere’ gehad: besny op die agste dag; ‘n wetsgehoorsame Fariseër. Toe ontmoet hy Jesus daar op die Damaskuspad, en hy ‘gee’ alles wat vir hom belangrik was, weg. Sou ek en jy dit ook kon doen? Voor ons dalk te vinnig antwoord, behoort ek en jy eers in oënskou neem wat toe met hom gebeur het.
Paulus se enigste doelwit nou was om Christus te eer. Dit het vir hom baie lyding en vervolging meegebring. Tronkstraf, beledigings, lyfstraf, om maar net ‘n paar negatiewe te noem, was daarna sy voorland. Hy het egter nie omgegee nie. Al wat saak gemaak het, was om Christus se wil te ken en dit ook te doen. Ek weet nie van jou nie, maar dit sou nie juis my geloof gestimuleer het tot selfvertroue nie.
Daar is baie Christene wat onseker is en minderwaardig voel. Baie van hierdie gevoelens word beïnvloed deur negatiewe faktore in hulle lewens, wat nie nou belangrik is om uit te lig nie. Hulle besef wel dat hierdie gevoelens nie tuis hoort in die lewe van kinders van God nie, maar meeste is magteloos om iets daaraan te doen. Baie begin dan daarmee saamleef en die gevolg is dat hulle heen en weer geslinger word deur die lewenstorms en voortstrompel agter maskers van innerlike seer, maar uiterlik ly hulle aan die ‘dit-gaan-goed-met-my-dankie’ sindroom. Sommiges antwoord selfs hulle moet pille drink om sleg te kan voel.
God se oplossing vir onsekerheid en minderwaardigheid, is ‘n lewende en positiewe geloof in Hom. Soos ‘n Paulus moet ons ons volkome wy aan Hom, dan woon Hy deur sy Gees in ons en kom Hy deur ons lewe tot openbaring. Sjoe, diep woorde! Maar, eintlik is dit logies. Omdat dit ondenkbaar is dat ons Almagtige Vader onveilig of minderwaardig kan voel, behoort ons as sy volgelinge in wie Hy woon, dit ook nie te ondervind nie. Ek en jy moet net meer bewus word van sy teenwoordigheid in ons lewe, dan sal ons meer afhankliker van Hom word. “As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee. Daarom is ons altyd vol moed ...” (2 Kor. 5:5-6).
Paulus het albei kante van die geloof geken: die kant van sukses, maar ook die swaarkrykant. Hy was in staat om sy terugslae te oorkom omdat hy geweet het dat sy God hom nooit sal los nie. Sy God het hom gedra selfs in tye wanneer hy ver verwyderd van God gevoel het. Hy het ook geweet dat God sy woord sal hou, wat die verskil in sy lewe gemaak het. Wat van my en jou? Miskien moet ons Paulus se raad volg en in Jesus Christus se voetspore probeer loop. Hy is bereid om ons hand te vat en saam te stap. Geloof in Hom stimuleer immers ons selfvertroue!
“Laat ons God dan vertrou, en onsself troos aan die gedagte dat alles goed sal wees as dit volgens die wil van God geskied. Hy weet wat die beste is vir ons tydelike en ewige welsyn en vreugde” (Martin Luther).
Gebed: Dankie Here dat U my vrygemaak het en dat ek daarom die pad van die lewe met die teenwoordigheid van u Gees, vreesloos kan loop. Amen.
Comments