top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 13 Augustus 2024

Koos Espach


Die storm op see (8)

 

‘n Maaltyd as goue medalje

 

Hand. 27:35-36 – “Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem, God in die teenwoordigheid van almal gedank, dit gebreek en begin eet. 36 Hulle het almal moed geskep en self ook begin eet.”

 

Ons het gister genoem, sommige verklaarders is van mening dat Paulus hier besig was met die viering van die nagmaal, maar dit is onwaarskynlik dat hy dit omring van heidene sou doen. Of dit wel so was en of die twee honderd drie en sewentig mense aan boord die volle impak van die breek van brood en dank aan God verstaan het, weet ons nie. Wat op die skip gebeur het, kan ons gelowiges egter bevestig dat Jesus se liggaam vir álle mense gebreek is, sy bloed vir álle mense gevloei het. Paulus, Lukas en moontlik Aristargos, het dit geweet.

 

Dit het egter nie so gelyk vir Frankryk nie. Die Olimpiese Spele se openingsgeleentheid in Parys was gekenmerk aan walglike vertonings waarin drag queens die middelpunt van die vertoning gevorm het. Hulle het ook ’n direkte bespotting van Christus en Christendom gemaak deur te spot met die laaste Avondmaal. Onder hul gewaagde optredes was ‘n toneel wat gelyk het of Leonardo da Vinci se “The Last Supper” opgeroep is, met die drag queens en ander kunstenaars wat Jesus Christus en sy dissipels voorstel. Hierdie toneel het ons na die afstandbeheerder laat gryp en die TV is afgeskakel. “God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes”, skryf Paulus in Galasiërs 6:7.

 

Christene wêreldwyd was nie met dié toneel gelukkig nie en die media het gegons met vrae wat gedoen moet word? Wat doen die kerk? M.a.w., wat doen ek en jy, want óns is die kerk? Alle Christene in die wêreld is die kerk! Ons gemeente het ‘n brief aan die Franse Ambassade geskryf en namens Goudland Sinode, ons misnoeë te kenne gegee oor die walglike toneel. Die Spele organiseerders het inderdaad verskoning aangebied en die konteks probeer verduidelik.    

 

Dit was in Frankryk. Wat beteken die nagmaal nog vir my en jou? Het die nagmaal in baie gevalle nie vervaag in ‘n blote tradisie of gewoonte nie – ‘n goeie Christelike gebruik wat ons elke drie maande nakom? Verstaan ons werklik nog of die nagmaal Jesus se grootste geskenk is wat Hy aan ons, sy kerk, sy tempels, kom gee het? Stephan Joubert sê die nagmaal is die “eerste prys in die kompetisie tussen lewe en dood.” Dit is ‘n maaltyd vir mense wat eens morsdood in hulle sondes was, maar toe in desperaatheid Jesus se hand vasgegryp het om hulle uit die sonde op te trek na ‘n nuwe oorwinnende lewe. Dis meer werd as ‘n Olimpiese goue medalje!

 

Wanneer ons deel in die nagmaal, deel ons dit met die heel belangrikste Persoon in die heelal, die Koning van alle konings en Heerser van alle heersers, Jesus Christus. Die aand voor sy kruisiging, het Jesus saam met sy dissipels die paasmaaltyd gehou en die nagmaal ingestel. “En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: ‘Neem, eet; dit is my liggaam.’ 27 Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: ‘Drink almal daaruit, 28 want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes” (Matt. 26:26-28).

 

Vir ons as kinders van die Here, vorm Jesus hier vier genadewoorde – “neem, breek, gee en eet.” Uiters belangrike woorde vir elkeen van ons. Jesus het my en jou sondes op Hom "geneem” om dit na die kruis te dra en sê daardeur: “Kom ‘neem’ by My sodat julle kan lewe en van dié lewe, vir ander kan ‘gee’. My liggaam is aan die kruis ‘gebreek’ sodat julle heelgemaak kan word. God het julle só lief dat Hy My aan julle ‘gegee’ het sodat julle ook liefde kan gee en nie terughou nie. ‘Eet’ van My geestelike voedsel sodat julle nie geestelik sterf nie: versterk julle geloof met die Woord van God, volhard in gebed en stel julle oop vir die werk van die Heilige Gees.”  

 

Tydens elke nagmaal is Jesus self die Gasheer. Hy deel spesiaal vir jou en my wat so bevoorreg is om saam met Hom te eet, die brood en wyn uit. Wanneer ons dit eet en drink, sê Hy sélf vir ons dat dit tekens is van Sy liggaam wat ter wille van my en jou gebreek is, en Sy bloed wat ter wille van ons sondes gevloei het. En die kersie op die koek is dat Hy só verheug is dat ons nie meer op pad na die verdoemenis toe is nie, dat Hy hierdie nagmaalsmaaltyd gereeld aanbied. Hy wil gereeld saam met ons eet net om ons oor en oor te verseker dat ons volledig nuut gemaak is, en Sy bloed ons skoon gewas het van ál ons oortredings. Ek en jy moet ons net elke keer goed voorberei vir ons ete saam met Jesus, dit is deur en deur die moeite werd!

 

Ek en jy is die eregaste by die nagmaal en ons vier fees saam met ons opgestane Here! As ons nie besef dat ons die opgestane Here by hierdie maaltyd ontmoet nie, het ons dit verkeerd gevier. Daarom is dit belangrik dat ons die nagmaal verlaat met die besliste wete dat ons saam met Jesus geëet het. Wat ‘n voorreg om saam met die belangrikste Persoon in die heelal te kan eet.

 

Neem my lewe, laat dit Heer, U gewy wees meer en meer. Ek sien elke keer uit na hierdie maaltyd saam met ons opgestane Jesus Christus, ons Here. En jy? Ons gemeente vier komende Sondag nagmaal en neem graag die vrymoedigheid om dié van julle vir wie dit prakties moontlik is, uit te nooi om dit saam met ons te kom geniet. Aan al ons E-Kerk lesers, ook dié in die buiteland, maak nagmaal weer ‘n prioriteit in julle lewe. Julle gaan verseker die eerste prys wen, naamlik ‘n ete saam met Jesus Christus.  

 

“’n Mens het twee monde: Die mond van jou maag en die mond van jou siel – jou geloof! As jy met die mond van jou maag die brood eet en die wyn drink, neem jy deur jou geloof Jesus se liggaam in jou hart in” (Johannes Calvyn).

 

Gebed: Dankie Jesus dat U bereid was om U liggaam vir my sondes te breek; bereid was om U bloed te stort sodat God my kan vergewe. Dankie dat U my elke keer wanneer ek nagmaal gebruik, herinner dat ek ‘n sondaar is, maar Goddank, dat ek vergewe is. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page