Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Jul 31, 2024
- 3 min read
Donderdag, 1 Augustus 2024
Koos Espach
Die storm op see (1)
Geloof verdryf vrees
Hand. 27:13-16 – “’n Ligte bries het uit die suide begin waai, en die manne het gedink dat hulle hulle plan sou kon uitvoer. Die anker is gelig, en hulle het so na moontlik aan die kus van Kreta gevaar. 14 Maar dit was nie lank nie toe waai daar ‘n stormwind van die land af, die Noordoos, genoem die Eurakilon. 15 Die wind het die skip meegesleur. Omdat dit onmoontlik was om die skip se boeg wind op te hou, het ons dit opgegee en wind af gedrywe. 16 Ons het ‘n bietjie beskutting gevind toe ons onderkant die eilandjie Kauda langs kom. Daar kon ons darem met moeite die bootjie van die skip in veiligheid bring.”
Paulus se waarskuwing om nie verder te vaar nie maar te oorwinter by Mooi Hawens, word in die wind geslaan. Die Romeinse offisier het besluit om die raad van die kaptein van die skip te volg en te probeer om die 80km seetog na Feniks aan te durf waar hulle sou oorwinter. Nie lank nadat hulle hierdie besluit geneem het nie, het die wind suid gedraai wat hulle kon help om Feniks binne enkele ure te bereik. Die wind het egter plotseling verander en hulle vaar hulle vas teen die gevreesde tifoon Eurakilon. Dié wind het die skip meegesleur. Dit het buite beheer geraak en kon nie meer gestuur word nie.
Die wind dryf hulle weg van die kus van Kreta af, die diepsee in. Op die skip is die gesant van God om die Evangelie van Christus ook na Rome te bring. Eers moes mense Paulus verhinder om dit te kon doen, nou word die vors van die natuurkragte ingeroep. En ons wonder: Laat God dit toe? Hy is soewerein en kan dit tot die uiterste toelaat. Nahum 1:3 sê die “Here kom in rukwind en storm”; Asaf het teen die vyande van die Here gebid: “Jaag hulle met u stormwind, slaan hulle uitmekaar met u orkaan. Laat hulle met skande daarvan afkom! Dan sal hulle weet wie U is, Here!” (Ps. 83:16-17). Die bootjie van die skip wat agter die skip gedryf het en in gevaar gestaan het om los te raak en so verlore gaan, het hulle met moeite in veiligheid gebring.
Paulus het seker op hierdie stadium gevoel om die Romeinse offisier en skeepskaptein te verwyt omdat hulle nie na hom geluister het nie. Wie luister in elk geval na die mening van ‘n gevangene? Terwyl die mag van die natuur in alle felheid op die skip losbars en dit nie meer beheer kan word nie, skryf Lukas hulle het opgegee. Die see soek sy prooi, maar die gesant van God is aan boord! Sy woorde was profeties. Goddelike wysheid was in sy uitspraak dat hy “kon sien hulle vaart gevaarlik sal wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie maar ook lewensverlies” (27:10). Hulle is egter veilig by God (Ps. 16:8).
Die les daarin vir ons gelowiges is dat ons veilig is by God. Christus het dikwels vir mense gesê om nie bang te wees nie. Met die storm op die see van Galilea het Hy dit vir sy dissipels gesê (Luk. 8:23-27). Hy het dit aan die bedroefde Jaïrus gesê toe sy dogtertjie dood is (Luk. 8:40); Hy het dit aan sy kerk gesê nadat Petrus uit die gevangenis vrygelaat is. Aan sy volgelinge het Hy gesê dat hulle vervolg en beledig sou word en dat daar allerlei kwaad oor hulle gepraat sou word, maar dat hulle nie bang moet wees nie (Matt. 5:11).
Jesus sê dat selfs die hare op ons koppe gertel is. Só groot is sy liefdesorg vir my en jou en só waak Hy onophoudelik oor ons as sy kinders. Elke onvriendelike woord wat vir ons gesê word, elke liefdelose behandeling wat ons deel word; elke lasterwoord wat ons hart deurboor – Hy weet daarvan. Hy waak oor my en jou. Christus vind niks in ons lewe té gering om Hom liefdevol daarmee te bemoei nie. Waarom sal ons dan nog bang wees? Saam met Dawid kan ons bely dat Hy selfs deur donker dieptes by ons is. In sy hande is ons veilig, daarom sal ons nie bang wees nie! Ons is veilig by God.
“Die wyse man bid in die storm tot God, nie vir beveiliging teen gevaar nie, maar vir bevryding van vrees. Dit is die storm van binne wat gevaar inhou, nie die storm van buite nie” (Emerson).
Gebed: Ewige God, my Skuilplek teen die storms, ek loof u Naam dat ek by U veiligheid mag vind. Laat my nooit U hand los nie, want U is my beskerming, my krag, my redding! Amen.
Komentáre