top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 20 Junie 2024

Koos Espach


Paulus word aangehou (6)

 

Kerngesonde mense begeer geregtigheid

 

Hand. 24:26-27 – “Feliks het die hele tyd ook gehoop Paulus sou hom omkoopgeld aanbied om los te kom. Daarom het hy hom so dikwels moontlik laat haal om met hom te praat. 27 Twee jaar later is Feliks deur Porcius Festus opgevolg. En omdat Feliks die Jode ‘n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat.”

 

Feliks het Paulus gereeld uit die tronk laat haal om met hom te praat. Hy het egter ‘n bymotief gehad. Hy het gehoop Paulus sou hom met geld omkoop om losgelaat te word. Feliks het wel bang geword. Paulus het spreekwoordelik op ‘n paar liddorings getrap, veral oor die hiernamaals en die sogenaamde oordeel wat daarmee gepaardgaan. Maar die geldsug, die geldgod Mammon het blybaar die deurslag gegee. Ten spyte van streng edikte (Lex lulia), was Feliks se oë en hart gerig op die donker mag van geld! Feliks het moontlik in Paulus ‘n losprys gesien wat baie geld kon beteken, veral na aanleiding van Paulus se melding oor die kollekte wat bymekaargemaak is tydens sy sendingreise.

 

Nou ja, en ons dink sulke soort korrupsie by hoëlui is sedert 1994 in ons land uitgevind. Toe nie! Dit kom al van lankal af. Dis miskien net hier verfyn, want hoe hoër die posisie, hoe beter die korrupte inkomste en hoe groter die kans om dit onder die mat in te vee. Paulus se eerlikheid het hom duur gekos. Twee jaar later is Feliks deur Porcius Festus opgevolg en het Feliks, Paulus as gevangene in Sesarea agtergelaat omdat Feliks die Jode ’n guns wou bewys. Sodoende het hy onregverdig opgetree teenoor ’n persoon wat hy minderwaardig beskou het en buitendien nie by almal populêr was nie. Feliks sou later miskien gedink het aan Paulus se woorde van geregtigheid – Feliks het byna al sy besittings verloor toe hy deur Nero teruggeroep is na Rome. Drusilla en haar seun het met die uitbarsting van Vesuvius by Pompeii omgekom.

 

Wat sê die Bybel oor onregverdigheid? “Die mense sal sê: Daar is tóg ‘n beloning vir die regverdige, daar is tóg ‘n God wat reg op die aarde laat geskied!” (Ps. 58:12). Jesus sê ons oë ontwikkel die ondeskeidingsvermoë van reg of verkeerd “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie” (Matt. 6:22-23). Wat bedoel Jesus met hierdie eienaardige stelling? Die Afrikaans is duidelik maar wat beteken dit? Miskien maak dit meer sin as ons dit in Engels ook lees: “If your eye is pure, there will be sunshine in your soul. But if your eye is clouded with evil thoughts and desires, you are in deep spiritual darkness. And oh, how deep that darkness can be!” (The Living Bible). 

 

Die oog word beskou as die “venster of lamp” van die liggaam waar lig ingelaat word. Die toestand van die venster bepaal hoeveel lig deurgelaat word. Indien die venster skoon, kleurloos, nie skeef en geen skerm (gordyn of blindings) het nie, sal die lig onbeperk inskyn en die hele vertrek verlig. Hoe neem ons waar? Beskik die lig wat deur die “lamp van die liggaam” oor enige geestelike waardes? Is ons oë op geestelike waardes of materiële waardes ingestel? Mense wat regverdig teenoor ander optree en wat graag wil hê dat geregtigheid geskied, beskik oor ‘n gesonde waardesisteem. Ongelukkig is daar diegene wat se visie “donker” is en onreg sal pleeg solank hulle daarmee kan wegkom. Dikwels speel eiebelang en gierigheid, onder andere, ‘n rol in die onreg wat mens pleeg, wat ander emosioneel kan seermaak en selfs hulle lewe kan kos.

 

Jesus verwys hier na die goeie en slegte. Die goeie oog sien nie altyd net die donker en slegte nie, maar neem die mooi dinge van ander in ag. Met die krag van die Heilige Gees neem ons dan ‘n wilsbesluit om reg en geregtigheid aan ons medemens te laat geskied. Ons is dan ligte wat skyn in ‘n donker wêreld want ons “venster” laat suiwer lig deur! Die slegte oog is om met geestelike donkerheid in jou rond te loop. Jy neem net inhaligheid en afguns waar, want jou oog is op aardse skatte gefokus. Jy wéét die beste, ís die beste en niemand sal jou kan verander nie. Die gevolg is dat dit onmoontlik raak om met jouself saam te leef, onmoontlik om met ander saam te leef en onmoontlik om met God saam te leef – “There can be no fellowship between the God whose heart is afire with love, and the man whose heart is frozen with meanness” (William Barclay).

 

Wat is my en jou keuse oor geestelike visie? Is ons oë gevestig op Jesus of is ons blik vasgevang op al die blink sondige dinge wat ons oë se fokus verander, en ons van God en ons medemens laat vergeet? God se koninkryk is die beste “besitting” wat ons kan hê, niks kan dit oortref nie, ons kan opgeruimd daaroor raak want dit is fenomenaal! Dit kan ook nie anders nie want dit is die plek waar hoop in plaas van wanhoop is, die plek waar donkerheid deur die ewige Lig verdring word, die begin van die ewige lewe!

 

As my en jou oë nie ingestel is deur God nie, maak ons oë ons lewe pikdonker. Wanneer God se lig nie in ons lewe skyn nie, maak dit nag binne-in ons. Ons aktiewe keuse het ‘n geweldige implikasie wat myne en joune kan wees, of nie gaan wees nie: die verskil tussen ewige Lig of ewige donker! Die keuse is myne en joune, ‘n keuse tussen reg en verkeerd; ‘n keuse tussen ewige lewe en ewige dood.

 

“Die oog is ‘goed’ as dit raaksien dat die enigste lig van Christus kom. Dit is die geheim: Om Christus as die Lig in my oog, en sodoende in my hart, en in my lewe te kry” (Andrew Murray).

 

Gebed: Ons Vader, daar is so baie donkerte in die wêreld van vandag. Baie roep in wanhoop uit: “Waar is God? Wys Hom vir ons. As Hy bestaan sal die wêreld nie vol ongeregtigheid wees soos nou nie.” Here, al wat ek kan antwoord is dat hulle na die mense moet kyk wat aan U behoort. Mense wat omgee, mense wat U wil, leef en doen. Stel my oë in sodat my visie gerig is op U koninkryk. Laat ek met alles binne in my, altyd ‘n wilsbesluit neem om reg en geregtigheid aan my medemens laat geskied. Amen.

Comments


Recent Posts