top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 7 Mei 2024

Koos Espach


Paulus word na Feliks toe gestuur (3)

 

Die deur staan oop

 

Hand. 23:25-29 – “Toe skrywe hy ‘n brief met die volgende inhoud: 26 ‘Van Claudius Lisias. Aan die hooggeagte goewerneur Feliks. Groete. 27 Die Jode het hierdie man gevang en hulle het op die punt gestaan om hom dood te maak toe ek met my soldate ingegryp en hom gered het, omdat ek te wete gekom het dat hy ‘n Romeinse burger is. 28 Omdat ek wou uitvind wat hulle beskuldiging teen hom is, het ek hom voor hulle Raad gebring. 29 Dit blyk dat hulle hom aankla oor twispunte in verband met hulle wet, maar dat hy niks gedoen het wat die dood of tronkstraf verdien nie.”

 

Die kommandant Claudius Lisias gee aan een van die offisiere wat Paulus tot in Sesarea sal vergesel, ’n brief aan die goewerneur om te verduidelik waarom Paulus na hom toe gestuur word. Die goewerneur Feliks word aangespreek as ‘die hooggeagte’, iemand met adellike status, met die implikasie van mag en gesag. (Nogal hoogaangeskrewe vir Feliks wat ‘n vrygelate slaaf was en a.g.v. nepotisme ‘n goewerneur geword het. Klink so bekend). Die geskiedskrywer Plinius het Feliks beskryf as onopgevoed en brutaal, iemand met die posisie van ‘n koning maar ‘n mentaliteit van ‘n slaaf.

 

Dis ‘n insiggewende brief waarin die kommandant homself beskerm, maar ook duidelik wil maak dat hy Paulus beskerm. Lisias se self-aanprysing van die eie ek gaan egter met ‘n halwe waarheid gepaard. Sonder om te veralgemeen, is dit nie ook maar die gewoonte van baie in ons politieke wêreld nie? Dit kom al van lankal se tyd af! Nooit die volle waarheid nie, pertinente verdraaiing van feite, maar altyd so dat eie eer, eie guns, eie bevordering, die beste gedien kan word. Wat egter van belang is, is die feit dat Lisias, Paulus onskuldig verklaar. Soos in sy Evangelie doen Lukas moeite om te beklemtoon dat die Romeine Paulus onskuldig vind. Net so het Pilatus geen skuld in Jesus gevind nie (Luk. 23:4).

 

Pilatus was van een ding oortuig: Jesus is onskuldig. Ongelukkig was Pilatus nie ‘n beginselvaste mens nie, hy glo een ding maar doen ‘n ander. Daar het geen grond vir ’n aanklag teen Jesus bestaan nie, maar tog waag hy dit nie om Jesus vry te laat nie. Hy lê die beslissing in die hande van die Jode en daardeur het hy beheer verloor oor die verdere verloop van gebeurtenisse. Deur ’n gebruik wat ’n vaste gewoonte geword het, naamlik dat ’n gevangene by die feesgeleentheid losgelaat word, wou Pilatus Jesus probeer loslaat en tegelyk aan die volk ’n guns bewys, maar hy het hom vergis. Hy wou die Jode probeer simpatiek stem teenoor Jesus en vra of hy die onskuldige “koning van die Jode” moet loslaat. maar hy bereik inderdaad die teenoorgestelde.

 

Pilatus stel hulle teenoor mekaar – Jesus Christus teenoor Jesus Barabbas (Matt. 27:17b) – Die Jode moet kies tussen Jesus Christus, Seun van dié Vader teenoor Jesus Barabbas, seun van ‘n vader. Ons staan elke dag voor keuses: God of sonde; Jesus of Barabbas? Ewige lewe of ewige dood! Wel, Jesus is die lewe! (Joh. 14:6). Die grootste geluk op aarde word gevind in die nuwe lewe wat ons in oorvloed ontvang van Jesus: “Jesus Christus het gekom sodat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh. 10:10).

 

Jesus het na ons toe gekom nie net om ons te vertel van die lewe hierna nie, maar om nou en hier vir ons die ewige lewe te skenk. Hy het dit moontlik gemaak dat ons waarlik kan lewe: “Wie die Seun (Jesus) het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie (Barabbas), het ook nie die lewe nie” (1 Joh. 5:12). Die hemel se deure staan vir elkeen oop wat die Seun kies. Elke sondaar wat op sy of haar knieë aangekruip kom met berou oor alles wat hulle verkeerd gedoen het, sal nooit voor ‘n toe deur eindig nie. God se genadige hand sal selfs ons sondeklere vervang met spierwit klere wat gewas is in die bloed van sy Seun. 

 

Nêrens in die Bybel word beweer dat alle mense Jesus Christus sal aanvaar omdat Hy ons sondeskuld op Hom geneem het nie. Sommige aanvaar Hom met blydskap en word gered, ander verstoot Hom en gaan verlore! Dit moet so wees. By God is daar nie amnestie vir almal nie. Christus is die skeidingmaker – Dis Hy of Barabbas! Niemand kan op die skeidingslyn met een voet aan Christus se kant, en die ander aan Barabbas se kant staan nie. Ongelukkig kan daar ook nie na willekeur heen en weer oor die lyn gespring word nie: “Wie nie teen ons is nie, is vir ons” (Jesus se eie woorde in Mark. 9:40). Dit hang natuurlik af wie ons kies – Jesus of Barabbas! 

 

“Ons mag vry wees om te kies, maar ons is nie vry om die gevolge van ons keuses te kies nie” (Selwyn Hughes).

 

Gebed: Dankie genadige Vader, dat U dit moontlik gemaak het dat ek onwrikbaar die lewe in Jesus Christus kon kies. Dankie dat ek met vrymoedigheid na U toe kan gaan, dat U deur nooit gesluit is vir U kinders nie. Amen.

 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page