top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 3 Mei 2024

Koos Espach


Paulus word na Feliks toe gestuur (1)

 

Die Woord van God kan nie geboei word nie

 

Hand 23:23-24 – “Die kommandant het toe twee kapteins laat roep en hulle beveel: ‘Maak twee honderd soldate, sewentig perderuiters en twee honderd spiesvegters gereed om teen nege-uur vanaand na Sesarea toe te vertrek. 24 Sorg dat daar rydiere is, sodat Paulus veilig na Feliks, die goewerneur, oorgebring kan word.”

 

Paulus se lewe was duidelik in gevaar in Jerusalem. Die kommandant, Lisias, kon dit nie bekostig om ’n Romeinse burger soos Paulus bloot te stel aan ’n sluipmoord nie. Hy kan nie nog tyd mors nie. Paulus moes daarom dieselfde nag onder streng bewaking na Sesarea gestuur word. Hy sou veiliger by die goewerneur wees en hy mag nie by Feliks as ‘n minderwaardige behandelde aankom nie.

 

So beskik die Here 470 Romeinse soldate, byna die helfte van die garnisoen van Jerusalem, om Paulus te verlos uit die hande van die 40 Joodse sluipmoordenaars wat voor die Here ’n eed gesweer het om Paulus dood te maak. Lukas meld nie wat het van hulle geword nie – dalk omgekom van honger en dors.

 

Jesus se woorde eggo hiermee aan Petrus met sy gevangeneming in Getsemane: 53 “Of dink jy ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir my meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. 54 Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?” (Matt. 26:53-54). 

 

Jesus het meer as twaalf legioene engele tot Sy beskikking gehad. ’n Legioen was 6 000 man sterk, d.w.s. 72 000 engele! Maar, Hy kies om die pad van die Skrif te volg, die pad van die Lydende Messias, die Een wat deur die kruisdood vergifnis vir die hele wêreld sal bring. Jesus het die wrede onreg van ‘n vyandige wêreld op daardie oomblik tydens sy gevangeneming in die gesig gestaar, tog het Hy geweet dat God Hom sal krag gee in sy donkerste oomblikke wanneer dit vir die mens, as onmoontlik lyk.

 

Jesus het Sy vertroosting in die Skrif gevind: “Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?” Die Skrif het ons Verlosser in perspektief gehou, soveel so dat Hy onwrikbaar was in die wete dat alles wat Hy ervaar, volgens sy Vader se plan was. Hy kon met volle vertroue aangaan omdat die Skrif Hom verseker het dat God steeds in beheer is. Daar is krag in sy Woord!

 

Die Woord van God sal my en jou op dieselfde manier lei. Daar sal tye wees wanneer gebeure rondom ons, ons ook verwar. Mense wie ons vertrou, sal ons teleurstel. Ons moet egter nooit toelaat dat die ontrouheid van ander bepaal wat ons doen nie. In tye wanneer ons toewyding aan die Here die grootste toetse moet deurstaan, moet ek en jy fokus op die Skrif, die Skrif wat lei en troos. As ek en jy daagliks ons verdiep in die Woord van God, sal ons nie van stryk af raak wanneer krisisse ons in ‘n donker hoek wil vaskeer nie. Die Woord moet ‘n riglyn wees vir ons elkedagse lewe. Fokus op Hom wat ons lewe nuutgemaak het deur Jesus aarde toe te stuur om ons met Hom te versoen en ‘n nuwe toekoms verseker het. Dank God vir Sy meesterplan!

 

Paulus het vir ‘n jong Timoteus geskryf: “Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ‘n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie” (2 Tim. 2:9). Hierdie woorde van Paulus is na 2 000 jaar steeds waar. Die evangelie wat hy daardie tyd verkondig het dat Jesus uit die dood opgestaan het, is die hartklop van die Christendom. As ek en jy of wie ook al, hierdie enkele onderstreepte sin vergeet, het ons die hele Christendom misgeloop. So sê Paulus oor en oor in sy briewe. Ek en jy moet saam met Timoteus opgeskerp word om hierdie sin te onthou. God se Woord kan nie geboei word nie. As ek en jy dit glo, is ons op die enigste regte pad na God se wêreld toe – die opgestane Christus het daardie pad verseker. Ons kan dit met ons lewe glo!

 

“Die Woord van God is soos ‘n bril wat die dowwigheid voor ons oë wegneem en ons ‘n helder blik op God se wil gee” (Johannes Calvyn).

 

Gebed: Dankie vir U Woord Here, dié Woord wat lewendig en kragtig is, dié Woord waardeur U elke dag met my kommunikeer. “U voorskrifte is volkome, dit gee nuwe lewenskrag, U bepalings is betroubaar, dit maak die eenvoudige verstandig; U opdragte is duidelik, dit gee insig vir die lewe ...” (Ps. 19). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page