top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 19 April 2024

Koos Espach


Paulus voor die Joodse Raad (3)

 

Nuwe lewe vir elkeen wat glo in Christus Jesus

 

Hand. 23:5-8 – “Daarop antwoord Paulus: ‘Ek het nie geweet dat hy die hoëpriester is nie, broers. Dit is soos daar geskrywe staan: Jy mag nie ‘n leier van jou volk beledig nie. 6 Paulus het geweet dat die Raad deels uit Sadduseërs en deels uit Fariseërs bestaan. Hy roep toe in die Raad uit: ‘Broers, ek is ‘n Fariseër en ek kom uit ‘n familie van Fariseërs. Dit is oor die verwagting dat die dooies weer sal opstaan dat ek verhoor word.’ 7 Toe hy dit sê, het daar rusie tussen die Fariseërs en die Sadduseërs ontstaan, en die vergadering het verdeeld geraak. 8 Die Sadduseërs ontken dat daar ‘n opstanding uit die dood is en dat daar engele en geeste bestaan, maar die Fariseërs aanvaar wel albei hierdie dinge.“

 

Paulus word op die mond geslaan en voel sy eie reg is geskend want volgens die Joodse regsisteem, is ‘n mens onskuldig tot die teendeel bewys is. Hy sê vir die hoëpriester God sal hom ook slaan en saam met hierdie oordeelsaankondiging, voeg hy by dat die hoëpriester ‘n skynheilige is. Die mense om hom was geskok oor Paulus se uitbarsting en wys hom daarop dat hy met die hoëpriester van God praat. Paulus maak onmiddellik verskoning en as wetsgehoorsame burger haal hy dan aan uit Eksodus 22:28 dat hy respek vir sy volk se leiers het. Maar, sonder sy wete, het Paulus ’n profetiese uitspraak oor die hoëpriester gemaak – hy het sy dood deur ‘n dolksteek van een van Jerusalem se yweraars gevind. Die klap op Paulus se mond het later ‘n dolk vir Ananias se rug geword!

 

Paulus het besef dat hy nou, ná sy skerp aanval op die hoëpriester, geen kans sou staan om die Raad se goedgesindheid te wen nie. Hy het geweet die Raad bestaan grootliks uit Fariseërs en Sadduseërs. Gevolglik maak hy ‘n briljante taktiese skuif en kondig luid aan dat hy ‘n Fariseër is en uit ‘n familie van Fariseërs kom. Die Fariseërs het die streng onderhouding van die wet van Moses voorgestaan, en het geglo in lewe na die dood. Die Sadduseërs wou niks aanvaar wat nie wetenskaplik bewys kon word nie en het dus nie in die opstanding en lewe na die dood geglo nie. Albei groepe was teen Jesus, want Hy het die skynheiligheid van die Fariseërs blootgelê en die Sadduseërs koudgesit met aanhalings uit die Pentateug, die eerste vyf boeke van die Bybel wat volgens tradisie deur Moses geskryf is.

 

Paulus staan voor hulle, uiterlik één in hulle haat teenoor hom, maar innerlik verdeel. Dan laat hy die bom bars – hy bely dat die ou hoop of verwagting van Israel vervul is in Jesus Christus wat minder as dertig jaar tevore as oorwinnaar oor die dood, uit die dood opgestaan het. Daarmee saam gee God aan ons die oorwinning oor sonde en dood, deur ons geloofs- en liefdesband met die Here Jesus Christus.

 

Jesus het die dood gedood sê Stephan Joubert. Paulus het dit geweet en het dit oral, luid verkondig. En soos ons dikwels gesien het, gedurig in die moeilikheid gewees daaroor. Ook nou wanneer hy voor die Joodse Raad staan. Paulus was ook ‘n kenner van die Pentateug en het geweet van Adam se sonde-rekord. Daarom het Paulus nie gehuiwer om van Jesus Christus te getuig wat Adam se sonde-rekord deur ‘n splinternuwe lewe kom vervang het nie. Die wêreld was vir duisende jare ná Adam, in die greep van die sonde vasgevang. Die opgestane Jesus Christus het egter op ‘n dag kom ingryp.

 

Jesus het as mens onder ons as mense kom woon! Die Woord pak die verste rit aan wat enigiemand nog ooit gedoen het, van die hemel tot op die aarde (Joh. 1:14). Die Prins van die hemel kom word die Kind van die krip. Jesus kom word wat Hy nooit was nie maar bly wat Hy is – Hy kom word mens wat Hy nooit voorheen was nie, maar Hy bly nog steeds wat Hy van ewigheid af was, naamlik God. Daarmee het Hy sy Goddelike bestaan vir 33 jaar lank verruil vir vernedering, swaarkry en uiteindelik ‘n houtkruis. Sy pynkrete aan daardie houtkruis was die ewige draaipunt in wêreldgeskiedenis: Dit het die einde gebring aan Adam se sonde-rekord en vir ons Christene die weg gebaan na ‘n ewige lewe!

 

Iemand vertel dat hy as 5 jarige op sy ma se skoot gesit het en ‘n dronkbestuurder reg van voor teen hulle gebots het. Sy pa is noodlottig beseer en hy was van kop tot tone met bloed besmeer, sy ma se bloed! Die oomblik net voor die aankomende motor hulle getref het, het sy ma haar liggaam om hom gevou. Sy ma se liggaam het die paneelbord getref en die windskerm aan skerwe laat spat, in plaas van syne. Dit het baie operasies en pyn gekos voordat sy ma van haar beserings herstel het. Op soortgelyke wyse, maar oneindig meer betekenisvol, het Christus die volle impak van ons sonde op Hom geneem, en deur sy bloed het daar vir ons volkome genesing gekom. Alle hemelse straf wat vir ons bedoel was, het Jesus gevat en só die dood oorwin. Daarom kan ek en jy saam met Paulus nou ‘n “verwagting hê dat die dooies weer sal opstaan!”

 

Ja, dit is duidelik dat ons hier met ’n verborgenheid te doen het wat deur die denke van die mens nie verklaar kan word nie. Ons kan net kinderlik in die geloof buig en alleen maar God dank vir die weg wat Hy vir ons sondaars geopen het sodat elkeen wat in Hom glo, kinders van God kan word (Joh. 1:12).

 

“Jesus Christus wie se geboorte skaars ‘n rimpeling op die meer van die geskiedenis gemaak het, het ‘n magtige stroom in die oneindige oseaan van die eeue sedert sy dood en opstanding geword” (Mark Stokes).

 

Gebed: Dankie Heer dat U mens kom word het om my aan God te kom voorstel. U kom word “God met ons” en verdedig die sake van my sondeskuld. Ek probeer dit verstaan maar my menslike verstand is net nie opgewasse daarvoor nie. In U sien ek egter wat menswees waarlik is. Aan U die lof dat ek daarvolgens ‘n nuwe lewe kan lei. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page