Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Apr 29
- 4 min read
Dinsdag, 29 April 2025
Koos Espach
Die wet en die sonde (3)
Die wet bevestig hóé sondig die sonde is
Rom. 7:13 – “Beteken dit dat iets wat goed is, vir my die dood gebring het? Beslis nie. Inteendeel, die sonde het vir my die dood gebring. Dit het die sonde gedoen deur iets wat goed is, sodat die sonde in sy ware aard as sonde bekend sou word en dit deur die gebod sou blyk hoe skrikwekkend die sonde werklik is.”
Vergelyk ook Jak. 1:13-17 – “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. 14 Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. 15 Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood. 16 Moenie julleself mislei nie, my liewe broers (en susters). 17 Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo.”
Paulus volg nou met ‘n logiese vraag hoe dit moontlik is dat die wet wat goed is, die dood vir ons kan meebring? Hierop antwoord hy homself dat dit nie die wet is wat sondig is of sonde veroorsaak nie, want “die wet is heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed” (v. 12). Tog speel die wet ’n beslissende rol in die veroordeling van die mens tot die dood. Maar daardie rol moet nie só verstaan word nie. Dit is nie God se wet wat die dood meebring nie, dit is die sonde wat die dood bring. Die mag van die erf-sonde wat in die mens woon en heers totdat hy of sy weergebore word, maak dat die wet oortree word en tot die dood lei.
Die sonde is na sy aard in opstand teen God, dit rebelleer teen God se wil, dit is opsetlike verset teen wat God vra. Paulus sê “die sonde het in sy ware aard as sonde bekend geword en dit deur die gebod sou blyk hoe skrikwekkend die sonde werklik is.” Aan die reaksie van die sonde op die gebod van God, blyk dit dus hoe skrikwekkend die sonde werklik is. Die mens se sondige aard hou in dat ons van nature geneig is tot die sonde en onder die heerskappy van die sonde staan soos ’n slaaf onder die heerskappy van sy ‘sonde-baas.’ En dit geld nie net vir die gruwelike sondes soos moord en verkragting nie, maar selfs die ‘klein sondetjies’ ook.
Die destydse Joodse rabbi’s het egter anders geredeneer en die volgende gevaarlike rede voorgehou: “Omdat God alles geskep het, die mens, die omstandighede, die slang, het Hy dan ook die sondige natuur in die mens geskep en daarom kan God moontlik geblameer word wanneer die mens sondig.” Nooit! En dis kerkmense wat so redeneer! Jakobus ontken egter hierdie dwaling van ‘n redenasie ten sterkste in Jakobus 1:13 in ons vergelykende teksvers. Dit is tog duidelik dat God nie die bewerker van enige kwaad of sonde is nie.
God is soewerein en heilig en sal nóóit in sonde verval nie. Die mens is verantwoordelik vir sy eie sondeval. Die broeiplek vir die sonde het sy oorsprong by onsself: “’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.” Sedert die begin van tyd is die mens egter geneig om die skuld op iemand anders te pak – Adam op Eva en Eva op die slang, ens. Ons is verantwoordelik vir ons eie sondeval. “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo” en daarom mislei ons onsself om die skuld op God of iemand anders te wil pak. God stuur nie versoekings op ons pad nie, inteendeel, Hy gee ons “goeie en volmaakte gawes” om juis die sonde te beveg.
Ons onveranderlike God het die grootste skepping ooit voltooi – die mens! Ons is die nommer een faktor in God se skepping “omdat dit sy wil was. God het ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het” (Jak. 1:18). God het ons voortgebring “deur die woord van die waarheid.” Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld ...” (Gen. 1:26). Hy kán ons dus nie in versoeking lei nie want Hy wil nie hê dat ons met sonde bevlek moet wees nie. Hy wil hê ons moet ongeskonde sý beeld van heerlikheid in hierdie deurmekaar wêreld met liefde vertoon. Ons tree dus op as gesante, as verteenwoordigers van Christus, want ons behoort aan Hom! En daarmee help die Heilige Gees ons om standvastig te kan bly.
“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God” (1 Kor. 17-18a). God het deur die wet die duiwel in al sy duiwelsheid onmasker. Deur die wet sien ons hóé sondig die sonde werklik is. Ek en jy, gelowiges in Jesus Christus, is die eerste deel van God se herskepping wat bedoel is vir die hemel. God is vrygewig, God is genadig, God voorsien net die beste – daarop kan ons staat maak. Daarvoor kan ons bid. Daarvoor kan ons geduldig wag want ons is “eerstelinge van alles wat Hy geskep het.”
“Die verwoesting van my lewe begin wanneer ek meen dat ek nie aan die wet gebonde is nie, en my stelselmatig daarvan losmaak. Die wet maak my nie ‘n slaaf nie, dog ‘n vry mens, maak my nie minder nie, maar méér mens” (Johan Heyns).
Gebed: Dankie vir U goedheid Heer. Dankie dat U my uit genade herskep het en nuut gemaak het deur Jesus, ons Vleesgeworde Woord. Help my o Gees, dat ek as nuutgemaakte wese standvastig sal bly in die geloof en sal leef as medewerker in U koninkryk. Amen.
Comments