Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 12 minutes ago
- 4 min read
Maandag, 5 Mei 2025
Koos Espach
Die wet en die sonde (5)
Waardige Koningskinders
Rom. 7:15-17 – “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16 Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. 17 Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.”
Soos ons reeds voorgehou het, wonder ons hier of Paulus na homself verwys wanneer hy vanaf vers 7 praat van “ek”? Wie is die “ek” wat hier aan die woord is? Deur die eeue heen is daar eerbiedwaardige kerkvaders wat reken die “ek” is die gelowige in sy innerlike stryd om van die “ou mens” na die “nuwe mens” te verander en so te bly. Ander kerkvaders en teoloë reken weer die “ek” is die onverloste mens in sy innerlike verskeurdheid. Dan is daar diegene wat sê Paulus verwys na homself vóór sy bekering toe hy as vroom Jood diep in sy wese met hart en siel die wet van God liefgehad het (7:22) en tot die letter probeer nakom het.
Oor wie dit egter gaan, is minder belangrik. Wat wel belangrik is, is om te besef of die mens uit sy eie, sonder die Gees van God, aan die wet gehoorsaam kan wees? Die mag van die sonde in die lewe van die mens is so groot, dat ook diegene wat soos Paulus en alle gelowiges toestem dat die wet goed is en begeer om dit te gehoorsaam, dit nié kan doen nie. Dit is vir hulleself onbegryplik, want “wat hulle wil doen, doen hulle nie, en wat hulle haat en nie wil doen nie, juis dít doen hulle.” Die sonde is ’n irrasionele, onbegryplike krag wat die mens meevoer om in stryd met jou eie insig en begeerte, die kwaad te doen, sê Andrew Murray.
Dit is wel waar dat die ongeredde mens, nie sonder die Gees van God aan die wet gehoorsaam kan wees nie. Dit is óók waar dat die gelowige wat nie voluit uit die Gees lewe nie en in eie krag probeer om aan die wet gehoorsaam te wees, magteloos is om iets aan hierdie sondige toestand te kan doen. Die mag van die sonde in ons, is te sterk. Ons is te geneig om die weg van die minste weerstand te volg – net soos water!
Wanneer Paulus hier vertel van die stryd van die sondaar, kon die “ek” netsowel myself of dalk jy wat hier lees, wees. Elke gelowige het immers ‘n begeerte om God te behaag, maar kort in onsself die krag om dit te doen – “want die dinge wat ek nie wou doen nie, het ek soms gedoen, en die dinge wat ek wou doen, het ek nie gedoen nie.” (Indien jy dink jy kwalifiseer as Christen ook aan hierdie lewensbeskrywing, kan jy jou byvoeg by Paulus se versugting.) Hier word verwoord hoe ons worstel, die keuse uitoefen om die goeie te doen, maar dit tog weer verbrou of nalatig is.
Om foute te maak, is deel van die lewe. Baie van ons vra waarom ons as Christene verkeerde dinge doen en waarom laat ons dinge ongedaan wat ons moes doen? Dít is die groot dilemma in ons lewe as gelowiges: Ons wil goeie dinge doen, maar dan doen ons slegte dinge. Ons posisie in Christus is egter vas en seker. In Hom ís ons nuwe mense. In Hom ís ons regverdig en heilig. In Hom ís ons kinders van God. Hy het daarvan seker gemaak aan die kruis. Maar dit wat ons elke dag doen word gekenmerk deur mislukking en ongehoorsaamheid en voel ons (hopelik) nie volmaak in ons gedrag nie. En dit stel ons teleur en versteur ons verhouding met God.
Al is ons nou nuwe mense in Christus, is die ‘ou mens’ in ons nog te geneig om soos water, die weg van die minste weerstand te volg. Die Amerikaanse liedjieskrywer, wyle Keith Green het hierdie aangrypende lirieke oor die pad van die minste weerstand nagelaat:
Lord, how Your tender heart must be broken; by all those unkept promises I’ve made.
The question still prevails: Please take away the veil about how You forgive
And still live inside me when I fail!
Elke mens het ‘n swak punt of twee. Die curve balls van die lewe maak dit ook nie makliker nie. Sommige mense aanvaar hulle kan niks aan hulle swakhede doen nie en het ‘n honderd verskonings daarvoor, en ploeter maar voort. Ander probeer immers verander. Omdat nie een van ons vrygestel is van menslike swakheid nie, het ons tog nog ‘n keuse – ons kan iets probeer doen aan die swak punte. William Barclay beveel aan ons moet die Heilige Gees wat in ons woon, toelaat om te werk in ons lewe. Net Hy kan ons help om ons swakhede te oorwin!
Die Heilige Gees is een van God se wonderlike gawes aan almal wat Hom liefhet en dien. Hy is gewillig om my en jou in ons nood te ontmoet en ons te versterk met sy krag sodat ons oorwinnend kan lewe. Al wat ons moet doen is om op te hou om soos water te wees wat net langs die maklikste pad loop, en die Gees gehoorsaam te wees. Go with Jesus – against the flow!
“Wat ook al ons is, ons is nie wat ons behoort te wees nie! Om ons swakheid te erken, is die eerste stap op ons pad van oorwinning” (Augustinus).
Gebed: Heilige Gees van ons Here, soos Paulus vind ek daar ‘n gedurige stryd in my woed – ek doen baie dinge wat ek nie moet nie en laat dit na wat ek moet. Help my om elke dag te triomfeer oor my swakhede deur Christus Jesus, my Verlosser, in wie se Naam ek bid. Amen.
Comentários