top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Apr 24
  • 4 min read

Donderdag, 24 April 2025

Koos Espach


Die wet en die sonde (1)


God voorsien in ons behoeftes


Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking? Dat die wet van Moses sonde is? Beslis nie. Inteendeel, ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie deur die wet was nie. Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: ‘Jy mag nie begeer nie.’ 8 Maar deur hierdie gebod het die sonde ‘n vastrapplek gekry en elke soort begeerte in my aan die gang gesit, want sonder die wet is die sonde dood.”

 

Paulus praat weer hier in die eerste persoon, nie om spesifiek na sy eie ervaring of geskiedenis te verwys nie, maar om die ervaring van alle gelowiges aan te spreek – ’n ervaring wat hy uiteraard self ook gedeel het. Soos voorheen, gebruik hy nou weer ‘n denkbeeldige gesprek om sy redenasie ten opsigte van sy stellings oor die wet, te verduidelik. Hy redeneer dat dit nie die wet self is wat sondig is nie, maar dat die wet juis daar is om die sonde te ontbloot en watter houvas, of “vastrapplek” die sonde op die mens verkry.

 

Iemand het gesê dit is asof die sondige begeertes in die mens ontwaak sodra die mens en die gebod van God ‘ontmoet’. Die sonde prikkel dan die mens om presies te doen wat die wet verbied. Wat God verbied, word meteens aantreklik. Dink maar aan Adam en Eva, juis dit wat God verbied het, het hulle nuuskierig en ongehoorsaam gemaak, natuurlik met noodlottige gevolge (Gen. 3:1-6). Die probleem is dat die mens nie altyd die sonde maklik kan uitken nie. Dit lyk ewe onskadelik en onskuldig, maar wanneer die wet hierdie masker afruk, word die sonde in al sy werklikheid ontbloot. Die sonde staan dan meteens soos uit die dode op en kry ‘n bewuste karakter, want die wet het openbaar watter houvas dit op die sondige mens het.

 

Paulus lig sy argument toe deur die tiende gebod van begeerte, as voorbeeld te gebruik. Die feit dat ons nie mag begeer nie, laat juis toe dat die sonde van begeerte ‘n groter “vastrapplek kry en elke soort begeerte in jou aan die gang sit.” Die logiese gevolgtrekking is dus dat die fout nie by die wet met sy opdragte lê nie, maar by my en jou. Slegte begeertes is ook die oorsaak waarom al die ander nege wette dan oortree word. Die tiende gebod leer ons dat ons nie net in woord en daad sonde doen nie, maar dat ons in ons hart, waar die sonde ontstaan, sondaars is: “Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, bedrog ...” (Mark. 7:21-22).

 

Die tiende gebod gebied vir ons onder andere ‘eerbied vir God se beskikking’ – ons moet tevrede wees met wat ons het. Die gebod wys ook vir ons dat ons dankbaar moet wees teenoor God vir wat ons ís. In hierdie geval maak Paulus aan ‘n jong Timoteus bekend dat “die godsdiens ‘n groot wins is as iemand tevrede is met wat hy het, ... as ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees” (1 Tim. 6:6, 8). Met hierdie stelling verwys Paulus na meer as net kos en klere. Eintlik het ons almal só baie om voor dankbaar te wees. Net die blote feit dat ons kan asemhaal, moet ons laat oorloop van dankbaarheid. ’n Dak oor ons kop, ’n eggenoot, kinders, kleinkinders, familie, ’n werk, vrede, liefde, omgee, rus, gesondheid – noem maar op. Daar is soveel om voor dankbaar te wees.

 

En tog ontbreek vrede en vreugde by ons. Is dit nie dalk omdat ons op verkeerde plekke soek nie? Omdat ons die dinge wat ons so begeer nie kry nie, oorskadu dit alles wat ons hét. Miskien is dit nodig om ’n lysie te maak van dinge waarvoor ons dankbaar kan wees. Dinge wat ons so as vanselfsprekend aanvaar dat ons nie besef hoe gelukkig ons eintlik is om dit alles te hê nie. Staan eerder ’n slaggie terug en kyk wat ons regtig het en wees dankbaar, want dit is by dié dankbaarheid waar ware vrede lê. Ja, dis nie altyd maklik nie. Ons elkeen het ons eie uitdagings wat ons moet hanteer.

 

Hoe dankbaar is ek en jy om te weet dat daar ’n God is wat baie vir ons omgee? Alles behoort tog aan Hom en Hy is elke dag bereid om sy hemelse skatkamers oop te sluit om met ons te deel. Hoeveel keer per dag sê ons vir God dankie vir wat ons het en wie ons is? Wanneer ons besef wat ons alles het en wie ons is, kyk ons die lewe anders in die oë. Dan lig ons gemoed en sien ons weer kans vir die berg voor ons. Dan kan ons met ’n huppel in ons stap die moeilike dae aanvat. Daar is geen wesenlike behoefte van ons wat God nie kan vervul nie. Paulus sê “my, (en ons), God sal in elke behoefte van ons ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus” (Fil. 4:19). Daarom kan ons dankbaar wees vir al die genade wat elke dag deel van ons erfporsie is. Dink ‘n bietjie ...!

 

“God ontsê die Christen niks nie, behalwe as Hy iets baie beter het om aan hom of haar te gee”

(Richard Cecil).

 

Gebed: Ewige Voorsienende God, dankie vir al die menslike geriewe wat ek as vanselfsprekend ervaar. Dankie vir vergifnis wanneer ek dink dit is te min, en ek meer begeer. Dankie dat ek in U rykdom van seëninge mag deel. Amen.

 
 
 

Kommentare


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page