top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Oct 17
  • 4 min read

Vrydag, 17 Oktober 2025

Koos Espach


Die oordeel en genade van God (2)


Aanvaar en geniet in vreugde wie ons is


Rom. 9:20b-21 – “Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: ‘Waarom het jy my so gemaak?’ 21Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?”

 

Vergelyk ook Gen. 2:7 – “Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het.”

 

In die skeppingsverhaal van die mens, beskryf die skrywer dat “God die mens gevorm het uit die stof van die aarde.” God vorm die mens uit die stof van die aarde soos ‘n pottebakker die klei vorm, om sodoende, as deskundige, die hompe klei in iets waardevol en bruikbaar te omskep. Die pottebakker het egter geskikte klei nodig vir sy eindproduk en daarom kan hy nie sommer enige grondstof of sand gebruik nie. Geskikte klei word uit die aarde gehaal waar dit besoedel is met klein klippies, stukkies gras en stokkies. Die pottebakker moet eers al die onsuiwerhede verwyder en stukke klei afsny en weggooi totdat die oorblywende klei, geskik is om te bewerk.

 

God is soos ’n pottebakker wat oor mag beskik met die voorwerpe wat Hy maak, en Hy het soos die “pottebakker die reg om van sommige iets besonders en van andere iets alledaags te maak.” In hierdie geval is God die Pottebakker en ons sondaarmense, die klei. Ons kan dus nie agterstevoor wil wees en as die klei, vir die Pottebakker voorskryf nie. Ons kan nie “vir ons Maker sê: ‘Waarom het jy my so gemaak nie?

 

God wil hê ons moet die ‘vorm’ wat Hy ons gegee het, geniet. Hy bevestig dit in sy Woord: “Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van ‘n ander te vergelyk” (Gal. 6:4). Satan sal natuurlik probeer om die vreugde van ons bestaan soos God ons gemaak het, te steel. Hy sal probeer om ons in die versoeking te bring om ons met ander te vergelyk en met ander se doen en late te laat aanpas. Dis natuurlik albei dodelike lokvalle wat my en jou aandag gaan aftrek van hoe God ons wil hê.

 

Dit is nie nodig om onsself met ‘n ander te vergelyk nie. Daar sal altyd iemand wees wat oënskynlik beter vaar as ek en jy, en dan raak ons dalk ontmoedig. Die teenoorgestelde is ook waar. Ons sal altyd iemand kry wat oënskynlik nie so doeltreffend is soos ons nie, dan kan dit ons dalk weer hoogmoedig maak. Beide houdings kan en sal ons vreugde waarvoor God ons geskape het, vernietig.

 

By God is alle mense dieselfde, almal is “uit dieselfde klomp klei”, vol krake en barste. Vir ons as “gevormde klei”, moet dinge anders as in die wêreld wees. In die wêreld wil almal die beste, die sterkste, die rykste, die gewildste en die magtigste wees. En wanneer hulle dit nie maak nie, word hulle afgeskryf of eenvoudig bo-oor geloop. Ons as gelowiges mag nie dit doen nie. Uitdrukkings soos: “Hulle wil mos!” of “Hulle moet maar self sien om uit die gemors te kom!”, hoort nie by ons nie.

 

Ek en jy moet gebruik wat God ons gegee het. Ons moet gaan stilstaan by hulle wat deur die lewe gepootjie is. Ons taak is om hulle weer op te help. By God is daar nie plek vir sterre of helde nie. “Die Pottebakker het ons uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags gemaak.” By Hom is ons almal wenners wat vir mekaar omgee en mekaar se laste help dra. By God maak dit nie saak of ons miljoenêrs of brandarm is, en of ons vir die Springbokke speel of vir die skool se derde span speel nie. By Hom maak dit saak om te doen wat die Gees sê. “Bly binne die werkkring wat God ons toegemeet het” (2 Kor. 10:13b).

 

“Genade is nie iets waarvan sommige méér kry en ander minder nie, soos ‘n mens merietetoekennings bereken, nie. Dit is dat God self, ten spyte van onsself, goedgesind bly – dís ongelooflik, onberekenbaar, onbegryplik” (Thomas Kempis).

 

Gebed: Here, dit is tipies van die mens dat ons baie keer U werk bevraagteken, dat die klei vir die Pottebakker wil voorskryf. Jammer Here, ek weet mos dat ek nie vir U, die Almagtige kan voorsê nie. Soos ‘n Job van ouds kan ek maar net sê: “Ek is nie opgewasse teen U nie, ek sal liewer stilbly” (Job 39:35). Dankie Here dat U vrymag het om met my te handel soos U wil, met my beperkte menslike insig vertrou ek op U dat my ompad, U op pad is. Al verander U soms my rigting, kan ek steeds vashou aan die versekering dat die eindbestemming my, by U gaan uitbring. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page