Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 3 days ago
- 4 min read
Maandag, 29 September 2025
Koos Espach
God se verkiesing van Israel (7)
God is getrou en regverdig
Rom. 9:17-18 – “In die Skrif sê God immers vir die farao: ‘Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.’ 18Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.”
Paulus gaan voort deur sy uitsprake te staaf wanneer hy verwys na die woorde wat God self volgens die Skrif aan die farao gesê het. Daaruit blyk dat God die farao op ’n bepaalde wyse laat optree het met die doel dat Hy sy Naam kon verheerlik. God het volgens Eksodus 9:16 die farao se hart verhard, sodat hy die volk nie laat trek het nie, en dit het aan God die geleentheid gegee om in farao sy krag te toon, sodat sy Naam oor die ganse aarde verkondig kon word.
Paulus beklemtoon dat “dit dus inderdaad so is dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.” Dit is nie ‘n stelling wat in die lug kan bly hang sodat ons moet wonder oor wie God Hom ontferm of verhard nie. Oor wie ontferm God Hom? Oor almal wat in Jesus Christus glo. En net so met die verharding – “Hy verhard wie Hy wil”, soos byvoorbeeld die Israeliete asook die farao. God se beskikking gaan dus oor die verharding van die goddeloses en stel daardie verharding in diens van die eer van sy Naam en die voortgang van sy koninkryk.
Ons vra weer: Is God regverdig? Ja, altyd! Ons hoef dus nooit bang te wees dat God onregverdig sal wees nie. Wanneer ons egter redeneer dat Hy wel soms onregverdig is, probeer ons om God in ons skematjies in te perk. “Hy is getrou en regverdig” (1 Joh. 1:9b). Ons kan God loof omdat Hy ons geseën het met Christus se verlossing en ons met die Heilige Gees verbind: “Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Ef. 1:3b). Ons wat in Christus is, behoort aan Hom want ons het deel aan Sy kruisiging en opstanding. Elkeen wat ‘n keuse gemaak het om in ‘n innige verhouding met Christus te lewe, kan met sekerheid weet dat hy of sy nie net “in Christus” is nie, maar dat Christus deur Sy Gees ook in hom of haar is.
Dit word vertel van ‘n jong Ier, Joseph Scriven wat innig lief was vir ‘n meisie en hulle trouplanne was reeds gemaak. Die aand voor hulle troue het sy egter in ‘n tragiese ongeluk verdrink. Vir maande lank was Joseph in rou en absolute wanhoop gedompel. Hy het selfs God kwalik geneem dat Hy die ongeluk toegelaat het? (Asof God ongelukke veroorsaak). Uiteindelik het Scriven hom weer tot God gewend nadat hy Psalm 46:2 gelees het: “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.” Deur God se genade het Scriven vrede en vertroosting gevind en dié bekende lied geskryf wat al vertroosting in miljoene harte gebring het: “Wat ‘n vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan!”
Soms is my en jou pad ook in die sonlig soos wat Joseph Scriven se pad was terwyl sy troudag nader gekom het. Soos hy, mag ons dalk vind dat ons pad ook deur die donker skaduwees van verlies, teleurstelling en verdriet lei. Maar selfs die pyn en verdriet verander in seën wanneer ons minder geheg aan die dinge van die lewe en meer geheg aan God raak. Ja, “dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.” Maar om die waarheid te sê, ons sal niks daarvan weet totdat ons gelowiges verstaan dat Johannes 3:16 beteken dat God Homself volledig vir ons gegee het – geheel en al, onvoorwaardelik en sonder enige voorbehoud.
Wanneer dit my en jou tref en ons dit nie meer as vanselfsprekend aanvaar nie, ontdek ons opnuut dat Jesus waarlik ons Vriend is; weet ons “God ontferm Hom oor wie Hy wil.” God het klaar gekies omdat ons in Jesus Christus glo. Ons kan dit uitjubel: “God het die wêreld lief ...” en ons is deel daarvan! Hy het my en jou nie oorgegee aan ons sonde en die ewige dood nie, nee, Hy het my en jou lief! Hy het dit aan ons bewys, daar by die kruis. Hy is ons Vriend, Hy het in jou en my plek kom staan!
“Die feit dat Jesus ons kom red het, is die finale en onweerlegbare bewys dat God vir sondaars omgee” (William Barclay).
Gebed: Wonderbare Raadsman, vul my met die vrede wat net U as Vredevors kan gee. Laat die vertroosting van U, Heilige Gees, die deel wees van almal wat met onrus en ongeloof in hulle harte worstel. Amen.
Comments