Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Sep 26
- 4 min read
Vrydag, 26 September 2025
Koos Espach
God se verkiesing van Israel (6)
Lof aan God vir sy barmhartigheid
Rom. 9:14-16 – “Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! 15Vir Moses het Hy gesê: ‘Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.’ 16Dit hang dus nie af van ‘n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is.”
Uit die voorafgaande kom Paulus nou tot die gevolgtrekking dat die beslissing van uitverkiesing volkome van God afhang, en nie van wat die mens doen nie. Maar is God dan nie onregverdig om almal wat vleeslik van Abraham afstam, in sy guns te laat deel nie? Is dit ook nie onbillik dat God Hom in die onderskeid wat Hy tussen mense uit dieselfde nageslag maak, nie deur hulle kwaliteite of dade laat bepaal nie? Paulus wys dié vraag egter as iets lasterliks van die hand. Immers, God is Gód. Hy gaan nie spring as ons die klokkie lui nie.
Deur die verloop van die geskiedenis is Romeine 9-11, dikwels in debatte oor die leerstuk van die uitverkiesing gebruik. Daardeur het sommige mense afgelei dat God lank voor die tyd al in die hemel besluit het wie Hy wil hê moet glo en wie Hy in die hel wil gooi. Dit is egter nie waar nie. Daarom is dit nodig om te kyk na die konteks waarin die tekste voorkom, eerder as om ‘n paar tekste aan te haal wat lyk asof dit ons standpunt ondersteun.
Hierdie gedagte van God se soewereine bepaling van die verkiesing en verharding klink verwarrend. Laat dit dan nie by onsself ‘n verantwoordelikheid om vir God of teen God te kies nie? Met respek, dit klink amper asof God reeds voor die tyd besluit het wie vir die hemel en wie vir die hel bestem is. Indien dit so was, sou dit beslis onuithoudbaar vir ons gelowiges gewees het om te weet wie uitverkies of verwerp is – vir watter een van die twee bestemmings ek en jy wat glo, bedoel is? Selfs ‘n toegewyde lewe sou niks werd gewees het nie want alles rondom ons uiteinde, is reeds bepaal. Selfs al die preke en oproepe tot bekering is verniet want wat help dit as daar reeds vooraf bepaal is waarheen elkeen van ons op pad is.
Wat wil Paulus vir ons sê in hierdie gedeelte? Paulus skryf oor die feit dat die meeste van Israel nie in Jesus wil glo nie. Daarom skryf hy oor die posisie van Israel, nie oor die posisie van alle mense in God se oë nie. God se guns word nie deur die hoedanighede van mense bepaal nie. Dit is werklik vrye guns, barmhartigheid en ontferming, wat nie verdien word nie, maar onverdiend geskenk word. Omdat alle mense voor God skuldig staan, het niemand enige reg of aanspraak op God se guns nie. Daarom “hang dit dus nie af van ’n mens se wil of strewe” of God aan hom of haar guns bewys nie, maar enkel van God se eie barmhartige keuse en genade.
Paulus haal aan uit Eks. 33:19 waar God vir Moses al gesê het: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” God is ‘n reddende God wat agter ons aan loop met ‘sakke’ vol genade, nie met ‘n rottang nie! Lees maar net onder andere Psalm 136. Hierdie hele Psalm besing die grootheid van God se barmhartigheid. Aan elkeen van die 26 verse kry ons die frase: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” Is hierdie vreugdevolle gedagte van die psalmskrywer nie oorweldigend nie? God se ewigdurende, onveranderlike barmhartigheid en genade verdien ons volgehoue lof en danksegging.
Ons kan ook nie anders as om saam met Dawid in Psalm 103:1-4 om die “Here te loof met alles wat in (ons) is. Hy wat (ons) met liefde en ontferming kroon.” Mag dit ook die kroon in ons lewe wees! En om die ‘kroon’ op ons kop te plaas, sê Dawid in vers 11: “So groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.” Wat ’n gedagte! “So groot as die afstand tussen hemel en aarde is”, so onmeetbaar en onverstaanbaar groot is die barmhartigheid wat God deur sy rykste seëninge oor ons wil uitstort. Wees stil en dink diep daaroor. Probeer om die onmeetbare grootheid van God se barmhartigheid en ontferming vir my en jou te begryp! Glo dit! Leef dit!
“As jy wil hê ander mense moet gelukkig wees, wees barmhartig; as jy self gelukkig wil wees, wees barmhartig” (Roy Zug).
Gebed: Dierbare Vader, met alles wat binne-in my is, dank ek U vir U wonderlike genade en barmhartigheid waarmee U my lewe bekroon. U liefde wat geen einde het nie, is beter as die lewe self. Amen.

Comments