Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Sep 17
- 4 min read
Woensdag, 17 September 2025
Koos Espach
God se verkiesing van Israel (3)
‘n Identiteitskrisis
Rom. 9:6-7a – “Dit wil nie sê dat die woord van God nie meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; 7en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie.”
Vergelyk ook Joh. 8:37-41a – “Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat My woorde nie ingang by julle vind nie. 38Ek praat oor wat Ek by my Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het.’ 39Hulle het vir Hom gesê: ‘Ons vader is Abraham.’ Daarop sê Jesus vir hulle: ‘As julle kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het. 40Maar nou wil julle My doodmaak, vir My wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle verkondig. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie. Julle doen wat julle vader gedoen het.”
Nadat Paulus jubelend vertel het van God se nimmereindigende liefde vir elkeen wat Hy deur Christus vrygespreek het en in sy Gees se nuwe lewe laat deel (8:17-39), wonder hy skielik oor sy volksgenote se posisie voor God. Volgens Stephan Joubert worstel Paulus hier met die vraag hoe God sy beloftes aan Israel gestand doen vandat Hy nie-Jode vryspreek wat in Christus glo. In ‘n neutedop is die vraag nou op Paulus se hart of “die woord van God nie meer geld nie.”
Skrifverklaarders is dit eens dat Paulus hier in vers 6 bedoel dat daar nog altyd ‘n uitverkiesingslyn binne-in Israel geloop het – “nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie.” Inteendeel, nie elke Israeliet, kop vir kop, was by voorbaat in God se goeie boekies bloot omdat hulle besny was of die wet ontvang het nie. Daar moet onderskei word tussen drie “Israels”: Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament; die nuwe vorm van hierdie Godsvolk Israel van alle Joodse gelowiges en die heidene wat gelowiges geword het en by hulle aangesluit het; en dan Israel as die Jode wat Jesus verwerp het en van wie die koninkryk weggeneem is (Matt. 21:43). Die huidige “Israel” as staat en volk is deel hiervan.
Die beginsel van skeiding binne die Joodse volk kom al van Abraham se tyd af. In die Nuwe Testament weet ons uit die briewe van Johannes, dat ‘n deel van die Jode nie in die waarheid van Jesus wou vashou en soos gelowiges optree nie (1 Joh. 2:28-3:10). Jesus het dieselfde probleem ondervind tydens sy aardse optrede. Die Jode wat Hom gevolg het, het nie soos volgelinge van Hom opgetree nie. Trouens, die Jode met wie Jesus die heeltyd in konflik was, het ‘n reuse identiteitskrisis beleef. Hulle het onder die indruk verkeer dat hulle kinders van God is omdat hulle afstammelinge van Abraham is, maar hulle was heeltemal verkeerd.
Hoe kon hulle dan so ‘n fout maak? Dit gebeur as mense ‘n klompie uiterlike dinge verwar met diens aan God. Vir die Jode was Abraham naas Moses, die grootste geloofsheld in die geskiedenis en daarom het hulle gedink om ‘n afstammeling van Abraham te wees, genoeg rede is om ‘n kind van God te wees. Hulle het geglo dat Abraham se kindskap van God, outomaties aan hulle oorgedra is. Alhoewel Jesus hulle gelyk gegee het dat die Jode die nageslag van Abraham is, tref sy woorde egter hulle tussen die oë: “Ek praat oor wat Ek by My Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het.”
Die diepste rede vir sommige Jode se verwerping van die woorde van Jesus, was hulle verbondenheid aan hulle “vader”. Dit kom hierop neer dat Jesus in die allernouste verbinding met sy Vader bly en Hy verkondig wat Hy in hemelse helderheid by die Vader sien. Sy verkondiging is die boodskap van bevryding uit die mag van die sonde. Daarteenoor is daar by die Jode nie ’n “sien” nie maar ’n “hoor”, omdat hulle in duisternis verkeer en alleen maar van die influisteringe van húlle “vader” afhanklik is. Veeleer gaan dit om die satan.
Die punt is dat die mens wat sondig nie doen waarvan hy hou nie, hy doen waarvan sonde hou, waarvan sy “vader” van die leuen en die sonde ‘n ekspert in is! ‘n “Vader” wat hom gedurig verset teen God en vir hom ‘n menigte aanhangers op aarde vergader wat as “kinders van die duiwel” bekend staan.
Die enigste manier om ‘n godsdienstige identiteitskrisis te vermy is om in Jesus te glo. Hy is die groot Openbaarder van God. Slegs wanneer ons voor Hom buig, kan ons daarop aanspraak maak dat ons kinders van God is en Hy ons Vader is.
“In Jesus sien ons alles wat ons van God kan weet; In Hom het ons ook alles wat ons ooit van God kan nodig hê” (Athanasius - 320 nC).
Gebed: Dankie Jesus dat U die vyandige geestelike magte en kragte totaal verslaan het met U oorwinning aan die kruis. Dankie Vader dat U my saam met Christus lewend gemaak het deur my sondes aan die kruis vas te spyker (Kol. 2:14-15). Help my Here om my oog gevestig te hou op U met my aardse stryd teen die sonde. Amen.

Comments