top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Oct 1
  • 4 min read

Woensdag, 1 Oktober 2025

Koos Espach


God se verkiesing van Israel (8)

 

God se ontferming oor ons

 

Rom. 9:18 – “Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.”

 

Vergelyk ook Joh. 3:16 – “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

 

Asemrowend mooi: “God het die wêreld so lief ...” Graag praat ons oor God se liefde en luister gretig na preke oor die liefde. Ons belydenis van “God is liefde” laat waarlik ons harte juig. Tog bestaan die gevaar dat ons God se liefde as vanselfsprekend aanvaar. Dat ons nie meer opgewonde raak oor die feit dat God ons liefhet nie. Dat die oorbekende troos- en hartswoorde van Johannes 3:16 nie meer enige reaksie wek of effek het nie. Dat die Here se intieme liefdesverklaring by baie verbygaan.

 

Bestaan daar dus ‘n rede dat ons moet wonder oor Paulus wat gesê het God ontferm Hom oor wie Hy wil? Nee, ons moet ook net nie probeer om hierdie teenstrydigheid van God se ontferming en die mens se verantwoordelikheid probeer verklaar nie. Daar is nie ‘n hemelse bloudruk oor God se leer van die uitverkiesing, en wat op die aarde gebeur, maar net die afloop van die hemelse program is nie. Dit is ‘n geopenbaarde wonder van God en die feit dat God ons die gawe van geloof geskenk het, het ons nie ‘n verklaring nodig nie, ons kan dit eenvoudig so aanvaar.

 

Ons moet God dank vir sy almag en regverdigheid. Hy bekyk sy ontferming en uitverkiesing vanuit die ewigheid terwyl ons uitsig van die tyd, gebonde is. Die ewigheid is nie tyd plus tyd tot in oneindigheid nie, maar juis die totale afwesigheid van tyd. Wat God in ewigheid doen, kan ek en jy nie in tyd verstaan of bepaal nie. God se soewereiniteit en Almagtigheid kan tegelyk ons uitverkiesing en verantwoordelikheid handhaaf sonder dat die twee bots.  

 

Paulus gee in Efesiërs 1:4-14 ‘n lang lys van al die hemelse seëninge wat die Heilige Gees in ons waar gemaak het en die wonderlike hiervan is, die uitverkiesing is heel bo-aan die lys! Die uitverkiesing is die grondslag van ons geloofsekerheid oor ons verlossing en ewige lewe. God het ons nie uitverkies omdat nie, maar ten spyte van wie ons is, want God is groter as ek en jy! Hy is groter as enige sonde!

 

Die oorweldigende versekering is dus dat ons nie in knaende onsekerheid hoef te leef nie. Rick Warren sê as ons wil weet waarom ons op hierdie planeet geplaas is, moet ons by God begin. Ons is deur sy doel en vir sy doel gebore. Gewoonlik begin ons op die verkeerde plek te soek waarom ons nou juis op aarde geplaas is, of selfs die verkeerde vrae te vra, vrae soos: Wat wil ek word? Wat moet ek met my lewe maak? Wat is my doelwitte, my ambisies, my drome, my ..., my ..., alles oor my. Dit terwyl die Bybel sê: “Hy het al wat lewe, in sy mag, die asem van elke mens” (Job 12:10).

 

Die feit van die lewe is dat ek en jy nie onsself geskep het nie, daarom kan ons nie vir onsself vertel waarom ons geskep is nie! Ons moet met God ons Skepper begin. Ons bestaan immers net omdat God wil hê ons moet bestaan. Ons is deur God en vir God geskep. Net in God kan ek en jy ons identiteit ontdek, ons betekenis, ons doel want, ons behoort aan Hom. Daarom kan “God Hom ontferm oor wie Hy wil, en verhard wie Hy wil.” Elke ander pad is ‘n doodloopstraat.

 

God doen niks per ongeluk nie, Hy maak ook nie foute nie. Hy het ‘n rede gehad toe Hy besluit het om my en jou te skep. Sy motief was natuurlik liefde! God het ons geskep met presiese spesifikasies uniek aan elkeen van ons, volgens sy wil en met liefde! Paulus het gesê: “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees” (Ef. 1:4). Ons gelowiges in Christus se uitverkiesing is nie ‘n vraag wat ons moet probeer beantwoord nie, dit is ‘n uitroep waarin ons in dankbaarheid beaam: “Waarlik, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!”

 

“Om egte ruimte te skep vir God en sy soewereiniteit oor jou lewe is om jou handtekening op ‘n skoon vel papier te plaas en dit vir God te gee met die woorde: ‘Here, wat U ook al daarop skryf, my handtekening bly” (Prof. Andrie du Toit).

 

Gebed: Here, ek kan maar net verwonderd voor U kom kniel en in diepe dankbaarheid prewel: Ek verdien dit glad nie, maar dankie dat U my uitverkies het in Christus Jesus, U genade is ontsaglik groot. Dankie Jesus Christus dat U deur U dienswerk my aanneming as kind van God bewerkstellig het – “vóórdat ek kon kies, kon vra, het U my vloek gedra. Ek kon vind U’t my gekry nog vóór ek nog my skuld bely” (Gesang 10). Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page