Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Oct 15
- 4 min read
Woensdag, 15 Oktober 2025
Koos Espach
Die oordeel en genade van God (1)
Tot God se eer
Rom. 9:19-21 – “Nou sal jy vir my sê: ‘Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan tog teen sy wil ingaan?’ 20Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: ‘Waarom het jy my so gemaak?’ 21Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?
Paulus sluit nou aan met ‘n vraag by sy uitspraak “dat God verhard wie Hy wil” (v. 18). Ons sou seker met respek kon vra of God die reg het om mense wat verhard is, te verwyt of te straf as Hy self besluit het wie Hý wil verhard? Is dit dan nie onbillik om mense verantwoordelik te hou vir hulle harde harte nie? Met respek, hoe kan God met óns foutvind of die fout voor ons deur kom lê, terwyl ons eintlik maar net sy wil laat geskied?
Dit is hoe meeste mense is, én redeneer. Want, ons weet mos altyd beter. Ons wil oor alles debatteer en in ons verwaandheid, selfs vir God probeer voorskryf hoe Hy dinge behoort te hanteer. Mense waag dit selfs om hulle bo God te stel, asof God die voorskrifte van sy skepsel moet gehoorsaam. Só ‘n god is nie God nie – óns God is die Een wat ons in sy misterie nie kan peil nie en wie se optrede nie verklaar kan word nie. Die eintlike saak hier gaan nie oor God se onreg teenoor die mens nie, maar die mens se onreg teenoor God. As God werklik, volgens ons menslike standaarde, regverdig moes optree, was ons almal verlore en niemand gered nie! Dankie tog, God tree nie so op nie!
Paulus vra met reg: “Wie kan tog teen sy wil ingaan? Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer?” God weet wat die beste is vir elkeen van ons. Hy het my en jou wese suiwer vir sy doeleindes bepaal, dus mag ons nie teen sy wil ingaan nie. Ons durf nie met Hom redeneer daaroor, of dit verwens, of selfs verwerp, hoe Hy ons geskep het nie. In plaas daarvan om onsself soos iemand anders te probeer maak, moet ons die vorm wat God nét aan my of aan jou gegee het, oor dankbaar wees en dit vier. Paulus het gesê: “Aan elkeen van ons is ‘n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het” (Ef. 4:7).
‘n Deel van hierdie aanvaarding is dat ons ons beperkings moet besef. Niemand is met alles goed nie en niemand kan alles wil wees nie. Elkeen het ‘n bepaalde rol. Elkeen het bepaalde perke. Daarom glo ek God wil dat elkeen van ons die vorm wat Hy vir ons gegee het, geniet. Jesus se gelykenis van die talente (Matt. 25:14-30), wys dat God van ons verwag om die beste te maak van wat Hy vir ons gee. Ons moet ons gawes en vermoëns ontwikkel en gebruik sodat ons in ons diens al hoe meer doeltreffender sal wees.
John Maxwell, ‘n Amerikaanse teoloog, skryf dat elkeen van die talente wat ons ontvang het, nie toevallig in dieselfde mens is nie. Ons is nie net nog ‘n nommer nie maar baie spesiaal in God se oë. Elkeen het spesiale gawes ontvang volgens sy of haar vermoë en daarom moet ek en jy ons skoene volstaan wat vir niemand anders pas nie. In elkeen van ons is daar ‘n ongelooflike potensiaal wat net wag om ontwikkel te word, en dan die heerlikste dag van ons lewe te ontdek wanneer ek en jy ons potensiaal gebruik.
Jesus Christus het aan my en jou, volgens ons bekwaamheid, alles gegee wat ons nodig het om sy werk te doen terwyl Hy weg is. Hy het ons so gemaak, ons “kan tog nie teen sy wil ingaan nie. Ons kan per slot van rekening ook nie met God wil redeneer nie.” Niemand is belas met 'n gawe of talent wat hy of sy nie kan hanteer nie. Elkeen het ontvang met wat ons in staat is om sinvol te gebruik én volgens God se wil.
Ons kan nie nou agteroor gaan sit en dink ons kan niks meer vir God en sy koninkryk doen nie. By ons Christene bestaan daar nie ‘n aftreeplan in God se arbeidsveld nie! Ons is sy hande en voete op aarde. Onthou, Jesus het takies gedoen wat ander mense vermy het: voete gewas, handgee met kinders, ontbyt gemaak, melaatses versorg ...! Geen taak was benede Hom nie. Kan God op ons reken? Kan ander mense op my en jou reken? Ons kan nie en mag nie dienswerk onderaan ons lys van “dinge om te doen” skryf nie. Woeker met God se bates. Lééf nou, gebruik ons gawes tot voordeel van ander en tot God se eer! Dan groei God se beleggings in ons lewe – die koninkrykslewe. Die koninkrykslewe is die lewe van die nuwe mens. Ek en jy is mos deel daarvan!
“Ons gawes is ons geskenk van God af. Wat ons daarmee doen, is ons geskenk aan Hom” (Leo Buscaglia).
Gebed: Almagtige Vader, dankie dat U bepaal het dat ek my lewe binne sekere beperkings en ruimtes moet lewe. “Hoe kan ek dan vra: ‘Waarom het U my so gemaak?” Dankie dat U dan ook aan my gawes gegee het wat nie soos ‘n berg voor my lê nie, maar dat ek juis die take kan tegemoet gaan met die krag wat U my skenk. Tot U eer en om Jesus se Naam. Amen.

Comments