Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Sep 19
- 3 min read
Vrydag, 19 September 2025
Koos Espach
God se verkiesing van Israel (4)
Deel van ‘n eksklusiewe gesin
Rom. 9:7b-9 – “Inteendeel, die belofte was: ‘Uit Isak sal daar vir jou ‘n nageslag kom.’ 8Dit wil sê: Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word. 9Die woorde: ‘Op dié tyd sal Ek weer kom, en dan sal Sara ‘n seun hê,’ was immers ‘n belofte.”
Dit is eintlik menslik logies om te dink dat álle Israeliete gered moet word op grond van God se beloftes aan hulle. Maar terugskouend kan Paulus sien dat die kinders van die belofte (v. 8), deur Israel se geskiedenis diegene is wat gehoorsaam aan God in woord en daad was, wat uitverkies is. Van Abraham se kinders maak slegs ‘n deel uit van wat tot die Joodse volk behoort. Van sy twee seuns, Ismael en Isak, verteenwoordig slegs Isak die ware Israel: “Die belofte was: ‘Uit Isak sal daar vir jou ‘n nageslag kom” (Gen. 21:12).
Indien elke vleeslike Israeliet vanselfsprekend in God se genade sou deel, sou die genade geen genade meer wees nie, maar die volksbesit van ‘n bepaalde vleeslike volk. Hieruit kan afgelei word dat daar nie so iets bestaan dat ‘n mens wat vleeslik tot Israel behoort, vanselfsprekend deur God verlos moét word nie, want ook uit die vleeslike nageslag van Abraham kies God diegene uit aan wie Hy louter genade, sy guns wil bewys. Dit bly dus ‘n wonder van God se vrye guns, en nie omdat ons aan ‘n bepaalde groep, volk, kerk of familie behoort nie. My en jou persoonlike individuele geloof, lei tot die verlossing deur Jesus Christus, en nie noodwendig in ‘n groepsverband nie.
As God dus nie ‘n hele volk red nie, maar slegs die gelowiges van ‘n volk, beteken dit nie “dat die woord van God nie meer geld nie” (v. 6), maar wel dat sy Woord juis geld. God gee sy vryspraak aan diegene wat in die Woord, Jesus Christus, glo! Hierdie parallel word vandag steeds deurgetrek deur baie mense wat glo hulle plekkie in die hemel is geboek omdat ‘n voorganger, byvoorbeeld ‘n oupa of familielid, wat getrou was of nog steeds is, aan God, vir hulle ook ‘n plek in die hemel waarborg.
Geen mens kan op enige ander mens se geloof in Jesus Christus, deel in die saligheid nie. Elkeen van ons moet eerder daardeur inspireer word om onsself te bekeer (Luk. 3:8). Ons moet ook onthou dat God se liefde totaal onafhanklik is van ons gedrag of gesindheid. Al wat ek en jy moet doen is om te glo ons sondeskuld is betaal – die kruis op Golgota is die waarborg daarvan. Jesus het ons plek aan die kruis ingeneem: “Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het” (2 Tim. 1:9).
Indien Jesus se Vader my en jou Vader ook is, is ons deel van hierdie eksklusiewe gesin. Afgesien van wie ons is, heilige of sondaar; van wat ons gedoen het, goed of sleg; die lewende Christus bied aan ons sy verlossing en die hoop op die ewige lewe in God se hemelse koninkryk. Met ander woorde, ons bevind ons dan in die Drie-enige God se magsgebied, en Jesus deel nie sy aardse woning met enige ander inwonende vyandige magte nie. Al wat ek en jy moet doen, is om te glo en te bely dat ons Christus nodig het en nie sonder Hom kan lewe nie. Ek glo jy wat hier lees sal met my saamstem: Verlossing is nie ‘n fantasie nie, maar ‘n voldonge feit.
“Wanneer ons kinders van God geword het, moet ons nog leer om soos hulle te leef en te praat ook” (Robert Battles).
Gebed: Dankie Jesus dat U gesorg het dat U Vader my Vader ook is. Dankie Vader vir die verlossing wat U my geskenk het deur Jesus Christus. Dankie Gees van God, U teenwoordigheid is die fondament waarop ek my hoop van sekerheid kan bou. Amen.
Comments