Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Apr 18
- 4 min read
Vrydag, 18 April 2025
Koos Espach
Annas en Kajafas verhoor Jesus
Elke dag ‘n getuie van Jesus
Joh. 18:19-21 – “19 Die hoëpriester (Annas) het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20 Jesus het hom geantwoord: ‘Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21 Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.”
Joh. 19:18 – “By Kopbeenplek, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota, het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.”
Daar moet getuies gebring word wat beskuldigings kan aanvoer, en nou wys Jesus daarop dat dit nie moeilik is om ten opsigte van sy leer, getuies te vind nie. Daar is baie wat Hom gehoor het; hulle weet wat Hy gesê het en is daarom bevoeg om te kom getuig. Hy het “in die openbaar met die mense gepraat, in die sinagoges en in die tempel gepreek waar al die Jode”, Fariseërs sowel as Sadduseërs, “gereeld bymekaar kom.” Daar is dus baie wat Hom gehoor het. Hy het niks “in die geheim” gesê nie.
In sy antwoord verwys Jesus nie na sy dissipels nie. Vir Hom sou dit ’n pynlike vernedering gewees het om te vertel dat een Hom verraai, ’n ander Hom verloën en die ander Hom in die steek gelaat het. Die Jode wat na Hom geluister het, is deel van die menigte wat later sou skreeu: “Kruisig Hom!” Vir ons Christene wat die afloop van hierdie verhoor reeds ken, is dit ‘n pyniging om van die magspeletjies te lees. Die haat, die leuens, die vasberadenheid om van Jesus ontslae te raak.
Ons wil vandag amper uitskreeu en vra wat het van reg en geregtigheid geword? Tydens hierdie onregverdige, lamlendige “verhoor” van Jesus, is geen bewyse gevind dat Hy Hom skuldig gemaak het aan enige misdryf nie. Jesus was veroordeel voor Hy verhoor was. Hy het geen kans of hoop gehad op geregtigheid nie. ‘n Rukkie is Kajafas en Pilatus ook in die kollig – Pilatus se vrou waarsku hom maar die Jode skreeu – en Pilatus was sy hande letterlik in onskuld en laat Jesus kruisig.
Jesus se kruisiging was nie ‘n romantiese gebeurtenis nie, maar skrikwekkend wreed. Tussen twee misdadigers word Hy opgehang. Die geweld van die stamp om die kruis te laat regop staan, maak dat sy arms uit potjie ruk, sy spiere skeur. Skok, bloedverlies en hartstilstand bespoedig Sy dood. Nakend, sonder enige klere, hang Hy daar, onherkenbaar vermink en vervorm deur die sonde en pyn van die mensdom. Hy word uitgelewer aan die spot en vernedering van mense wat Hyself geskep het. Terwyl sy bloed langs die kruis aftap, daag mense wat daar verby loop Hom uit om Homself te red. “Net so het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes ook spottend vir mekaar gesê: ‘Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie!” (Mark. 15:31).
Jesus het vir ongeveer ses ure op daardie Goeie Vrydag, wat eintlik die donkerste Vrydag was, aan die kruis gehang en gedurende hierdie verskriklike ses ure aan die kruis, sewe keer gepraat. Vir die godsdiensleiers van die Jode was die kruisiging van Jesus ‘n simbool van oorwinning en hulle het probeer om vir oulaas Hom te verkleineer: “Die priesterhoofde en skrifgeleerdes het spottend vir mekaar gesê: ‘Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie! Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo!’ (Mark. 15:31-32). En só het dit geëindig. Een laaste uitroep: “Dit is volbring!”, ‘n sug, en alles was verby. Jesus se lang lydensweg bereik sy dieptepunt!
Dit is die prys wat Jesus moes betaal om ons met God te versoen. In die middel hang Hy as’t ware as Middelaar tussen God en mens – die plek waar hemel en aarde mekaar weldadig ontmoet. Tussen hemel en aarde hang Hy as ‘simbool’ dat sowel die hemel en die aarde Hom verwerp het – die hemel omdat Hy die pyn en wroeging van biljoene mense, die ganse mensdom, se sonde moes dra; die aarde wat Hom nie wou hê nie omdat Hy te rein was, Hy nie ingepas het by die beeld wat mense van die Messias vir hulleself geskep het nie, mense met teleurgestelde verwagtinge wat die Joodse volksbelange kon behartig.
Ons lewensweg is met dorings bestrooi, daarom is Jesus se kroon van dorings, vir ons ‘n hulp langs hierdie weg. Met die vier spykers wat Sy liggaam deurboor het, het “Hy my naam in Sy handpalms gegraveer” (Jes. 49:16). Pyn, skande en dood is ’n daaglikse werklikheid. Hoeveel vloek en spot kan ons dra? Dit vat fisies aan ons waar ons dit nie kan vat nie. Die pyn van elke siekte wat ooit op mense gekom het, selfs die verskriklike pyn van elkeen wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, het Jesus fisiek gedra. Hy het die mislukking van elkeen wat sy lewe opgemors het, op Homself geneem deur een van ons te word. Die spotters se ‘triomf’ het daardie Vrydag tot ‘n einde gekom. Ons gelowiges se lewegewende dinge het toe eers begin! En ons kan nie, ons mag nie daaroor stilbly nie!
“To this day the final argument for Christianity is Christian experience. To this day the Christian is the man who can say: ‘I know Jesus Christ, and I know that these things are true" (William Barclay).
Gebed: Here Jesus, dat ek vandag met vertroue kan getuig: Ek ken Jesus Christus en ek wéét dat álles wat in die Skrif oor U geskryf is, die waarheid is! Here Jesus, help my deur U Gees om hierdie waarheid met ander te deel. Amen.
コメント