top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Apr 30
  • 4 min read

Woensdag, 30 April 2025

Koos Espach


Die wet en die sonde (4)


Wêrelds of Geestelik? Pasop vir ‘dooie’ sondes


Rom. 7:14 – “Ons weet tog die wet is Geestelik, maar ek is aards en soos ‘n slaaf aan die sonde verkoop.”

 

Vergelyk ook Joh. 16:13 –“Wanneer Hy kom, die Gees van die Waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.”

 

Paulus volg nou met ‘n hartseer prent van iemand wat probeer om die wet van God in eie krag na te kom. Ons kan aflei dat hy verskriklik wanhopig is wanneer hy homself meet aan die “Geestelike wet” van God en dan erken dat “hy aards is en soos ‘n slaaf aan die sonde verkoop is.” Die vraag is egter of hy na homself verwys wanneer hy  vanaf vers 7 verskeie keer van “ek” praat? Wie is hierdie “ek”? Verskeie verklaarders aanvaar met redelike sekerheid dat dit hier gaan oor die Jood wat deur die wet voor God geregverdig wil word, en dit nie kan regkry nie. Maar wie is hierdie Jood? Is dit nie dalk Paulus self nie? Meer hieroor later.

 

Andrew Murray skryf dat Paulus hier onderskeid tref tussen die twee soorte Christene. Die mens se natuurlike lewe, die “ek” waarna Paulus verwys, “is aards en soos ‘n slaaf aan die sonde verkoop”, en is dus geheel en al wêrelds. Met die mens se bekering word hy of sy ‘weergebore’ en ontvang die wedergebore-Christen die Heilige Gees, en so begin die stryd tussen die sondige natuur van die mens en die Heilige Gees. Solank ons Christene die Gees toelaat om in ons te heers en ons te lei in die Waarheid (Joh. 16:13), word die Gees se krag in ons groter en word ons geestelike mense. Dan kan ons met sekerheid ervaar dat ons sondige natuur gekruisig is. Die vloekdood wat ons verdien het, het saam met Jesus Christus aan die kruis gesterf.

 

Maar, soos ons reeds genoem het, net toe ons dink ons het darem nou al met die hardnekkige sonde klaargespeel, steek die simpel ding weer sy kop uit. Dis amper asof ons ‘n vrees het, daardie “wat as” wat vastrapplek kry in ons hart. Ironies is daardie “wat as” presies die teenoorgestelde van die Waarheid van ons geloof, hoop en sekerheid. Satan se metodes is subtiel. Hy is geslepe en gebruik kragtige ‘wapens’ om ons te verlei. Onthou hoe hy Jesus in die woestyn vir veertig dae probeer versoek het – ‘n Koninkryk in ruil vir ‘n kniebuiging! (Matt. 4:1-11).

 

Dit word vertel van ‘n Italiaanse seiljagspan wat in Australië was om aan die wêreldkampioenskappe deel te neem. Hulle is uitgerus met “Gucci designer sportswear” en met hulle aankoms in Australië huur hulle ‘n Land-Rover om die land eers te verken. Hulle ry per ongeluk ‘n kangaroe raak, klim uit en neem ‘n paar foto’s. Hulle is lus vir ‘n bietjie sports, trek vir die dooie kangaroe ‘n Gucci baadjie aan en nog foto’s word geneem. Skielik word die ‘dooie’ kangaroe weer lewendig en spring die bosse in. Iewers “Down under” is daar ‘n modebewuste kangaroe met ‘n Gucci-baadjie, Land-Rover sleutel en ‘n Italiaanse kredietkaart in sy sak.

 

Net soos hulle ‘n vals aanname gemaak het oor die ‘dooie’ kangaroe, net so kan ons vals aannames maak oor die sondes wat ons op ons eie baas geraak het. Enigeen wat trots is op sy eie krag waarmee hy ‘n stuk sonde oorwin het, is kwesbaar – die sonde gaan weer sy kop uitsteek. Satan versoek ons nie slegs sodat ons die verkeerde dinge sal doen nie, hy versoek ons sodat ons dít sal verloor wat God tydens ons wedergeboorte in ons geplaas het – die Seun van God wat in ons gevorm is, “Christus wat in ons gestalte kry” (Gal. 4:19). En dit is net die Heilige Gees wat dit kan identifiseer as ‘n versoeking van Satan!

 

Daar is geen twyfel in Christus se Waarheid nie. Die Heilige Gees is ons belangrikste verbindingslinie tussen hemel en aarde. Hy kom maak God se wil aan my en jou bekend. Hy sorg dat ons op die Geestelike-koers bly. Hy lei ons om meer van God en sy Woord toe te pas en daarvolgens te lewe. Ek en jy moet dus daardie “wat as” met die Gees ruil vir sy “Ek weet” en begin om in sy Waarheid en volgens God se wil te leef.

 

Ons sondes is geen rede waarom ons van God af moet wegbly nie. Trouens, dit is die rede waarom ons na Hom toe moet gaan! Onthou in versoekings-oomblikke dat Jesus ook in die woestyn versoek is en dat Hy die Heilige Gees by Hom gehad het om Hom by te staan. Die Gees verstaan ook my en jou nood en wanneer ons na Hom toe draai en vra vir hulp, sal Hy ons bemagtig om Satan se versoekings, wat in vele gedaantes na ons toe kom, in staat stel om ons positief en oorwinnend daarteen te laat stry. Die Drie-enige God is deur bemiddeling van die Heilige Gees by elke Christen betrokke. Die Heilige Gees sal deur Christus aan my en jou die oorwinning gee wat Jesus rééds oor die Bose behaal het. Die goeie nuus is, as kinders van God is ons dan Geestelik ingestem, en nie wêrelds nie. Ons is ín die wêreld, maar nie ván die wêreld nie!

 

“Die beste en hoogste doelwit van hierdie lewe is om stil te wees en toe te laat dat God deur die Heilige Gees in ons lewe werk en praat” (M. Eckhart).

 

Gebed: Heilige Gees van God wat in my woon en aan my krag gee en lei, help my asseblief om op my hoede te wees vir die opstaan van daardie ‘dooie sondes.’ Met U bystand en bemagtiging sal ek die aanslae van Satan verduur en in die Naam van Jesus Christus oorwin. Loof die Here, want Hy is goed! Amen.

 

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page