Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Apr 19
- 5 min read
Saterdag, 19 April 2025
Koos Espach
As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025.
Jesus se pad na glorie
Die graf word bewaak op Stil Saterdag
Matt. 27:62-64a; 65-66 – “Die volgende dag, die dag na die Vrydag, het die priesterhoofde en die Fariseërs by Pilatus gekom 63 en vir hom gesê: ‘Meneer, ons onthou dat toe daardie bedrieër nog geleef het, hy gesê het: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opgewek word.’ 64 Gee dan bevel dat die graf drie dae veilig bewaak word ...’ 65 Pilatus antwoord hulle: ‘Hier is vir julle ‘n wag; gaan beveilig die graf so goed julle kan.’ 66 Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wag daar te laat bly.”
Ek het baie lank gelede hierdie storie raakgeloop. Kan nie meer al die detail of die skrywer onthou nie maar deel dit graag.
Liewe vriende, my naam is Fervius Vitelius. Ek is ‘n Romeinse offisier van die Julius Ceasar Dinastie, en het ‘n storie wat ek op hierdie Stil Saterdag met julle wil deel. Ek het die afgelope paar dae iets besonders beleef wat ek in my dertigjarige lewensbestaan, nog nóóit beleef het nie. Ek het ná skool, my weermagkursus voltooi en vinnig deur die range gevorder tot offisier, en later in bevel geplaas van honderd manskappe.
Ek het tien dae gelede die opdrag van die Vorstehuis ontvang om na Jerusalem te gaan en moontlike opstande daar te gaan beheer. Dit was blykbaar die jaarlikse paasfees van die Jode en duisende pelgrims regoor die wêreld kom by ‘n tempel, wat vir die Jode ‘n baie heilige plek is, bymekaar om hulle God te vereer.
Verlede Sondag moes ons inderhaas vanaf ons barakke na een van die ingange van Jerusalem vertrek. Van die Olyfberg se kant af het ‘n man op ‘n donkie aangery gekom en talle van die Jode het voor hom uitgeloop en uit volle bors hom toegejuig: “Loof die Koning ...!” Hulle het klere voor hom uitgegooi, palmtakke geswaai en uitgeroep: “Eer aan God in die hoogste hemel.” Dit het nie vir my sin gemaak nie – ‘n Koning op ‘n donkievul terwyl hulle, hulle God in die hemel daarvoor eer?
Vrydagnag, net na middernag, is ek beveel om saam met ‘n sekere Judas, na die Tuin van Getsemane te gaan en daar ‘n Man van Nasaret in hegtenis gaan neem. Ons was baie, tussen vier- en ses honderd om een man te gaan vang? Daar aangekom, het ‘n Man nader gestaan en gevra na wie ons soek. Ek het geantwoord: “Jesus van Nasaret.” Sonder om te huiwer het Hy gesê: “Dit is Ek!” Ha, julle moes dit beleef het! Baie van die soldate het op die grond neergeval dat jy net sien wapens en fakkels trek. Een van die manne wat saam met hierdie Jesus was, het ‘n kort swaard uitgepluk en ou Malgus se oor afgekap! Hierdie Jesus het Malgus se oor aangeraak en dit het dadelik genees! Sjoe! Wat het hierdie rustige man verkeerd gedoen dat die Joodse Raad Hom so haat?
Ek het Hom maar geboei en na die Joodse Raad geneem, want dit was my opdrag. Vroeg gisteroggend moes ons Hom na die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus toe neem. Ek kon toe in die lig waarneem dat dit dieselfde “Man op die donkie” was. Baie Jode het buite gewag en geskreeu: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Nooit! Van hulle was dieselfde mense wat Hom verlede Sondag geëer het? Arme Pilatus het verbouereerd heen en weer tussen die Jode en hierdie Jesus, gehardloop. Alhoewel hy onseker was, lewer hy “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode,” so wragties oor om gekruisig te word?
My manskappe moes Hom eers gésel. Dit was vrééslik! Elke katshou het stukke vleis uit sy ontblote liggaam geruk. Die manskappe was meegesleur deur hierdie klomp skreeuende Jode en het ook later Hom begin spot en slaan. Ons het vir Hom as sogenaamde koning, ‘n pers mantel aangetrek en ‘n kroon van doringtakke op sy hoof geplaas. Van die manne het op Hom gespoeg, geslaan en Hom verneder. Daarna het ons Hom deur die nou straatjies van Jerusalem na ‘n Kopbeenplek, ‘n heuweltjie buite Jerusalem, geneem. Hy moes self sy kruis dra. Hy was egter al so swak van al die mishandeling, dat hy onder die kruis se gewig geval het. Ek moes ‘n ander man wat deel van die toeskouers was, opkommandeer om Sy kruis verder te dra.
Om gekruisig te word, is verskriklik wreed. Terwyl ons met lang spykers sy polse en voete aan die kruishout vasspyker, het hy iets geprewel van “Vader vergeef hulle ...!” My manskappe het geloot en Sy bloedbevlekte klere onder mekaar verdeel. Hy het nog ‘n paar keer gepraat en toe word dit helder oordag ewe skielik baie donker! Net daarna het Hy hard uitgeroep: "Dit is volbring!" sy asem uitgeblaas en gesterf. Die aarde het begin bewe en die grafte het oopgegaan; die mense wat dood was het uit die grafte gekom. Ons paar soldatjies daar by die kruis het verskriklik bang geword! Ek het toe besef: “Hierdie man was werklik die Seun van God!” (Mark. 15:39).
Selfs ek en my manskappe wat gister die kruisgebeure beleef het, weet dat ons hier nou met God self te make het en dat ons poging om ‘n verseëlde graf vandag te bewaak, eintlik lagwekkend is. Ek, Fervius Vitelius, Romeinse offisier in bevel van honderd manskappe, het gister by die voet van die kruis van Jesus van Nasaret gestaan en kan bely: “Wat daar gebeur het was iets anders, onbeskryflik anders, iets wonderliks het met my gebeur! Terwyl Hy daar gehang het, kon ek sien Hy was nie alleen nie.
By daardie kruis het Jesus van Nasaret gister op Goeie Vrydag, deur God se genade vir my, Fervius Vitelius, ‘n nuwe oorwinning bewerkstellig. Hy het my ‘n nuwe mens gemaak met ‘n nuwe hart. Daarom loop ek ‘n nuwe pad! Dit is nie meer mý pad en mý wil nie, maar Gód se pad en Gód se wil!” Wat het dit aan jou gedoen? Het daar iets met jou ook gebeur, of was en bly jy maar net 'n toeskouer? Onthou, sonder God is daar geen lewe oor nie!
“Op Golgota was ons elkeen daar. Net, die een wat gely het, was nie ek of jy nie; dit was die Een wat gesterf het in ons plek” (Anton van Niekerk).
Gebed: Hemelse Vader, ek kon hierdie week op die spoor van U Seun die lydensweg loop. Dankie Here Jesus dat U vir my die “Man van Smarte” geword het, dat U as gevolg van my oortredings deurboor is. Al U lyding, smaad, U pyn, U smart, elke spyker, die spiessteek, elke kruiswoord, U Godverlatenheid – was álles, om mý ontwil. Laat my deur U lyding, die aakligheid van die sonde waarneem. In diepe dankbaarheid wy ek myself opnuut aan U. Maak my U getroue getuie, laat my met ‘n Christushart, U onbaatsugtige liefde deel en leef! Amen.
Comments