top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Apr 23
  • 4 min read

Woensdag, 23 April 2025

Koos Espach


Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3)


Diens vir my en jou is nie opsioneel nie


Rom. 7:4 – “Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou ‘n vrugbare lewe lei in diens van God.”

 

Vergelyk ook Matt. 20:28 – “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

 

Dit is dalk nodig dat ons ‘n bietjie goed nadink oor wat ‘n lewe van vrugdra vir God, alles inhou. Wat beteken dit om ‘n vrugbare lewe te lei in diens van God? Andrew Murray sê ek en jy as gelowiges in Christus Jesus, is nie net dood vir die sonde nie, maar vir die wet ook. Daar is nou ‘n nuwe lewe wat deur die krag van die Heilige Gees vir ons oopgemaak word. Die vraag is of ek en jy as Christene se lewe voldoen aan ware vrugdra in diens van God? Hoeveel van ons tyd is ek en jy in diens van God nuttig? Die geheim van ware vrugdra is om die voorbeeld van Jesus te volg.  

 

Na aanleiding van die dissipels, Johannes en Jakobus, se wens om ereposisies in Jesus se aardskabinet te beklee en die voorste gestoeltes in die koninkryk vir hulleself toe te eien, druk Jesus dit op hulle hart dat die koninkryk van God op ’n radikaal ander beginsel berus as die koninkryk van die wêreld. In die Godsryk is “om te regeer” gelyk aan “om te dien”. Wie groot wil wees, moet dus nie daarna streef om met geweld te regeer nie, maar om in liefde te dien. Die enigste weg tot grootheid is dié van klein-wees in belang van die naaste, is dié van selflose dienslewering aan die medemens.

 

Hoekom moet Christene só optree? Hoekom versoek Jesus dat ons eerder agter in die ry moet inval as om, soos maghebbers te veg vir die voorste gestoeltes? Eenvoudig – Jesus het dit gedoen! Hy het die voorbeeld gestel! Hy was bereid om die hoogste posisie in die hemel te verruil vir die laagste posisie op aarde, bloot omdat Hy omgegee het vir die mens, vir my en jou! “Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” Jesus draai geen doekies om nie. Hy sê uitdruklik: Ons moenie baklei vir die voorste gestoeltes nie, by ons moet dit nie so wees nie. Ons moet dienaars wees!

 

Christene wat dien, is nie opsioneel nie. Dis nie iets wat ek en jy in ons skedules kan inpas wanneer ons eendag tyd het nie, eendag wanneer ons oud is, afgetree is, eendag wanneer ...? Ons teksvers wys Jesus het gekom om “te dien” en “te gee” – twee werkwoorde wat elke Christen se leuse behoort te wees. Ag, en nou moet ons maar eerlik wees, en ek sluit myself daarby in – dis nie ons natuurlike aard om te dien nie.

 

Aan die einde van ons lewe hier op aarde, gaan ek en jy, ons álmal, voor God staan en “elkeen sal dan oor homself (en haarself) aan God rekenskap moet gee” (Rom. 14:12). Dan gaan Hy vergelyk hoeveel tyd en energie ons aan onsself bestee het, in vergelyking met wat ons aan diens vir Hom en ons medemens afgestaan het. Ek wil nou nie profeties klink nie maar ek dink dáárdie dag gaan ons selfgesentreerde verskonings maar hol klink. “Maar Here, ek was baie besig met ...; ek het my eie doelwitte en drome gehad om eers af te handel; ek moes baie oortyd werk om kos op die tafel te sit; ek kon nie want ...!” (Vul solank jou eie lysie van verskonings in.)

 

Elkeen sal ‘n legio verskonings kan voorlê, en  God se reaksie dalk: “Jammer, verkeerde antwoord! Ek het jou geskep, nodig gehad om te getuig, om te dien, om liefde te deel. My Seun het deur sy menswording, sy lydenspad, sy kruisiging en dood, jou dienaar en slaaf geword en Homself as ‘n losprys gegee om jou as sondeslaaf van die sonde los te koop. Watter dele daarvan verstaan jy nie?”

 

God wil my en jou gebruik om ‘n verskil in die wêreld te maak, om diensknegklere aan te trek. Hy kon engele gebruik om sy werk op aarde voort te sit, maar Hy wil deur óns werk. Ons moet sy hande en voete op aarde wees en maak nie saak hoe lank ons leef nie, die belangrike is hóé ons leef.

 

Wanneer ons eers besef het dat Jesus ons gedien het tot in die diepte van ons selfsug en sonde “en sy lewe vir ons gegee het as losprys”, sal niks ons kan weerhou om ander vir sy onthalwe te dien nie. God kan my en jou ook gebruik in sy diens maar dan moet ons bereid wees om agter in die ry in te val waar Hy ook staan. Hoe lyk dinge by my en jou? Is ons die deurwagters wat vir ander mense die beste plekke aanwys, of sit ons heerlik gemaklik in die voorste gestoeltes terwyl ons wag om bedien te word? Is ons bereid om meer af te staan as wat Hy van ons vra?

 

“As ek geen liefde vir ander het nie, geen begeerte het om ander te dien nie, en net oor my eie behoeftes bekommerd is, moet ek wonder of Christus werklik in my lewe is” (Rick Warren).

 

Gebed: Jesus Christus, Dienaar van God en heilige Voorbeeld, stel my in staat om ‘n dienskneg van U vir my medemens te wees, sonder enige bymotiewe. Ek wil uit dankbaarheid dien, want “God het my gemaak wat ek nou is: in Christus het Hy my geskep om my lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy my bestem het” (Ef. 2:10). Help my asseblief om op te hou verskonings maak, terug te deins wanneer U iets van my vra. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page