Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 1 day ago
- 4 min read
Donderdag, 8 Mei 2025
Koos Espach
Die wet en die sonde (8)
In eie krag steeds gevangene van die wet
Rom. 7:21-23 – “So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22 Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23 maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.”
Vergelyk ook Gal. 3:1-3 – “Is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang! 2 Net een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo? 3 Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig?”
Ons het aanvanklik gewonder na wie Paulus verwys wanneer hy verskeie kere in hoofstuk 7 oor “ek” praat. Hier in vers 22 blyk dit inderdaad moontlik dat Paulus oor sy eie verlede praat. Hý is die Jood wat met hart en siel die wet van Moses liefgehad het en dit probeer hou het om deur God aanvaar te word. Hy het selfs die volgelinge van die Here met die dood gedreig daaroor! (Hand. 9:1). Maar agterna het hy besef dit was onmoontlik as gevolg van sy magteloosheid. Hy het hom vasgeloop teen die Here van die gelowiges! En sy lewe was nooit weer dieselfde nie.
Paulus praat vanuit die ervaring van ons gelowiges. Die diepe teenstrydigheid in ons lewe is dat ons aan die een kant in Christus bevry is van die kwaad en die kwaad haat, maar aan die ander kant tog nog steeds die prooi is van ’n mag wat in ons sondige aard aanwesig is. Sonde is ‘n mag. Dit bring mee dat ons die goeie wat ons wil, nie kan doen nie, maar juis die kwaad doen wat ons nie wil doen nie. Ons haat die sonde, stem toe dat die wet van God goed is, distansieer onsself van die kwaad wat in ons woon en wil die goeie doen (v. 18-19). Daar heers ’n innerlike tweespalt by ons tussen die werklikheid in Christus as nuwe mense wat saam met Christus opgestaan het uit die dood, en die ou werklikheid wat die oorsaak van ons kragteloosheid en sondige aard is.
Maar Paulus, met respek, is jy nie bietjie hard op ons gelowiges nie? Kan ons gelowiges nie ‘n meer optimistiese beeld van die oorwinning oor die sonde verwag nie? Ja, ons erken ons ervaar die mislukking én die oorwinning, die mag van die ou sondige aard én die krag van die nuwe lewe wat deur die Gees in ons bewerk word. Aan die een kant het ons die wil om die goeie te doen, maar aan die ander kant doen ons tog die slegte. Diep in ons wese is daar ’n vreugde in die wet van God, maar as dit by ons dade kom, dan word die ander ‘wet’ sigbaar – die sondige wet. Maar na alles wat jy tot dusver aan ons voorgehou het, verdien ons seker bietjie beter.
Ek dink ou Paulus sou geantwoord het: “Juis daarom is julle nog nie vry nie, julle is selfs ‘gevangenes van die wet van die sonde wat in julle doen en late aan die werk is.’ Julle probeer regtig hard om ‘n Christelike lewenstyl te openbaar en teen die sonde te stry, maar in eie krag. Die gevolg is dat julle steeds ‘n verloorstryd voer.” Toe God ons die eerste keer geskep het met ons geboorte, was ons splinternuut – nuwe hande, nuwe voete, 'n nuwe mond, nuwe oë, álles nuut! Niks hiervan het voorheen aan iemand anders behoort nie, álles oorspronklik aan onsself.
Maar die sonde het ons verander. Dit wat God vir ons met ons geboorte gegee het, is verwoes. Ons gebruik ons oë om na onreinheid te kyk, te begeer en die verkeerde te soek. Ons is blind vir die waarheid. Ons hande word gebruik om pyn en verwoesting te veroorsaak; ons voete om die verkeerde paaie te loop, ons gedagtes om die verkeerde dinge te bedink ... “ons het met die Gees begin; nou wil ons in eie krag eindig.”
Paulus tref eintlik ‘n onderskeid tussen twee soorte Christene. Ons natuurlike lewe is geheel en al wêrelds. Met ons weergeboorte het ons “die Heilige Gees ontvang deur die evangelie te glo.” Ons wéét van die Gees, maar die sondige natuur kry telkens die oorhand en ons bly swak. Ons probeer op eie krag verbeter, maar mettertyd kry die sondige natuur die oorhand sodat ons geen mag het om die ‘gees van die wêreld’ teen te staan nie. Al is ons splinternuut gemaak, laat ons partykeer toe dat die mag van die sonde ons weer van vooraf beetpak.
Ons kan egter op die Heilige Gees reken om ons met hierdie tweestryd te help. Ons kan elke oggend begin in God se teenwoordigheid en Hom dank vir die gawe van die Heilige Gees wat my en jou in staat stel om in Jesus se liefde en gehoorsaamheid te bly. Ons kan vas glo dat die drie-enige God in ons hart werk. Dit is die enigste verstandige manier om die kosbare lewe te benut wat God ons geskenk het!
“Meer heiligheid gee mee, meer gloed in my hart, meer troos in beproewing, oor sonde meer smart”
(Halleluja 314:1).
Gebed: Hemelse Vader, openbaar aan my wat wêrelds en wat geestelik is. Stel my in staat om myself volkome oor te gee aan die leiding van u Gees. Amen.
Comments