Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- May 6
- 4 min read
Dinsdag, 6 Mei 2025
Koos Espach
Die wet en die sonde (6)
Ken jouself
Rom. 7:18 – “Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie.”
Indien Paulus na homself verwys, is hy nie die ou wat die slegte dinge wil doen nie, maar die sonde wat in hom woon. Hy herken eintlik dat hy “weet die goeie nie in hom woon nie.” Daar is ‘n verskil tussen homself en die sonde wat in hom woon. Hy wil nie die slegte dinge doen nie, maar die sonde laat hom die slegte dinge doen. Hoe moet ons dit verstaan? Toe ons ou mens saam met Christus aan die kruis gesterf het en ‘n nuwe mens in ons opgestaan het, het die sonde nie verdwyn nie. Die sonde bestaan nog, dit is nog daar. Ons is net nie meer ‘n slaaf van die sonde nie, alles is vergewe, maar die sonde is nog daar.
So is daar die sonde wat in my en jou woon en daar is ons self – die nuwe ek en jy deur ons eenwees met Christus. Die sonde is nie ons self nie, dit woon bloot in ons – “die goeie woon nie ons nie”, soos in Paulus die geval is. Maar Paulus, hoe is dit moontlik dat die goeie nie in ons woon nie? Ons maak tog erns met ons verhouding met God. Ons lees ons Bybel, ons bid, ons loof en prys God, ons hoor Sondae die wet en weet wat goed en reg is – en tog hou ons nie altyd koers nie!
Dit is dan wanneer ons onsself toewikkel in ‘kamoefleerdrag’, daarin begin leef en selfs vergeet wie ons werklik is. Ons plaas eerder ‘n masker op en begin toneelspeel as om eerlik na onsself te kyk. Uit ons eie aanvaar ek en jy dat “ons immers weet dat die goeie nie in ons woon nie, nie in ons sondige aard nie,” en glo ons: “ek is so gemaak en so laat staan.” Dan sukkel ons maar voort in die ‘ou mens’ se bestaan soos wat ons was voor ons nuut gemaak is deur Christus se kruisdood en opstanding. Ons maak ons wys dat die sonde ‘n vastrapplek in ons het, al ken ons ons Bybel hóé goed en al het ons ál die beste Christelike voornemens wat bestaan.
Daardie gesegde dra nie water nie want God maak nie foute nie. Ons kán nie deel wees van daardie “so-gemaak-en-so-gelaat-staan” mense nie. Ons is na God se beeld gemaak, (Gen. 1:26), ons is ‘n skepping van God. Ons moet dan besef, ons kan nie eers probeer om die sonde situasie self reg te maak nie, reg te dink of sommer vroom te probeer reg leef nie. Ons is net nie self opgewasse teen hierdie ewige sonde-stryd nie. Ons kan nie self weerstand daarteen bied nie. Hoe harder ons op ons eie probeer, hoe dieper sak ons in die dryfsand van sonde weg!
Is daar ‘n antwoord? Moet ons nie maar aanvaar ons is aan die sonde uitgelewer nie? Nee! Nooit! Ek en jy moet net erken ons is net mense, nie superwesens van die een en twintigste eeu wat onafhanklik op ons eie kan regkom nie. Daar is ‘n Antwoord! Ons is nie alleen in ons worstelstryd nie. As verloorders kan ons wenners word! Jesus Christus het ons reeds op die wenpad geplaas. Hy het reeds daardie “so-gemaak-en-so-gelaat-staan” mens in my en jou verander. Hy het reeds die bose ons-dink-ons-wen-en-dan-verloor-ons kringloop verbreek. As ons dit nie glo nie, maak ons Jesus tot leuenaar, maak ons sy kruisdood en opstanding tot niet!
Ons is Koninkrykskinders en ons is ánders! Ons kan ophou om kwaad te wees vir onsself omdat ons steeds op sekere gebiede sukkel. As ons 'n deel van ons lewe moet verbeter, wees bekommerd daaroor, maar moenie toelaat dat dit ons verteer nie. Ek en jy gaan altyd aan iets moet werk. Om in diepe afhanklikheid van God te leef, maak ons sterk. Afhanklikheid verander ons van ‘n swakkeling na ‘n wenner. Ons moet net erken dat ons die Here in ons lewe nodig het – dis die begin van die wenpad.
Wie ek en jy in Christus is, is 'n uitgemaakte saak. Elke keer as ons misluk, bied Christus sy versoenende bloed aan om ons sonde te bedek. Ons is almal gelyk in Christus. Wanneer Christus deur die Heilige Gees in ons lewe kom, openbaar die Gees aan ons daardie dinge wat so lank reeds verborge gebly het of wat ons onderdruk het. Dan vul Hy ons geestelike lewe met Homself sodat ek en jy besef dat ons deur sy krag, die mens kán word wat God bedoel het ons sal wees.
Elke mens het in die hart en gedagtes van God begin. Dit is waar ons regtig vandaan kom en dit is die enigste konteks waar ek en jy ons ware identiteit ontdek. God het Sý beeld op ons afgedruk en dit met Christus se bloed verlos. Hý bepaal ons waarde en ons is al wat Hy belangstel om te hê. Daar is slegs één ding wat ons definieer: God het vir jou en my, as Sy “verteenwoordiger, sy beeld” gemaak. Christus wil in ‘n wenverhouding met my en jou staan. Daarvoor moet ons God dank – die lewe is nie ‘n verloorstryd nie. Jesus Christus verander die “ek wil” en “ek kan” van ons alleenstryd, na “ons kan” wanneer die Heilige Gees in ons lewe begin werk.
“Sonde is ‘n krag in ons lewe. Laat ons duidelik verstaan dat dit alleen deur ‘n groter Krag oorwin kan word” (Henry Drummond).
Gebed: Dankie Here dat U my geskep het en U beeld op my afgedruk het sodat ek U verteenwoordiger op aarde kan wees. Dankie vir elke klein oorwinning in my lewe. Lei my asseblief steeds op die regte oorwinningspad. Amen.
Comments