top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 12 minutes ago
  • 4 min read

Woensdag, 7 Mei 2025

Koos Espach


Die wet en die sonde (7)


Die verdeelde self


Rom. 7:19-20 – “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20 En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.”

 

Dit klink asof Paulus homself herhaal wanneer hy hierdie hartseer prentjie van ‘n verskeurde mens wat die goeie wil doen, maar deur die sonde gekeer word om dit wel ten uitvoer te bring. Ek meen, die wens om God te dien, Hom te gehoorsaam en die gepaardgaande afkeer van die sonde is tog aanwesig by elke Christen. Die verlange om God se wil te doen, die wil om met dít wat God verbied het te breek, word dus ’n haat vir en ontvlugting van die sonde. Dit word as’t ware ‘n positiewe begeerte om God te gehoorsaam, 'n lus en liefde om na die wil van God te leef en te doen wat Hy graag wil hê ons moet doen.

 

Maar o wee, elkeen van ons ken in ‘n mindere of meerdere mate die innerlike konflik wat ons verdeel. Ons worstel met die keuse wat ons wil uitoefen om die goeie te doen, maar dit tog weer verbrou. Daar is tye wanneer ons ‘n oorweldigende begeerte het om eerbaar te leef, veral ná die aanhoor van ‘n goeie preek. Dit is asof ons weer ons oog op die goeie gekry het en dan begeer om dit in die praktyk toe te pas. Die verlange na en die bewuste keuse vir gehoorsaamheid is teenwoordig. En dit is die teenoorgestelde van sonde! Ons weet verseker dat ons nog nie volmaak is nie, maar ons jaag dit na soos Paulus: “Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het” (Fil. 3:12).

 

Iemand het gesê die kwaad is naby. Dis by elkeen aanwesig en ons raak maklik daaraan gewoond. Maar ons weet ook dit gaan ten koste van ons berou en verdriet wees. Sonde is juis dit waaraan ek en jy nie gewoond mag raak nie, maar wel mee moet rekening hou. Uit die Kategismus (HK Sondag 52), ken ons ons drie doodsvyande: die duiwel, die wêreld en ons eie vlees – ons eie ek. Dit is hierdie eie ek wat juis die gevaarlikste is. Die duiwel kan iets by ons bewerkstellig, die wêreld beïnvloed ons só maklik, juis omdat die eie ek, self so swak is.

 

Oswald Chambers vra tereg of ‘n sondaar kan verander word in ‘n heilige? Kan my en jou skewe lewe reguit gemaak word? Kan ons verander om “die goeie te doen wat ons wil doen?” Daar is net een gepaste antwoord: “... dit weet net U, Here my God?” (Eseg. 37:3). Dit is wel in ‘n ander konteks geskryf, maar kan hier toegepas word. Ons lewe is nie ’n lewe van net sonde nie. Goddank! Dit speel egter altyd ’n rol in ons lewe. Die goeie in ons lewe waaroor die Here opreg bly is, bly gebrekkig. Maar die Heilige Gees bring egter ware visie in ons tot stand wat ons wil wys hoe ons sou lyk sonder die genade van God, en ons ‘dwing’ om te wil verander om wel die “goeie te wil doen!”

 

Diep in ons Christene leef die nuwe wil en die bereidheid om van harte voor God te buig. Daaroor verheug ons God Hom! Dit is dan ook God se eie werk. Hy spoor ons so deur sy Gees aan tot ’n nuwe ywer wie ‘n nuwe gehoorsaamheid in ons bewerk. Die eindelose stryd tussen goed en kwaad in ons lewens, kan alleen opgelos word as die Heilige Gees volkome beheer oor elke faset van ons lewe in sy hande hou. Nuwe lewe is moontlik omdat Jesus deur Sy Gees in ons woon!

 

Ek en jy kan vir seker weet dat Jesus altyd die beeld van God in ons raaksien. Ons is eers as beeld van God geskep (Gen. 1:27), en daarna het mense gesondig! Daarom het Jesus Christus ons kom verlos, sodat ons weer beeld van God kan wees! Die onbegryplike waarheid is dat die lewende Christus in ons glo. Hy verwag nie meer van ons as waartoe ons in staat is nie. Maar Hy verwag dat ons wel sal probeer om die goeie te doen. Wanneer ek en jy bid dat die Heilige gees ons ook hierin sal help, sal ons besef dat die werk van die Heilige Gees, kan word wat God bedoel het hoe ons moet wees.

 

“Elke keer wanneer ek en jy bely: ‘Ek glo in die Heilige Gees,’ bedoel ons daar is ‘n lewende God wat magtig en gewillig is om ons menslike persoonlikheid binne te dring en dit te verander” (JB Phillips).

 

Gebed: Here, help my deur die krag van U Gees om naby U te leef en U te vertrou vir die toekoms. Help my in my stryd om net die goeie te doen want ek struikel dikwels. Staan my by en lei my elke tree van my pad. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page