top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 18 April 2024

Koos Espach


Paulus voor die Joodse Raad (2)

 

Lééf ons geloofsoortuiging

 

Hand. 23:2-4 – “Toe beveel die hoëpriester Ananias die mense wat by Paulus staan, om hom op sy mond te slaan. 3 Daarop sê Paulus vir hom: ‘God sal jou slaan, jou skynheilige!’ Jy sit hier om my volgens ons wet te verhoor, maar in stryd met die wet beveel jy dat ek geslaan moet word.’ 4 Die mense wat by Paulus staan, sê toe vir hom: ‘Skel jy die hoëpriester van God uit?”

 

Paulus se inleidende woorde spreek van waarde juis om die haat-atmosfeer van die vergadering te kalmeer. Elkeen daar kry nou te doen met sy gewete en met God. Die hoëpriester Ananias (nie dieselfde Ananias wat Paulus in Damaskus besoek het nie), was ampshalwe voorsitter van die Raad. Hy  sien dat hy die beheer van die vergadering verloor en gryp daarom hardhandig in. Al het Paulus niks verkeerd gesê nie, kan sake nie so aangaan nie. Daardie vrypostige mond van Paulus moet tóé, en hy gee aan die mense langs Paulus, opdrag om hom op die mond te slaan.

 

Paulus, die ‘aangeklaagde’, moet nog volgens wet geoordeel word of hy skuldig is aan enige misdryf, maar word nou geslaan asof hy reeds skuldig is. Dit is onwettig en buitendien diep vernederend vir Paulus, vir enige Israeliet en vir enige mens. Die geklapte mond van Paulus gaan egter vinnig weer oop en hy sê vir Ananias: ‘God sal jou slaan, jou skynheilige!’ Paulus loop dieselfde hardhandige pad as wat Jesus geloop het tydens sy verhoor voor Annas, hoëpriester van daardie tyd – “... een van die wagte wat daarby gestaan het, het Jesus geklap en gesê: ‘Antwoord jy die hoëpriester so?’ 23Jesus sê toe vir hom:’As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?” (Joh. 18:22-23). 

 

Een van die geregsdienaars, ’n man van geen besondere status of gesag nie en wat maar net daar gestaan het tydens Jesus se verhoor, meen dat hy die eer van die hoëpriester moet beskerm. Hy doen dit op ’n drastiese manier deur Jesus ’n klap in die gesig te gee. Die belediging van so ’n klap veroorsaak dieper leed as die liggaamlike pyn. Dié optrede het Jesus egter nie ontwrig nie. Hy het ten volle in beheer gebly van die situasie en die man rekenskap van sy optrede gevra.

 

Jesus het niks weggesteek nie. Sy boodskap is vir die mensewêreld bedoel om te hoor. As ‘n mens egter nie die boodskap van Jesus wil hoor nie, sal dit geslote bly en reageer ‘n mens soos die wag wat Jesus geklap het. Niks wat Jesus gesê het, en steeds vir ons wil leer in die Bybel, is verkeerd of vals nie, dit hang af hoe ons daarna luister of nie wil luister nie.

 

Die hoëpriester Annas het Jesus ondervra “oor Sy leer” (Joh. 18:19b), maar wou nie eintlik luister na Sy antwoord nie. Hy laat die geleentheid verbygaan om die boodskap van God, by Sy Boodskapper te hoor en stuur Hom eerder weg na Kajafas. Annas het Jesus nie net as ‘n misdadiger behandel nie, maar ook te kenne gegee dat Hy skuldig is. Daardeur het hy die smaad verhoog wat Jesus aangedoen is.

 

Ons wil vandag amper uitskreeu en vra wat het van reg en geregtigheid geword? Tydens hierdie onregverdige, lamlendige verhoor van Jesus, is geen bewyse gevind dat Jesus Hom skuldig gemaak het aan enige misdryf nie. Hy was veroordeel voor Hy verhoor was. Hy het geen kans of hoop gehad op geregtigheid nie. Lukas beskryf hoe Sy bewakers Jesus bespot, geblinddoek en Hom geslaan het. Jesus moes dan as “profeet” raai wie Hom geslaan het (Luk. 22:63-65). Hy het egter standvastig gebly want Hy het geweet dat Hy die wil en plan van God uitvoer.

 

‘n Klap in die gesig, tref die siel van die mens, aldus die geleerdes. Jesus, asook Paulus se voorbeeld onder die uiterste uitlokking, is ‘n aanmoediging vir my en jou en elke gelowige wat in dergelike omstandighede kan beland. Nadat ons die Here Jesus ontmoet het soos Paulus, verander dit ons gewete daagliks. Ons groei elke dag deur ons verkeerde oortuigings te laat vaar. Jesus het die pad na vergifnis vir ons oopgemaak en ons word nou deur die Heilige Gees oortuig dat wat ons doen en glo, reg is. Dit gee ons innerlike vrede in die plek van enige skynheilige skuldgevoelens van die verlede. Al deel die wêreld klappe uit aan ons, ons kan ons geloofsoortuiging uitleef en wéét: “God vergewe my en jou opstandigheid, Hy dink nie meer aan ons sondes nie” (Jes. 43:25).

 

“Daar is min dinge wat die Christendom so diskrediteer as Christene wat vroom praat oor die wêreld daar Bo, terwyl hulle aanhou om presies te leef soos die wêreld hier onder” (W.W. Griffen).

 

Gebed: Dankie Jesus dat U sóveel ontbeer het omdat U my liefhet. Skenk my die vrug van selfbeheersing soos wat U tentoongestel het in U voorbeeld onder uiterste uitlokking. Help my om my lojaliteit aan U nie in eie krag te soek nie, maar in die krag wat die Gees my skenk. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page