top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 7 minutes ago
  • 4 min read

Woensdag, 19 November 2025

Koos Espach


Die verlossing is vir elkeen wat glo (7)


Viva vox evangelii

 

Rom. 10:15b – “Daar staan ook geskrywe: ‘Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”

 

Vergelyk ook Heb. 10:24-25 – “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.”

 

Paulus het in Romeine 10:14-15 vir ons ‘n paar besliste Christelike “riglyne” uit God se Woord gegee waaraan ons kan vashou. Namate ons met toewyding groei en standvastig bly aan sy Woord wat goed is en dit beoefen, maak die Gees ons sterker en kan ons verbly word in die werklikheid van hoop. Dus is dit wonderlik as ons die “voetstappe hoor van hulle wat die goeie boodskap van Christus verkondig.”

 

Ons gelowiges in Christus Jesus het ‘n verantwoordelikheid om ons denke, ons lewe, ons álles, onder nuwe Bestuur te plaas, want “ons is lede van dieselfde liggaam” (Ef. 4:25b). Met God as ons Bestuurder en die Heilige Gees wat ons in sy waarheid lei, verhelder ons verstand, kry ons insig en groei ons geloofsekerheid dat Jesus vir ál ons sondes gesterf het, dié wat ons reeds gedoen het, dié wat ons nog gaan doen en selfs dié waarvan ons nie eens weet nie! Oorgawe aan nuwe Bestuur is dus noodsaaklik maar ook ‘n voortdurende stryd teen alles wat in die pad kom van volle toewyding aan God.

 

Hoe word en bly dit moontlik om toegewyd te wees? “Moenie van die samekomste van die gemeente wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om te gaan.” Daar kan “ons na mekaar omsien, mekaar aanspoor tot liefde en goeie dade.” Deur die Heilige Gees leer ons uit die Boek van God die Alwyse en kan “ons die Here prys in die samekoms van die gemeente” (Ps. 26:12). Wysheid wat nie uit die Woord van God kom nie, is eiewysheid en dit verval in valse wysheid! Daarenteen, “deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur. 15Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan” (2 Kor. 2:14b-15).

 

Omdat “ons lede is van dieselfde liggaam”, mag ons nie los van mekaar staan nie want dan mis ons die liefde, krag en vrede van God. Ons is aan mekaar verbind deur God se onverbreekbare verbond met ons. Om ander te help is om God se voete en hande op aarde te wees – “Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei” (Kol. 2:19). Dit help dus nie net om kerk toe te gaan en ‘n passasier te wil wees nie. Dit maak net so min van my en jou ‘n Christen as wat ons ‘n motor word wanneer ons ‘n motorhawe binnegaan. Ek en jy is daar om te help om mense se leë lewens te vul met die evangelie – óns is die kerk!

 

“By die samekomste van die gemeente” word ons stil voor God, bid ons vir ander en onsself en is die leraar ‘n voorspraak vir almal. Daar kan ons ‘n verwagting koester van goeie dinge in die wete dat dit in ooreenstemming met God se wil is vir ons lewe. Daar lê krag in gesamentlike gebed, al voel dit soms dat ons nie alles kan uitdruk in woorde nie, wéét ons die Gees verander ons stamelende en eenvoudige woordjies in hemeltaal: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Rom. 8:26).

 

“By die samekomste van die gemeente” kry ons krag om verder te kan dien! “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring” ... “omdat ons nie is soos baie ander wat geld maak uit die woord van God nie. Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God” (2 Kor. 2:17). So ‘n boodskap is ‘n tydige boodskap, ‘n boodskap wat iemand se lewe kan red, omdat dit iemand daartoe kan bring om God in geloof aan te roep. Wat kan beter nuus wees as dat ons in gesprek mag gaan met die Een wat ons lewe in sy hande hou, die Een voor wie ons skuldig staan, en dat ons vrygespreek word deur sy Naam op ons lippe te neem.

 

“Waar ook al die Woord van God suiwer verkondig word, dáár bestaan die kerk van Christus, al is dit ‘n gemeenskap vol foute” (Johannes Calvyn).

 

Gebed: “Vader, Seun en Gees, werk in U gemeente, Here. Reinig ons deur U genade, laat ons offers heilig wees, U is heilig, maak óns heilig deur die werking van U Gees” (Liedboek 475:2). Laat ek nie van “die samekomste van die gemeente” wegbly nie, skenk my deur U gees dáár die krag om verder te gaan dien. Ek bid dat U, hulle wat nog in die donker van onwaarhede leef, sal lei na die vleesgeworde Woord, Jesus Christus, ons Enigste Verlosser. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page