top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 14 minutes ago
  • 4 min read

Vrydag, 21 November 2025

Koos Espach


Die verlossing is vir elkeen wat glo (8)

 

Lewende woorde van ‘n lewende God

 

Rom. 10:15b-18 – “Daar staan ook geskrywe: ‘Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.’ 16Die Israeliete het egter nie almal aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja sê immers: ‘Here, wie het die prediking geglo wat ons gehoor het?’ 17Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus. 18Maar ‘n mens sou kon vra: ‘Het die Israeliete dan nie die prediking gehoor nie? Alte seker het hulle gehoor! Die Skrif sê: ‘Hulle prediking het oor die hele wêreld weerklink, hulle woorde tot by die uithoeke van die aarde.”

 

Paulus se ‘gespreksgenoot’ soek nou ‘n volgende uitvlug: “Toegegee, die evangelie is wél verkondig, maar het Israel dit straks nie gehoor nie?” Paulus antwoord daarop: “Alte seker het hulle gehoor!” Ter stawing haal hy uit Psalm 19:5 aan: “Hulle prediking het oor die hele wêreld weerklink, hulle woorde tot by die uithoeke van die aarde.” Vir Paulus was dit onbegryplik dat Israel nié die evangelie kon gehoor het nie. Jesaja het eeue gelede al getuig dat die boodskappers van die goeie boodskap na Israel “gestuur” is. Hulle het dus geen verontskuldiging nie. Die weg tot verlossing was eeue gelede al aan hulle bekendgemaak.

 

Die Jode “het egter nie almal aan die goeie boodskap gehoor gegee nie.” Daarom het Jesaja eeue gelede al gekla: “Here, wie het die prediking geglo wat ons gehoor het?” (Jes. 53:1). Dan herhaal Paulus asof hy die posisie van Israel duidelik wil stel: “Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.” 

 

Ek lees onlangs van ‘n bekommerde ma wat wonder of haar kinders ook in Christus sal glo soos wat sy en haar man glo. Sy verduidelik dan dat hulle as ouers hul uiterste bes probeer om ‘n goeie Christelike voorbeeld te stel en hulle kinders opvoed in huisgodsdiensroetines. Maar, gaan sy voort, God is uit ons skole gehaal – wat gaan die uiteinde van ons kinders se lewens wees? Die Bybel leer ons: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Hand. 16:31). Sal hulle kinders ook glo? Kan hulle seker wees hulle kinders gaan die ewige lewe beërwe, al sien hulle geen tekens van geestelike diepte by hulle nie?

 

Ons leef in ‘n post-Christelike era, ‘n tyd waar mense vir hulleself ‘n wet geword het. Hulle besluit sélf wat om te glo en wat nie. Hulle is wel bewus van die dinge wat God in sy Woord van ons vra, maar nie almal rig hulle lewens volgens die Woord in nie. Ons staan op heilige grond want dit is die Heilige Gees wat geloof in ons en ons kinders se harte werk. Paulus sê vandag vir ons: “Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.” Word ons kinders groot onder die geklank van die Evangelie? Praat ons met hulle oor God, oor sy sorg en liefde, sy gebooie, kruisdood, opstanding ...? Daar waar die Woord gesaai word, laat die Heilige Gees geloof opkom!

 

Paulus vermaan ons ook in 2 Korintiërs 13:5: “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe.” Wat sien ons kinders wanneer hulle kyk na ons lewe? Kinders glo wat hulle sien! Om ‘n ouer te wees, is genade van God. Dit is ‘n voorreg om verantwoordelik te wees vir die welsyn, sorg en ordelike lewe van kinders. Gesinsvorming is ‘n uiters verantwoordelike roeping van ouers. Ons moet hulle met die hulp van die Heilige Gees laat opgroei sodat hulle tot eer van God kan leef. Ongelukkig is niemand volmaak nie. Almal is vol foute en tekortkominge en selfs die beste pogings om ‘n kind blink te poets, aan te moedig, forseer, omkoop of ompraat, gaan nie altyd die resultate lewer wat ‘n ouer verwag het nie.

 

Wanneer ons egter met ons Bybel besig raak en na die “prediking wat ons hoor, luister,” praat God persoonlik met ons en word my en jou geloof gevoed deur die woorde van sy Woord. Die Psalmdigter bevestig dit: “Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is. Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig” (Ps. 19:8-9).

 

Ons moet ons kinders voorgaan in geloof, sodat hulle kan glo. Ons moet onsself ondersoek en seker maak dat ons eie saak reg is met God. Ons moet bely deur gebed dat ons nooit ons roeping as ouers sal kan verwesenlik vanuit ons eie kragte nie. God luister na elke gebed wat opgaan tot die redding van ons kinders. Wees gerespekteerde voorbeeld vir ons kinders, uit respek vir God en respek vir ons kind(ers). Maak seker dat hulle ons voorbeeld volg deur in Jesus Christus te glo, dat hulle “met hulle monde bely dat Jesus die Here is, en met hulle harte glo dat God Hom uit die dood opgewek het, dan sal hulle gered word” (10:9).

 

“Deur die eeue was kinders nog nooit goed daarmee om na hul ouers te luister nie, maar hulle het nog nooit probleme gehad om hul ouers se respek te aanvaar en hul voorbeeld te volg nie – goed en sleg”

(James Baldwin).

 

Gebed: Here, dankie vir die genade om kinders te mag hê. Skenk my die genade om hulle groot te maak in U weë, die krag en die wysheid om hulle te vertrou in hul vermoëns en met liefde en respek hul foute ook te aanvaar. Ek kan slegs met vertroue regop staan en die uitdagings van kinders met respek groot maak, as ek eers op my knieë voor U was. Ek besef ook dat terwyl ek kinders het, my gebede op my knieë, nooit eindig nie. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page