Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 15 hours ago
- 4 min read
Maandag, 17 November 2025
Koos Espach
Die verlossing is vir elkeen wat glo (6)
Dóén die genadewoord (2)
Rom. 10:14-15a – “Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie?”
Paulus se volgende vraag wys daarop dat die Ou Joodse Volk hoegenaamd geen verontskuldiging het nie. Sy ‘gespreksgenoot’ probeer telkens ‘n nuwe uitvlug ter verontskuldiging van Israel soek, maar Paulus sny spreekwoordelik elke verontskuldiging af. Hier probeer Paulus se ‘gespreksgenoot’ redeneer of die prediking van die evangelie wel plaasgevind het? Paulus bevestig weereens uit Jesaja 52:7 dat “die goeie boodskap wel gebring” is – jammer, geen verskoning, geen verontskuldiging.
“En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?” Daarom die rede dat ons moet kerk toe gaan om te hoor wat die prediker, onder andere van Christus vertel in wie ek en jy moet glo om gered te kan word! Ons kan “nie van die samekomste van die gemeente wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om te gaan, na mekaar omsien, mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade” (Heb. 10:24-25). Die prediker, met die Bybel oop voor hom of haar, gee vir ons as’t ware ‘n goeie begrip van onderskeidingsvermoë sodat ons God kan vertrou. Dit stel ons in staat om te weet wie ons is en aan Wie ons behoort!
‘n Goeie begrip van God se gepreekte Woord, lê weer die grondslag van deernis. Deernis deur ‘n leefstyl van omgee, liefde en versorging. Luister wat sê Paulus: “So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry. Julle onthou immers nog, broers (en susters), hoe ons geswoeg en gesweet het.” (1 Tess. 2:8-9). Hierdie versorging van die persoon aan wie die evangelie verkondig word, beteken ook dat ons hoorders, ander sal waarsku, bemoedig, versterk, vertroos.
Om ‘n Christen te wees is nie net ‘n saak van die hart nie, maar ook van die mond. Soos God se Woord deur die prediker ‘n stem in ons hart word, moet dit ook ‘n stem in ons mond word – ons moet dit bely, ons kan nie stilbly nie. Ons moet daarvan vertel. Maar dit is onmoontlik om daarvan te vertel as ons net so nou en dan van God hoor. Indien ons glad nie van God hoor nie, is dit moontlik dat ons harte vol gestop word van onsedelike vuilheid en allerhande onwaarhede. Daarom is dit nodig om gereeld die “samekomste van die gemeente” by te woon sodat ons bemagtig kan word om die vertelling van God voort te sit.
Is ons, as die mens wat God aanroep, wie Hy wil hê ons moet wees? Jakobus se raad is dat ons van die “sedelike vuilheid en ongeregtigheid” moet afstand doen – dit “opruim.” Maar hoe kan ons ontslae raak daarvan? Sy antwoord is eenvoudig: “Neem die woord ootmoedig aan wat God in ons geplant het, want dié woord kan ons red.” Die Heilige Gees werk nie met geweld nie, Hy vermaan en berispe met liefde. Die ingeplante woord “groei” binne ons en bewerk dus ‘n lewensverandering. Hierdie “ingeplante woord” kry dan kans om wortel te skiet.
Indien ons dus nie gereeld na God se “gestuurde” luister nie, verstop ons ore en is God se Woord weg voor dit kon wortel skiet. Die Woord word dan deur “onkruid” verstik. Dit is daarom nodig om die grond van ons harte skoon te skoffel sodat “al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid wat so welig tier,” plek kan maak vir ‘n nuwe inplanting in die hart wat ons herskep en “kan red.” Elkeen wat die Redder deur die gepreekte Woord ontvang, ontvang redding. Wat ‘n wonderlike troos!
“Geen mens is so ver verlore dat ‘n goeie preek van God se Woord hom of haar nie kan vind en kan red nie” (William Barclay).
Gebed: Gewer van alle goeie gawes, ons hef ons oë op tot U o Heer. Dankie dat U in genade op ons neersien: op elke prediker dat U Woord na die mening van U Gees gebring word en elkeen van ons hoorders, dit met geopende ore en begerige harte kan ontvang. Plant U woord in ons en bevry ons van alle sondige begeertes, ydele gedagtes en herskep ons harte sodat ons kan dors na U redding. Ek bid ook vir die leraars en hulle gesinne wat U aan ons gemeente toevertrou het, dat hulle afhanklik bly vir die nugtere leiding van U Woord. Gee dat hulle vreesloos sal opstaan vir die waardes van U Woord. Beskerm hulle teen wanhoop en onsekerheid wanneer hulle moeilike besluite moet neem. Dit vra ek in die kragtige Naam van Jesus Christus, ons Here. Amen.

Comments