top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 5 days ago
  • 4 min read

Maandag, 10 November 2025

Koos Espach


Die verlossing is vir elkeen wat glo (3)

 

Bely en glo en word gered

 

Rom. 10:8b-13 – “En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: 9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.”

 

Geloof is vir baie Christene van vandag, gekompliseerd. Baie boeke is al daaroor geskryf en miljoene woorde daaroor gepreek, bespreek en ge-uiter – alles pogings om mense te help. Toe Paulus hierdie brief aan die gelowiges in Rome geskryf het, was dit vir hulle waarskynlik nog méér gekompliseerd. Ons moet onthou dat Paulus dié brief geskryf het vir Ou Testamentiese Christen-Jode en bekeerlinge uit die geledere van nie-Jode (heidene), wat die Joodse geloof aangeneem het en later Christene geword het, en hulle gevestig het in Rome.

 

Wat was so gekompliseerd vir hulle? Die woord “Here” het vir hulle ‘n dubbele betekenis gehad wat as dit vertaal word, in Grieks onder andere, “Kurios” beteken, en in Hebreeus “Adonai”. Hierdie jong Christen-gemeente het in die stad Rome, met meer as ‘n miljoen mense gewoon waar die Romeine die keiser as die “Kurios” aangespreek het. Hy was die hoogste gesag en het gehoorsaamheid vereis. “Om met jou mond te bely dat Jesus die Here is”, is om te sê die keiser is nie die Here nie, maar Jesus is; die keiser is nie die hoogste gesag in my lewe nie maar Jesus is. Ek gehoorsaam dus vir Jesus en nie die keiser nie! Paulus, hoe nou gemaak in hierdie keiserstad? Dit kan my dood beteken!

 

Vir Paulus was dit egter ‘n uitgemaakte saak: Verlossing is alleen vir elkeen wat glo in die opgestane Jesus Christus, ons lewende Here! Paulus roep ons op tot oorgawe en geloof in Christus, om sodoende verlossing ons eie te maak. Dit is tog die doelwit van alle Christene. Deur die daad van geloof en die daad van belydenis, vorm dit saam die één daad van toeëiening van die vryspraak wat deur ons God van genade gegee word. 

 

Hoe word hierdie woord só in ons gevestig dat dit in ons mond en in ons hart is? “In jou hart” wil sekerlik sê dat hierdie nie sommer maar net iets is wat gesê word sodat ons iemand kan beïndruk wat my en jou dan sal beloon vir wat ons gesê het nie. “In jou hart” wil sê hierdie woord het ‘n wesenlike deel van my en jou lewe geword wat daadwerklik bevéstig, dat Jesus Christus die Here is.

 

Niemand kan die koninkryk van God ingaan slegs deur godsdienstige ervaring nie. Die wesenlike daarvan is geloof in Jesus Christus en die ervaring daarvan, vereis totale oorgawe aan Hom. Daarom het God deur sy genade besluit om deur die prediking wat vir die wêreld, die sogenaamde slim woordvoerders en leermeesters onsin is, dié te red wat glo: “Die Jode vra wondertekens, en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke (en ons gelowiges), is Christus die krag van God en die wysheid van God. Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense” (1 Kor. 1:22-25). 

 

Vir Paulus en vir ons gelowiges is die belydenis van Jesus Christus se opstanding uit die dood, ‘n 30cm verhouding: van die mond tot die hart, ‘n liniaal lengte. As ons nie “met ons mond bely dat Jesus die Here is, en met ons hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het nie”, “is ons geloof waardeloos en is ons nog gevange in ons sondes” (1 Kor. 15:17). Hierdie toestand sou lei tot die ontkenning van ons geloof, ‘n ontkenning dat “God het (Koos) so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat (Koos) wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16 – 1983 vertaling). (Vervang my naam met jou naam en tel die woorde). Totaal van 30 woorde, soortgelyk aan die 30cm liniaal geloofs-verhouding volgens Paulus. Liniaal in Engels is ‘n ruler – maak dit jou eie en bely “Jesus Christ is the Ruler of my life!” Nie die keiser, of die wêreld, of enigiemand anders nie.

 

God se genade-hart wil elke mens red! Sy mond het nog nooit ophou roep nie – daarom het Hy sy Seun gegee om ons met Hom te versoen. As ons bely ons glo in Hom, spreek Hy ons vry; as ons met ons hart glo Hy het Jesus uit die dood opgewek, is ons gered! Só eenvoudig is dit. Kom ons volg Hom, en kom ons bely Hom op die manier wat Hy in sy Woord leer. Dit is veilig, dit is heilig, dis die moeite werd want dit is ‘n belofte met ewigheidswaarde!

 

“God het in Jesus Christus alles gedoen wat vir ons redding gedoen kon word. Alle ander godsdienste draai om wat die mens nog moet doen om vryspraak te kry met pogings van die mens se kant af om by God uit te kom, terwyl Hy al reeds in Christus na ons toe gekom het” (Malcolm Smith).

 

Gebed: Almagtige God, dankie dat U my as sondaar verwelkom het, my beklee het in Christus se geregtigheid, my ook U kind gemaak het. En al wat ek moet doen is om “met my mond te bely dat Jesus die Here is, en met my hart glo dat U Hom uit die dood opgewek het, dan sal ek gered word.” Heilige Gees, versterk my deur ons Vader se genade, dat my geloof in Jesus Christus my Verlosser, nie sal taan nie en dat ek elke dag daarin standvastig sal bly. Ek dra ook elkeen aan U op wat hulle steeds in die donker van die sonde bevind, om ‘n u-draai  te maak en hulle ten volle oor te gee aan die lewende Christus, sodat hulle ook deel van God se familie word, en die ongekende liefde, vreugde en vrede in Hom kan vind. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page