top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Nov 7
  • 4 min read

Vrydag, 7 November 2025

Koos Espach


Die verlossing is vir elkeen wat glo (2)


God is net ‘n gedagte ver

 

Rom. 10:8a – “Nee, die Skrif sê: ‘Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.”

 

Paulus het Woensdag vir ons verduidelik hoe naby ons is aan die skat van die evangelie. En verrassenderwys het ons gesien dat die godsdienswoord in die wetsbeskouing juis nie gesien is as die krampagtige nakoming van gebooie nie, maar as ‘n persoonlike, liefdevolle saak van die hart. Dit is met ander woorde ‘n verhouding met God, en nie ‘n reeks stipulasies nie. Hiermee wil Paulus onder meer aantoon dat die vryspraak is vir dié wat glo in die opgestane, lewende Jesus Christus.

 

Weens ons erfenis van die sonde, voldoen ons nie aan God se slaagsyfer van 100% nie, maar Christus het. Hy het die wil van sy Vader volmaak gehoorsaam en daarom ís Christus die Evangelie! God het Hom en die verlossing daarmee saam, tot by ons gebring! Deur in Hom te glo, word sy prestasies op ons verslag geskryf en in ons CV’s bygevoeg! So en só alleen slaag ons by God en indien ons daaraan gelowig vashou, sal ons nie teleurgestel word wanneer die uitslae eendag bekend gemaak word nie.

 

Aangesien “Christus tog die einde van die wet is” (v. 4), sê Paulus hoef ons nie God se vryspraak ver te gaan soek nie. Al die menslike inspanning om op te klim hemel toe om Jesus af te bring, of om Hom êrens in die onderaardse dieptes te gaan soek, of selfs die grens na die dood oor te steek, is onnodig. Jesus leef en Hy kan ons deur sy Gees, van God se vryspraak, God se woorde wat in die Bybel opgeteken is, verseker: “en hierdie woord is die boodskap van die geloof.” Deur God se genade hoef ons dus nie te swoeg en sweet om die vryspraak te verkry nie. Nee, menslike inspanning is onnodig want die skat is so naby aan ons, “in my en jou mond en in ons hart.” 

 

Hierdie woord van God word ‘n stem in ons lewe, ‘n stem in ons hart en in ons mond, “want waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor.” Wanneer ons stil raak en begin luister na God, en sy Woord soos ‘n saadkorrel in die ‘grond’ van ons harte indruk, spruit die lewe wat God gee, in ons uit. Dit is waarom die Bybel so ‘n belangrike plek in ons geloofslewe inneem. Dit beteken nie om die Bybel te aanbid nie, want ons aanbid God, maar om in die Bybel die lewende woorde van die lewende God te hoor, daarop te reageer en dit wat God vir ons sê en vra, te gaan dóén (Matt. 7:21-23).

 

Ons kan ongelukkig nie God op ons eie manier volg en aanbid nie. Ons kan nie ‘n verbond met óns voorwaardes daarin vervat, met God sluit nie. Die enigste Weg om gered te word, is slegs deur geloof in die soenverdienste van die gekruisigde Jesus, Hý is die enigste Weg ...! Maar, “aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Die deur na die koninkryk van God is so laag soos die ingang na die geboortekerk van Jesus in Betlehem: Ons moet eers in nederigheid laag buk, selfs op ons knieë gaan, om te kan ingaan.

 

Natuurlik is daar baie dinge waarin mense van mekaar mag verskil, maar ten opsigte van die redding bestaan daar geen onderskeid nie. Elkeen wat God aanroep sal vind Hy is ryk aan genade en daarom is die weg na redding, ‘n eenvoudige weg vir elkeen wat dit wil betree, al is dit só laag dat dit nodig is om op ons knieë te gaan. ‘n Onwrikbare geloof in Christus is absoluut noodsaaklik want daarsonder kan daar by ons geen oortuiging van die realiteit van God wees nie.

 

Ons oorwinning in hierdie lewe begin waar ons God se stem moet hoor. Ongelukkig, in ons moderne wêreld is daar 'n oorvloed van geraas – sosiale media, werkseise, die (slegte) nuus, en ons eie gedagtes. Dit kan voel asof God se stem in hierdie chaos verdwyn. Tog is dit presies hoekom Jesus Christus gekom het om ons te versoen met ons Vader. Hy het die skeiding (sonde) kom verwyder, die voorhangsel is geskeur. Ons hoef dus nie meer te worstel, te offer, en inspannend te sukkel om God se stem te hoor nie. Iemand het gesê ons moet soos ‘n bergpoel met water word, kristal helder blink soos 'n spieël op 'n windstil dag. Dit is hoe ons harte stil moet word, om God se stem te kan hoor. Hoe meer ontstuimig ons binnewêreld, hoe moeiliker is dit om God se stem te onderskei. Sjuut, word stil en luister aandagtig!

 

“Die menslike denke is swak en kan bedrieg word; maar ware geloof in Jesus Christus kan nie bedrieg word nie” (Thomas Kempis).

 

Gebed: Hemel Vader, as dit nie vir U leidende stem uit U woord was nie, sou ek al lankal ‘n groot gemors gemaak het van alles wat ek aanpak. Dankie dat ek die reis met U woord kon begin, die reis waarin U teenwoordig is. Here, ek wil kom stil word, hier aan U voete. Ek wil kom hoor wat U vir my sê. Ek luister Here! Amen.

 
 
 

Comments

Couldn’t Load Comments
It looks like there was a technical problem. Try reconnecting or refreshing the page.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page