Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 2 days ago
- 4 min read
Woensdag, 26 November 2025
Koos Espach
Die oorblyfsel van Israel (1)
God se trou
Rom. 11:1-2a – “Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?’ sou iemand kon vra. Beslis nie! Ek is immers self ook ‘n Israeliet, ‘n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin. 2God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie.”
Vergelyk ook Ps. 94:14 – “Die Here verstoot nie sy volk nie, die volk wat aan Hom behoort, laat Hy nie in die steek nie.”
Die ongehoorsaamheid en weerspannigheid van Israel, bring onwillekeurig die vraag na vore: “Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” Die feit dat Israel God verlaat het en dat “God Hom laat vind het deur die heidene wat Hom nie gesoek het nie en God verskyn het aan mense wat nie na Hom gevra het nie” (10:20), het waarskynlik mense oor die misterie van die Joodse volk, die natuurlike nasate van Abraham, laat wonder. Dit blyk dat Paulus se ‘gespreksgenoot’ eintlik ‘n negatiewe antwoord verwag. Nou dat hierdie nuwe bedeling waarin die heidennasies ook deel van God se volk geword het, het God nie dalk Israel verwerp nie?
Die antwoord is ‘n besliste nee, en hiervan is Paulus self ‘n bewys. Paulus voer aan dat God nog ’n oorblyfsel van Israel gered het waarvan hy, sélf as voorbeeld dien. Hy is immers ‘n volbloed Jood en ’n afstammeling van Abraham uit die stam van Benjamin. As God hóm kon begenadig en gered het, ’n eertydse lasteraar van Christene wat hulle so gruwelik vervolg het, sal God beslis met sy reddende liefdeswerk, ander Jode ook begenadig en red.
Hy beroep homself vir sy oortuiging dat “God sy volk lank tevore verkies het en nie verstoot het nie”, ook op die Skrif uit die profeet Samuel se tydperk: “Ter wille van sy groot Naam sal die Here nie sy volk prysgee nie (1 Sam. 12:22). Uit die boodskap van die Skrif en die geskiedenis van Israel is dit duidelik, God laat Hom nie van sy heilsplan met Israel afsien deur die volk se hardkoppigheid nie. God se wil en heilsplan word deur sy Almag uitgevoer om in liefde, die wêreld te red en heel te maak.
Ons lewende God van die Bybel is nie emosieloos nie. Hy is heeltemal anders as die mens wat opvlieënd, selfgerig, magsbehep en wraaklustig is. God is liefde – God hét ons lief! Hy word wel bedroef en kwaad maar Hy bly altyd dieselfde in sy genadebetoon en heiligheid. God se trou teenoor ons as sy “kinders” verander nooit, dit staan onwankelbaar en onveranderlik vas. Dit is ons mense wat verhard, blind en doof raak vir die evangelie. Sulke mense wíl God se genadewerk nie verstaan nie en raak só betrokke met dinge waarin hulleself glo, dat hulle God se genade nie meer kán verstaan nie.
Wat wel anders is van God, is sy werkwyse. God laat die mens toe om sy eie keuses te maak en uit te oefen. Indien dit die verkeerde keuses is, is God bereid om met die “gewillige oorblyfsel” te werk. Christus is immers uit hierdie gewillige oorblyfsel gebore! Selfs toe die Jode vir Jesus gekruisig het, was dit nog nie die einde van God se pad met Sy volk nie.
Ons word in sonde ontvang en gebore en ons hele lewe is ‘n proses van heling. God is daardie “gom” wat die heling bewerkstellig en aan Hom laat bly “vasklou” deur geloof in Jesus Christus en die werking van die Heilige Gees. Ons sondig steeds daagliks, selfs daarvoor het Christus reeds betaal, maar ons moet tog ons sonde bely en bid vir vergifnis (1 Joh. 1:9). Die versoening wat ons in Christus reeds ten volle besit, moet ons daagliks weer vir ons toeëien en glo dat ons deel van die “oorblyfsel” in God se koninkryk bly.
Hoekom moet ons sorg dat ons deel van die “oorblyfsel” in God se koninkryk bly. Want om getrou te wees aan ons God van geloof, hoop en liefde, is blywend! Verandering is deel van ons lewe. Van ons vroegste kinderjare tot in die gryse ouderdom beleef ons veranderinge wat ons lewe maklik omver kan gooi. God is egter onveranderlik. Hy kom ons in ons nood tegemoet met die vertroosting: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Heb. 13:5). Paulus bevestig God se getrouheid: “En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie ...” (1 Kor. 13:13).
Geloof is blywend: Geloof in God wat alles ten goede laat meewerk; geloof in Christus wat by ons is elke dag; geloof in die Heilige Gees wat ons Trooster is. Hoop is blywend: Hoop op ‘n ewige lewe; hoop dat môre ‘n beter dag sal wees omdat God daarin is. Liefde is blywend: God se liefde vir ons laat ons krag put uit liefde vir Hom en vir mekaar. “Die Here verstoot nie sy volk nie, die volk wat aan Hom behoort, laat Hy nie in die steek nie.” Wat ‘n genadige troos – Ons God is blywend en getrou aan sy beloftes! Hy sal ons nooit verlaat nie!
“God is te wys om ‘n fout te maak, en te liefdevol om iets tot ons nadeel te doen. As jy dus nie sy getroue hand kan sien in dinge wat met jou gebeur nie, vertrou gerus sy liefdevolle hart” (Charles Spurgeon).
Gebed: Ewig onveranderlike God en Vader, dankie dat U trou teenoor my as U kind nooit verander nie, dit staan onwankelbaar en onveranderlik vas. Sterk my geloof, verinnig my hoop en suiwer my liefde deur die werk van u Seun. Dankie dat ek aan U, kan vashou en hard kan uitroep: Elkeen wat in U glo, het eindelose hoop! Amen.

Comments