top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 1 day ago
  • 4 min read

Maandag, 24 November 2025

Koos Espach


Die verlossing is vir elkeen wat glo (9)

 

Hardkoppigheid kos jou baie duur

 

Rom. 10:19-21 – “Of ‘n ander vraag: Het Israel dit dan nie verstaan nie? In die eerste plek wys ek op wat God deur Moses sê: ‘Ek gaan julle jaloers maak op mense wat nie ‘n volk is nie, en julle kwaad maak oor ‘n volk wat nie julle kennis het nie.’ 20En Jesaja gaan selfs verder. Daar sê God: ‘Ek het My laat vind deur mense wat My nie gesoek het nie, Ek het verskyn aan mense wat nie na My gevra het nie.’ 21Maar van Israel sê Hy: ‘Dag vir dag het Ek my hande uitgesteek na ‘n ongehoorsame en weerspannige volk.”

 

Vergelyk weer Rom. 9:30 – “Heidene het nie God se vryspraak gesoek nie, maar dit wel gekry – die vryspraak deur die geloof.”

 

Paulus se ‘gespreksgenoot’ probeer nou ‘n laaste uitweg: “Ek hoor wat jy sê Paulus, en ek stem saam. Dalk hét Israel die evangelie gehoor, maar ‘nie verstaan nie.” Die strekking van Paulus se antwoord is duidelik: Selfs die heidene, met minder kennis as Israel, het dan verstaan en God gevind. Indien dit vir die Jode onverstaanbaar was, was dit dalk ‘n verontskuldiging vir die feit dat hulle nie geglo het nie. Dit kon ook nie moontlik wees nie want hulle was in die besondere bevoorregte posisie om as God se verbondsvolk geseën te wees in die beloofde land. Die eintlike feit is dat Israel wóú nie verstaan nie.

 

Hulle het die Here verruil vir ander gode met die gevolg dat God “hulle jaloers gemaak het op mense wat nie ‘n volk is nie, en hulle kwaad gemaak het oor ‘n volk wat nie hulle kennis het nie” (Deut. 32:21). Die bedoeling was dat Israel eintlik ander volke, sogenaamde ‘onverstandige mense’, moes jaloers maak omdat hulle nie dieselfde geestelike voorregte as Israel gedeel het nie. Israel moes God se heil deelagtig word, terwyl hulle dit verloor het.

 

Paulus verklaar dat Jesaja eeue gelede selfs durf om God aan te haal: God het gesê: “Ek het My laat vind deur mense wat My nie gesoek het nie, Ek het verskyn aan mense wat nie na My gevra het nie” (Jes. 65:1).   Daarmee bedoel hy dat Jesaja se stelling sulke geweldige implikasies het dat ‘n mens dit byna nie kan waag om hom dit na te sê nie. Wat Jesaja sê, is egter die kern van die boodskap van genade: “God laat Hom vind deur mense wie nie na Hom gesoek of gevra het nie.” Israel was in ’n bevoorregte posisie in vergelyking met die heidene en kón dus na God vra en Hom soek. Tog het God Hom nie deur hulle laat vind nie, omdat Israel op ’n verkeerde manier na Hom gesoek het – langs die weg van wet-nakoming en nie langs die weg van die geloof nie.

 

Paulus gaan verder om Israel van die evangelie te oortuig, en haal nog ‘n sitaat van Jesaja aan: “Maar, dag vir dag het Ek my hande uitgesteek na ‘n ongehoorsame en weerspannige volk, ‘n opstandige volk wat ‘n pad geloop het wat nie goed is nie, wat hulle eie kop gevolg het” (Jes. 65:2). Dat Israel dus die vryspraak verloor het, is nie God se skuld nie. Israel wóú nie na die evangelie luister nie, maar het hulle eie kop gevolg en nie die geloofsweg waarop God hulle wou lei, volg nie. Israel kan nie onskuldig pleit nie. Hulle was te trots vir die genade.

 

Paulus het sy uiterste bes probeer om te verduidelik wat hier aan die gang is, en net soos die Jode van sy tyd, bevind só baie mense vandag nog hulleself  in dieselfde gevaarlike posisie waar Godsdiens nie meer ‘n hoë prioriteit by hulle geniet nie. Dit is moontlik dat hulle nie gekant is teen die evangelie nie, of miskien gaan dit ook nie juis te sleg met hulle nie, maar hardkoppigheid en eiewilligheid lei hulle dalk aan ‘n “laat-maar-gaan” sindroom – ons sal eendag ...! Terwyl die evangelie van Jesus Christus inderdaad ‘n skat is wat naby ons is, só naby dat selfs ‘n klein kindjie dit kan ontdek en aanneem.

 

Die evangelie van Jesus Christus vra van ons om ons hardkoppigheid prys te gee, onsself onttroon en God op ons troon sal plaas. As ons vir Paulus vandag kon vra hoekom die evangelie so belangrik is, sou hy dalk geantwoord het: “Die verkondiging van die verlossing deur die kruis is die kern van die redding wat die evangelie ons bied.” Vir dié wat dit ten volle glo en aangryp, is dit ‘n groot rede tot dankbaarheid. Dit gee ons die vrymoedigheid om ons in God te verbly. Niks sal ons harte meer teer op God ingestel hou en ons in staat stel om in sy liefde te leef nie. Ons moet Hom ook bekend maak aan dié wat Hom nog nie gevind het nie. Kom ons loof God vir die verlossing deur die kruis en vertel dit aan almal wat wil luister! Moenie uitstel nie, Hou vas aan Christus, nou, elke dag!

 

“Soos ‘n motor gemaak is om met brandstof te werk, só het God die menslike masjien ontwerp om Hom as brandstof te gebruik. Hy is self die ‘petrol’ wat ons gees moet verbrand – niks anders kan ons ooit so volmaak laat funksioneer as Hy wat ons ontwerp het nie” (CS Lewis).

 

Gebed: Here, ek skiet so ver tekort in my pogings om ‘n behoorlike dissipel van U te kan wees. Stuur my uit om deur U genade, redding deur U kruis te gaan bewys: “God het (my) gemaak wat (ek) nou is: in Christus het Hy (my) geskep om (my) lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy (my) bestem het” (Ef. 2:10). Here, skenk my die genade om my lewe in ooreenstemming met U wil in te rig, laat my in volkome afhanklikheid myself in dankbaarheid op U genade rig. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page