Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 28 minutes ago
- 4 min read
Vrydag, 14 November 2025
Koos Espach
Die verlossing is vir elkeen wat glo (5)
Dóén die genadewoord (1)
Rom. 10:14-15a – “Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie?”
Ten tye van Paulus se skrywe aan die Christen-gemeente in Rome, was daar verskeie “godsdienste” wat geheime paaie na redding verkondig het en sodoende is die mense, net soos vandag, se behoefte na persoonlike kontak met afgode, geprikkel. Dit was dus vir Paulus ontsettend moeilik om die wáre weg tot redding aan sy lesers te bevestig. Intieme belewing van en gemeenskap met Christus, is volgens Paulus afhanklik van die Woord – die klem daarvan op bekering tot God, geloof in Christus Jesus en die inwoning van die Heilige Gees. Die inhoud en oproep daarvan was en is steeds: Bely en Glo – Jesus Christus het vir my en jou sondes gesterf! Ons belydenis dat Hy alléén ons Here is, is ál voorwaarde vir redding, en dit geld vir alle mense, ongeag nasie, ras of geslag!
Vergun ons om vandag aan te sluit by die vorige paar dae se dagstukkies. Ons besef dan om God aan te roep, iets méér is as sommer net uit gewoonte uit want ons wéét mos wie die lewende God is. Hy wil nie net dat ons na Hom luister en Hom aanroep nie, maar hy verwag aksie op ons openbaarmaking van Hom – iets meer as net met ons monde iets oor Hom bely – Hom aan te roep. Hy verwag dat ons in ‘n persoonlike verhouding met Hom moet tree, iets aan ons verhouding dóén en nie net luister nie.
God het Hom aan ons bekend gemaak deur Jesus Christus as die Woord, die Woord wat mens geword het en onder ons op aarde kom woon het (Joh. 1:14). Op hierdie punt vra Paulus ‘n baie belangrike vraag: “Hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie?” Hierdie geloof is dan om met ons mond te bely dat Jesus die Here is en met ons hart te glo dat God Hom uit die dood opgewek het (10:9). As ons dit nie van Jesus glo nie, gaan ons Hom nie aanbid nie. Voor ons Jesus Christus kan aanbid en in ‘n persoonlike verhouding met Hom kan tree, moet ons immers eers in Hom glo. En hoe kan ons in Hom glo? Dit is die goeie nuus van die Nuwe Testament, dit is die lewende God wat praat, en dat sy Woord naby ons is, naby ons gekom het, om die waarheid te sê, sy Woord is in ons mond en in ons hart.
Dit bring ons by die volgende vraag van Paulus: “En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie?” Dit is wat gebeur as ons luister wat die Skrif aan ons openbaar. Ons hoor daarin die gesaghebbende lewende woorde van ons lewende God, woorde wat lewe gee aan ‘n sondige mensdom oor hoe om ons verhouding met Hom te herstel. Dit is woorde wat troos, woorde wat insig gee, woorde wat vreugde en vrede gee. Die Heilige Gees is die Een wat geloof in ons werk. Hy gebruik egter dit wat ons hoor, om hierdie geloof te kweek. Hierdie geloof gaan oor baie méér as net iets vir die waarheid te aanvaar, dit gaan oor ewigheidskwessies!
Hierdie geloof gaan oor aanbidding en verhouding – ons gaan aanbid wat ons glo en in Wie ons glo – dit is die verskil tussen redding en verderf. Ons gaan in ‘n verhouding wees met Jesus Christus wat die grootste inspraak in ons lewe het, Hy wat “die Weg, die Waarheid en die Lewe is” (Joh. 14:6).
Om aan te sluit hierby dink ons aan ‘n ander keer terwyl Paulus in die tronk in Rome sit, en ‘n brief rig aan Timoteus om hom aan te moedig om in ‘n tyd van afvalligheid te volhard: hy moet aanhou om die Woord te verkondig, mense van sy tyd te bemoedig en in geloof volhard. Terloops, álles voorskrifte wat ook van toepassing is vir ons mense van vandag: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek” (2 Tim. 3:16). En dit is die Woord wat ons moet glo en bely, hoor en dóén! En bereid is om ons lewe vir Hom te gee.
“Onthou dat geloof nie net vertroue op Christus se beloftes beteken nie, maar ook verbondenheid aan sy eise” (William Barclay).
Gebed: Jesus Christus ons Here, wys my asseblief opnuut weer waar en hoe ek U moet soek wanneer ek soms voel dat U afwesig is. Ek wéét dit is nie nodig om op te klim na die hoogtes toe nie of af te daal na die dieptes nie, want U het opgestaan, U is by my. My begrip is maar beperk maar ek begryp U is die Waarheid, en dit is wat ek glo. Dankie Heilige Gees dat U die Een is wat geloof in my werk. Gebruik dit wat ek hoor om my geloof te kweek, ook te deel met ander mense wat nog nie die Waarheid wil aanvaar nie. Tot U eer! Amen.

Comments