top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 5 April 2024


Paulus vertel van sy bekering (5)


Hemelse wysheid aan ons geopenbaar

 

Hand. 22:12-15 – “’n Sekere Ananias, ‘n man wat getrou volgens die wet van Moses gelewe het en by al die Jode in die stad hoog aangeskrewe was, 13 het na my toe gekom. Hy het by my kom staan en gesê: ‘Saul, broer, jy kan weer sien!’ En dadelik kon ek hom sien. 14 Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, die Regverdige te sien en sy stem te hoor, 15 want jy sal vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.”

 

Paulus se optrede hier is merkwaardig. Een oomblik stry hy teen die aanranding en seerkry wat hom aangedoen is, dan, asof in dieselfde asem vergewe hy en gaan verder met sy toespraak oor sy Godgegewe taak. Hoe het hy dit reggekry? Vergun my ‘n antwoord wat ek aflei van ‘n studie oor Paulus se lewe. Hy kry dit reg omdat hy homself nie as die middelpunt van sy prediking beskou nie, maar hoe hy sy rol sien as dié van diens aan ander ter wille van Christus. Ek dink as ons vir Paulus sou kon vra of sy lewe ‘n slegte draai gemaak het ná sy bekering, sou hy nee geantwoord het. Ek meen, hy was aanvanklik as Fariseër n ‘groot’ figuur in die Joodse gemeenskap, maar hy sou erken dat dit eintlik slegte tye was, want in God se oë was hy ‘n sondaar. Met sy bekering het alles egter verander.

 

Hy het nou ‘n nuwe status. Sy status het dramaties verander van sondaar na koningskind! En dis hierdie koningskind op wie se lewe Lukas terugkyk en vertel van Ananias wat deur die Here geroep is as getuie om Paulus se opdrag van God aan hom op te dra. Die betroubare Ananias was hier nie net ‘n getuie van wat die Here gesê het nie, maar ook ‘n getuie dat Paulus weer kon sien! Vir die skare moes dit oortuig dat die alwyse God hier aan die werk was. Hierdie God het Paulus uitgekies om sy wil te ken, Jesus as die Regverdige te sien en ook sy stem te hoor.

 

Paulus het gedink dat dit die wil van God was om die volgelinge van Jesus te vervolg. God se wil was egter anders. Paulus moes heeltemal nuut die wil van God leer ken: die nuwe heilsplan van God wat uit genade wil red! En hy as Paulus sal God se uitverkore werktuig wees. Paulus, wie se wil onlosmaaklik verbind was met wat hy met sy eie oë gesien en met sy eie ore gehoor het van die opgestane Christus. Vir alle mense sal hy ‘n getuie wees, Jode en heidene, van toeka tot nou, dat daar net één evangelie is: “Dit moet julle goed besef, broers, die evangelie wat ek verkondig, is nie deur ‘n mens uitgedink nie. Ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of by ‘n mens geleer nie. Inteendeel, Jesus Christus het dit in ‘n openbaring aan my gegee” (Gal. 1:11-12).

 

Iemand skryf Paulus was eintlik ‘n ambagsman (tentmaker) met ‘n vreemde boodskap. Sy storie wat hy aan mense vertel het van Iemand wat niks verkeerd gedoen het nie en tog die mees vernederende dood denkbaar vir ander mense se sonde gesterf het, het seker vir hulle as uiters dom geklink. Wie sou so iets onbegrypliks wou doen? Paulus het egter volgehou, "die evangelie wat hy verkondig, is nie deur ‘n mens uitgedink nie...” Dit wat vir mense onlogies klink en nie na hulle oordeel sin maak nie, is in God se boek eintlik wat wysheid is.

 

‘n Storie word vertel van ‘n Engelse dogtertjie wat tuis kom na haar Sondagskoolles en aan haar ouers vertel hoe magtig en slim God is. Dink net hoe pragtig Hy die reënboog geverf het, “and to think, He did it all with His left hand!” Haar ouers, was ietwat uit die veld geslaan, totdat die dogtertjie vervolg: “My teacher says Jesus sits on God’s right hand.” Eerlike kinderonskuld, en tog het sy iets groots van God se almag en wysheid gesnap.

 

Paulus beklemtoon die feit dat hy sy evangelie deur ‘n hemelse openbaring van Christus sélf, ontvang het. “God se geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind” (Kol. 2:2c-3). God sê daarmee dat Hy nooit opgee met ons nie. Jesus sit nie op God se regterhand nie, maar in die ereplek aan sy regterhand, vanwaar hy met hemelse wysheid sy genadige hande in liefde na my en jou uitstrek. En dit is wat Paulus gesien en gehoor het waarvan hy getuig – gesien en gehoor het van die Regverdige wat agter die skerms in ons lewe kom werk het deur ons sondeskuld af te skryf omdat ons in Jesus Christus glo. Saam met Jesus het Hy ons uit die donker doderyk opgelig sodat ons in Sy lig kan lewe.

 

Deur die eeue is daar al baie bespiegel en gewonder oor die wysheid. Filosowe het al definisies daarvoor probeer gee maar op die ou end kom die Spreukeskrywer die naaste aan die waarheid: “Wysheid begin met die dien van die Here, wie die Heilige ken, het werklik insig” (Spr. 9:10). Wanneer donker wolke oor ons en ons land saampak, kan ons gelowiges ons harte vul met Hom wie ons dien. God kom bied soos altyd, ook weer soos ons in die hierdie Lydenstyd gesien het, sy wysheid vir ons opnuut aan. Hy strek sy genadige hande na ons uit. “As een van ons wysheid kortkom, moet ons dit van God bid, en Hy sal dit aan ons gee ...” belowe Jakobus in sy brief (Jak. 1:5). Ons kan Hom maar net vra!

 

“Ons moet wysheid bekom in dié sin dat ons nie meer beslissings sal maak op mense se opinies nie, maar dat ons verstand ons sal aanspoor om ten diepste uit die hand van God te leef, te dink en te beplan”

(George Bernanos - 1898-1949).   

 

Gebed: Here, saam met Paulus wil ons getuig van U lig wat in die duisternis skyn, ‘n lig wat ons lewe verlig met kennis en heerlikheid van U die Regverdige, die Enigste, die lewende God. Die hemel getuig van U regverdigheid. Daarom bid ons, dat U die onreg in die wêreld en ook in ons land, raak sal sien en met U kragtige wysheid, sal optree. Here, bly asseblief by elkeen van ons wat u Seun op die moeilike pad na Golgota toe volg. Amen.

 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page