top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 11 Maart 2024

Koos Espach


Paulus word by die tempel gevange geneem (5)

 

Dis ‘n gestoei, maar darem nie alleen nie

 

Hand. 21:35-36 – “By die trap van die kaserne het die gepeupel so saamgedrom dat die soldate Paulus moes dra, 36 want al die mense het agterna geloop en geskreeu: ‘Weg met hom!” (1)

 

Lukas skilder die gebeure van die dag verder. Die volksmassa was so opgewerk dat hulle die soldate gevolg het na die kaserne en by die trappe Paulus en die twee soldate omsingel het. Die gepeupel het so saamgedrom dat die soldate Paulus die trappe moes op dra terwyl die skare aanhoudend skreeu, ‘weg met hom!’ Dit is nie soseer ’n opdrag aan die soldate nie, maar die uiting van hulle gevoelens oor Paulus. Hy moet vernietig word. Hulle wil hom ten alle koste dood hê.

 

Ongeveer sewe en twintig jaar vantevore het die Joodse skare dieselfde met Jesus in Jerusalem gedoen. Toe die grootste Profeet, Jesus Christus, in die volheid van die tyd gekom het, was die geroep dieselfde. Voor Pilatus het hulle ‘n variasie met dieselfde inhoud teenoor Jesus geskreeu: “Weg met Hom! Kruisig Hom!” (Luk. 23:18). Jesus en sy leer moes as godslasteraar vernietig word (Mark. 14:64); soos ook nou vir Paulus, Jesus se getuie.

 

Eintlik is dit tragies dat die Jode in die Naam van God, Paulus so behandel het, nog érger, God se Seun skuldig kon bevind het as ‘n godslasteraar. Hoe ironies dat hulle God in die beskuldigdebank kon plaas onder die voorwendsel dat hulle sy Naam probeer beskerm. Stephan Joubert het dit mooi opgesom: “Godsdiens kan mens stokblind maak dat jy God self vervolg terwyl jy dink dat jy juis ‘n groot kampvegter vir die waarheid is.” Om Jesus se ware identiteit raak te sien, moet ons naby genoeg aan Hom staan. Hoe doen ons dit? Staan vas in die geloof – wys vir die wêreld ons het die regte kant gekies, die kant van die Weg, Waarheid en die Lewe.

 

Paulus se geloof was rotsvas. Met dieselfde kettings waarmee die Romeine hom geboei het, het Paulus seker gemaak dat sy geloof vasgeanker was aan die Rots, en nie aan twee soldate nie. Die winde kon maar ruk. Die grootste branders kon maar slaan. Die een curve ball na die ander kon maar nader gevlieg kom, maar vir Paulus kon hulle nie van sy voete kry nie, al moes die soldate hom dra om hom uit die wilde wrede hande van die Jode te hou. Hy was te stewig vasgemaak aan die Rots.

 

Mag ons geloofstoue sterker en sterker raak. Mag ons kans sien vir die lewe en sy storms, nie omdat ons dink ons is sterk genoeg nie (want ons is beslis nie), maar omdat ons weet en glo dat ons vasgeanker is aan ons Almagtige Vader en dat sy Seun Jesus, ons Broer is en dat sy Gees hier binne ons is en ons al die pad sal bystaan en help om deur enige storm te beur. Ons ankertoue is immers agter die geskeurde voorhangsel ingekap (Matt. 27:51).

 

Ons moet uithou, aanhou en weer probeer. Dit is deel van ons Christene se karakter. Ons laat nie toe dat die slegte dinge wat die lewe na ons gooi ons onderkry nie. Ja, ons kan dalk ’n slag of wat op ons maag of rug te lande kom, maar bly lê? Nooit nie! Om ’n kind van God te wees, beteken dat ons gedurig aan ons geloofshuise moet bou. Ons moet gedurig teruggaan na die tekenbord om te sien waar dinge werk en waar dinge nie werk nie. Ons moet nuwe dinge probeer en kyk waar ons eerder ontslae moet raak van dinge wat nie werk nie. Ons moet bid dat God se Gees ons hand sal neem en ons sal help in die regte rigting.

 

Jesus is die begin- en eindpunt van ons geloof. Al wat ons moet doen, is om ons oë op Jesus gevestig te hou. Hierdie boodskap word op baie verskillende maniere, keer op keer vir ons oorgedra. Êrens moet ons dit deel maak van ons lewe. God het eens en vir altyd klaargespeel met ons sonde-probleem. Kom ons maak die handrem los en plaas ons bondeltjie sonde van gister en al die dae voor gister, by die kruis neer en gaan vertel die wêreld van Jesus wat heeltemal klaargespeel het met ál ons sondelaste. Daar is nie meer ‘n enkele sondeverslag van ons in die hemel nie. Dis vernietig. Glo dit!

 

“Ons mag vry wees om te kies, maar ons is nie vry om die gevolge van ons keuses te kies nie” (Selwyn Hughes).

 

Gebed: Vader, ek bely dat U my Vader is. Ek glo dat Jesus vir my sondes gesterf het. Ek glo regtig, al sukkel ek soms as dit so woes gaan. Help my met U Gees om nie toe te laat dat onsekerheid en die wêreld rondom my my geloof steel nie. Ek eer U. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page