top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Mar 6, 2024
  • 4 min read

Woensdag, 6 Maart 2024

Koos Espach


Paulus word by die tempel gevange geneem (2)

 

Die nuwe tempel

 

Hand. 21:30-31a – “Die hele stad het in beroering gekom. Die mense het saamgedrom, vir Paulus gegryp en hom uit die tempel uitgesleep. Die deure is dadelik agter hulle toegesluit. 31 Die mense wou hom net doodmaak.”

 

Lukas vertel dat Paulus ingewillig het om die nodige geld vir die beëindiging van die vier mans se gelofte te voorsien. By die tempel het hy die priester kennis gegee van sy eie reiniging sewe dae later, asook sy bereidwilligheid om die offer namens die vier mans te betaal. ‘n Klompie Jode, almal van sy ou vyande uit Asië wat vir die viering van die pinksterfees in Jerusalem was, het Paulus by die tempel raakgeloop en van skok, amper ‘n hartaanval gekry, alarm gemaak en hulp ontbied om hom uit die tempel te verwyder. Hulle geskreeu het die hele stad in beroering gebring. Paulus is hardhandig uit die tempel verwyder en die tempeldeure gesluit. Die priesters tref voorsorg vir die moontlikheid dat ‘hierdie man’ (Paulus) doodgemaak word en sy bloed hulle heiligdom verder verontreinig.

 

Die Jode het geglo dat Paulus die tempel as ontmoetingsplek met die Here afgeskryf het. Maar net soos met Jesus, verstaan hulle nie, of liewer, wil hulle nie verstaan nie. Paulus skryf uit Efese: “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? 17 As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle” (1 Kor. 3:16-17). Jesus is aangekla en tot dood veroordeel omdat Hy sou gesê het dat Hy die tempel wat met hande gebou is, sal afbreek en binne drie dae weer opbou (Mark. 14:58).

 

Johannes verduidelik in sy evangelie dat Jesus aan die Jode gesê het: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.’ Die Jode sê toe: ‘Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?’ Met ‘hierdie tempel’ het Hy egter sy liggaam bedoel” (Joh. 2:19-21). Hierdie woorde van Jesus is deur die Jode in letterlike betekenis as ’n bedreiging van die tempel verstaan, en in verdraaide vorm voer hulle dit later aan as beskuldiging teen Hom en gebruik dit as rede dat Hy moet sterf (Mark. 14:58). Jesus se bedoeling was dat in Sy liggaam, die vervulling gegee word van alles wat deur die tempel afgebeeld word. Sy sterwe sou die offerdiens onnodig maak, en Sy opstanding sou die tempel selfs oorbodig maak.

 

Wát die Jode ook al gedoen het in hulle strewe om Jesus uit die weg te ruim, was tevergeefs. Hulle het nie geslaag nie. Jesus bly die oorwinnaar – Hy is binne drie dae opgewek uit die dood. Daarmee het die nuwe tempel verrys, die geestelike tempel waarvan die voorhangsel geskeur is sodat daar vir die sondaar, vir my en jou, vrye toegang is na God toe (Heb. 10:19). Daarom word Jesus se woorde ten opsigte van die afbreek van die tempel en ook Sy optrede by die tempelreiniging (Joh. 2:13-21), verstaan as teken dat die ou bedeling plek moet maak vir die nuwe.

 

Baie keer in die lewe word ’n mens uitgespoeg en hoor jy jy is nie goed genoeg nie. Dis die werklikheid. Mense mors met ander mense. Mense besef nie wat hulle met hulle woorde en dade vertel nie. Sommerso word iemand ’n weggooilap en hulle selfwaarde storm by die deur uit – “jammer, jy maak dit nie ...”. Selfs deesdae by die werk – “Ons moet van die werkersmag verminder en ongelukkig kan ons jou nie aanhou nie. Jy is nie deel van dié wat oorbly nie. Jammer, jy maak dit nie ...” Afgekeur en weggegooi.

 

Ek vermoed Jesus ken die ene ook. Hy het gekom as genadegeskenk vir die wêreld. Hy het die lig na die donker wêreld gebring. Nee, meer nog, Hy het die ware verlossing vir die hele mensdom gebring. Maar die Jode het dit nie raakgesien nie. Hulle, wat selfs die kerk van die dag ingesluit het, het Hom vervolg. Hulle het Hom verhoor en skuldig bevind. Hulle het op Hom gespoeg, geslaan, aan ’n kruis vasgespyker en ’n spies in Sy sy gesteek. “Jammer, jy maak dit nie ...” Jy is nie die Verlosser nie.

 

Maar – hierdie keer ‘n gelukkige maar – Jesus het opgestaan. Hy lééf en oral waar Hy is, is ons tempel nou. Of ons in ‘n eensame kamer of besige pad is, die tempel van God is net so ver van ons af as wat Jesus van ons af is. Jesus wil hê dat vanuit die tempel (kerk) gefokus moet word op ‘n nuwe lewenstyl en lewenswyse – ‘n plek van aanbidding en waar God se teenwoordigheid beleef word. ‘n Plek waar ons versoenend teenoor ander optree, gewillig is om na die suiwer woordverkondiging te luister en te gaan doen wat die Gees ons vra.

 

Die vraag is egter: Hoe vergelyk ons geestelike lewe met die “tempel?” Soek ons ook steeds na ‘n “teken” om te bewys dat Jesus die Messias is, of is die kruis ‘n genoegsame teken? Watter kamers van ons huis moet deur Jesus gereinig word soos Hy die tempel gereinig het, of moet ons liewer die deure toehou – Studeerkamer, die plek waar ons lees en na dinge kyk; eetkamer waar ek en jy ons begeertes en aptyt uitleef; werkwinkel waar ons al ons vaardighede vir onsself hou; TV kamer waar ons ontspan, flieks en sport kyk; gesinskamer waar my en jou gesinslede, vriende en familie bymekaar kom of dalk die hangkaste waar ons “alles ophang?”

 

“Christene se lewe is die wêreld se Bybel – en sommige van dié “uitgawes” het hersiening nodig”

(Dwight Moody).

 

Gebed: Here, ek is ‘n sondaar, help my! In myself het ek niks om aan te bied of in te ruil vir U genade nie. Dankie dat U my “tempel” wat ook vol onnodige dinge is, elke dag steeds reinig deur U kosbare bloed en daardeur my naam plaas op die uitnodigingskaartjie na U hemelse fees toe. Dankie dat U kruis vir my die enigste teken is dat U my uit elke donker hoekie uithaal. U naam ter eer.  Amen.

 

 
 
 

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page