top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 18 Januarie 2024

Koos Espach


VII.  Paulus se Derde Sendingreis (Hand. 18:23-20:38) 

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland

 

Paulus gaan na Masedonië en Griekeland toe (2)

 

Ons is in God se wenspan

 

Hand. 20:3b-5 – “Toe Paulus op vertrek gestaan het Sirië toe, het hy van ‘n Joodse komplot teen hom te hore gekom en besluit om deur Masedonië terug te gaan. 4 Pirrus se seun Sopater van Berea het saam met Paulus gereis, en ook Aristargos en Sekundus, albei van Tessalonika, Gaius van Derbe, en Timoteus, asook Tigikus en Trofimus, albei van die provinsie Asië. 5 Hulle het vooruitgegaan en in Troas vir ons gewag.”

 

Met die lente van 56 nC het die skepe weer begin vaar en Paulus wou per skip, na Antiogië in Sirië reis. Hy moes egter weer sy reisplan verander. Die Jode wat onlangs voor Gallio ’n bloutjie geloop het (18:14-16), se komplot was moontlik om ’n aanslag op sy lewe op die skip uit te voer. Dan was daar nog die Jode van Jerusalem wat na sy bekering en prediking in Damaskus, ook beplan het om hom dood te maak (9:23-24). Soos die vorige keer, het Paulus gehoor van die komplot en besluit om sy reisplanne te verander.   

 

Dit lyk asof Paulus op elke plek waar hy kom, oproer veroorsaak het. Miskien het hy gemaai wat hy gesaai het toe hy self die Christene in Jerusalem so hewig vervolg het (Hand. 8:3). Gelukkig het hy Jesus op die pad na Damaskus ontmoet, en daarna het hy verander in ‘n vreeslose getuie. Hy word as vervolger van Jesus, ‘n volgeling van Hom. Daarom die rede dat sy volksgenote hom wil bykom. Hy glo nie meer dieselfde as hulle nie. Hy het, volgens hulle, hul eer gekrenk en skande oor hulle gebring. Hy is teen die wet van Moses en hulle feestelike seremonies – en dit is strafbaar met die dood.

 

Vervolging van Christene wat anders dink en glo as die res van die wêreld, is niks nuut nie. Jesus het 2 000 jaar gelede in sy bekende Bergpreek, ons teen vervolging gewaarsku (Matt. 5:11). Deur al die eeue heen tot vandag toe, is daar steeds, sóveel ellende en vervolging onder die kinders van God. Dit lyk asof satan weet dat sy tyd kort is en sy koninkrykie nie meer lank gaan bestaan nie, en daarom alles in die stryd werp om vir oulaas te doen wat hy kan, voordat hy finaal oorwin en gestraf word (Op. 20:10).

 

God het reeds die slothoofstuk van die wêreldgeskiedenis in sy woord geskryf (Op. 21:5-6). Die satan staan nie ‘n kans teen God nie. God bevestig hier dat alles net so sal gebeur soos Hy gesê het. Saam met hierdie bevestiging kom ook ‘n belofte: 6 “Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. 7 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees.”

 

Intussen, terwyl ons wag vir God se beloftes om waar te word, wéét ons “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom” (Hand. 14:22). Maar, gelukkig wéét ons ook ons kan vashou aan God se beloftes “omdat ons glo, word ons ook deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar sal word” (1 Pet. 1:5). Ons gelowiges hét die versekering dat God die verloop van die wêreldgeskiedenis in Sy hand hou. 

 

Die vervolgers kan maar alles in die stryd werp om van gelowiges in Christus te steel en te verower, hulle sal nóóit slaag om die hemel van ons weg te neem nie. Ons het ‘n nuwe adres, ‘n hemelse adres, ‘n ewige adres, en dit is onwankelbaar. Dit bly vir ewig staande. Paulus bevestig dit ook: “Ons is erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan Sy lyding, sal ons ook deel hê aan Sy heerlikheid” (Rom. 8:17b). God se beloftes is ‘n éwige erfenis. God het vir ons iets beters met ewigheidswaardes beloof. Ons is deel van God se wenspan!

 

Elkeen wat sy of haar knie voor Jesus buig (en nie voor elke wie ook al se life that matters nie), en sê dat Hy die Here is, is verseker van ‘n plek in die nuwe stad van God. Ons kan saam met Paulus bely: “Ek is oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie” (Rom. 8:18). Die Koning van alle konings is op pad na ons toe. Ons moet sorg dat ons gereed is daarvoor. Ek en jy moet ander dorstiges en sondaars nooi om saam met ons te staan en hulle oë ophef na Christus toe. Laat hulle betyds van die water wat Jesus “te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe”, sodat hulle ook “die oorwinning kan behaal”, wanneer Hy sy opwagting maak.

 

Niemand ly ooit tevergeefs vir Christus nie, want daar is vier hoofletterwoorde in hierdie belofte van Jesus: “Geseënd is julle wanneer die mense julle TER WILLE VAN MY … wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel” (Matt. 5:11-12).

 

Gebed: Dankie God van hemel en aarde, dat ek kan vashou aan ‘n belofte wat ewigheidswaarde het. Dankie Jesus dat ek ‘n lewe saam met U kan hê al is dit nie ‘n probleemlose aardse lewe nie. U maak die lewe vir my egter ‘n oorwinning oor my probleme. Dankie Heilige Gees dat U by my is, nie om my van ‘n gemaklike lewe te verseker nie, maar juis om my in moeilike tye by te staan. Ek loof en prys U Naam. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page