top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 15 Januarie 2024

Koos Espach


VII.  Paulus se Derde Sendingreis (Hand. 18:23-20:38) 

Hoofstuk 19 – Paulus in Efese

Die oproer in Efese (6)

 

Jesus swyg ter wille van ons

 

Hand. 19:35-36 – “Uiteindelik het die stadsklerk daarin geslaag om die skare tot bedaring te bring. ‘Efesiërs,’ het hy gesê, ‘watter mens weet nou nie dat die stad van die Efesiërs die beskermer is van die groot Artemis en van haar beeld wat uit die hemel geval het nie? 36 Niemand kan dit betwis nie. Bedaar dus en moenie iets oorhaastigs doen nie.

 

Die stadsklerk verskyn op die toneel. Alhoewel Efese sy eie regeringstelsel gehad het, was daar altyd Romeinse soldate teenwoordig om in te gryp as daar moeilikheid sou wees. Die stadsklerk is deeglik hiervan bewus en bring die oproerige skare tot bedaring. Hy was verantwoordelik vir wet en orde in die stad. Hy was ook die aankondiger van besluite van die keiser en die plaaslike Raad en daarom het sy woord gesag gedra by die inwoners.

 

Hy begin om hulle aan sy kant te kry deur hulle gerus te stel oor hulle godsdienstige gevoel. Hulle hoef nie te vrees vir die eer van die groot godin nie, want elkeen ter wêreld was bekend met haar roem en majesteit. Elkeen het geweet dat haar beeld nie die produk van sterflike vakmanskap is nie, maar uit die hemel geval het om deur die mense van Efese opgepas te word. Elkeen het geweet dat die stad daarom die trotse titel gedra het: ‘Bewaarder van die tempel van Artemis.’ Artemis is glad nie in gevaar nie. Die stadsklerk sien nie wat Demetrius sien nie. Hulle moet dus ophou om vir ure lank te skreeu, rustig wees en eerder stilbly. En sy koue logika klink oortuigend – hulle bly stil.

 

Paulus wou in die volksvergadering ingaan, waarskynlik om die saak van die Here te stel en om sy reisgenote, Gaius en Aristargos, te verdedig, maar is deur die gelowiges en sommige hoë amptenare van die Romeinse provinsie Asië, verhinder. Hy moes eerder stilbly en ‘n lae profiel handhaaf. Dit herinner ons aan die dag toe Jesus ook eerder geswyg het: “Die priesterhoofde het Jesus van baie dinge beskuldig. Pilatus het Hom toe verder ondervra. ‘Verweer jy jou glad nie?’ het hy gevra. ‘Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.’ Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was” (Mark. 15:3-5).

 

Pilatus het onverskillig gestaan teenoor die waarheid wat Jesus verkondig en daarom praat Jesus nie verder met hom nie. Jesaja het reeds ongeveer sewe honderd jaar vantevore oor hierdie stilswye van Jesus geprofeteer: “Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie” (Jes. 53:7). Pilatus was verbaas, dalk verbouereerd.

 

Jesus swyg wanneer dit nie om die waarheid gaan nie. Baie mense het met allerlei strikvrae na Jesus gekom, maar geen antwoorde gekry nie en dié wat wel antwoorde gekry het, het nie daarvan gehou nie. Vir dié wat nie wou glo nie was die genadetyd verby. Gelukkig vir ons as Christen-gelowiges is selfs Jesus se swye ‘n “wonderwoord”. Met ‘n enkele magswoord kon Hy die natuur beheer (Matt. 8:26b); selfs die dood ooppraat (Joh. 11:43); maar nou hier voor Pilatus, raak Hy stil, want ons gelowige sondaars was in Sy gedagtes.

 

Wanneer Jesus Christus as Middelaar en Verlosser voor die regterstoel van Pilatus staan, staan Hy nie daar om Homself te verteenwoordig nie. Hy staan daar in die plek van al die mense wat sy “Vader aan Hom gegee het, vir wie Hy nooit sal verwerp nie” (Joh. 6:37). Hy staan daar in die plek van elkeen wat “met sy mond bely dat Jesus die Here is, en met sy hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, wat gered sal word” (Rom. 10:9). Jesus is stil voor Pilatus want Hy weet Hy staan daar in die plek van my en jou, sodat ons nou vry van die oordeel van God is en nooit die oordeel van God hoef te vrees nie.

 

Jesus wag vir God se tyd om te praat; Jesus swyg te midde van vals beskuldigings en verskriklike verontregting tydens Sy belaglike verhoor, want Sy stilswye is uit God gebore. “Hy sal niks uit sy eie doen nie maar net verkondig wat die Vader Hom geleer het” (Joh. 8:28b). Wag ons vir God om te praat voor ons dinge sê wat dalk kan seer maak of volg ons Jesus se voorbeeld? “Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Pet. 2:23).

 

Ons ken hierdie tonele op die vooraand van Jesus se kruisiging. En dit dwing ons om twee duisend jaar later, ten minste een vraag te vra: Hoe kon die volk en veral die priesterhoofde en familiehoofde, hoe kon die kerkmense se afkeer van Jesus tog só groot gewees het? Maar so klink dit wanneer mense deur die waansin van die trop meegesleur word. En almal skreeu, waaroor, weet baie van hulle nie. Wanneer Jesus swyg, verstaan ons nie altyd nie, maar wanneer Hy praat, is dit ‘n wonderwoord, wat ons verbaas en swygend voor Sy alomteenwoordigende en allesdeurdringende liefde laat staan, want eintlik het soveel dinge, lewegewende dinge, toe eers begin.

 

“Dit is goed om soms stil te bly. As jy dán wil praat, praat met God vóór jy met ander praat, daar is geen beter tyd wanneer jy God ontmoet voordat jy mense ontmoet” (William Dobbie).

 

Gebed: Here, help my om deur U Gees U swye te verstaan. Laat dit ook kenmerkend wees van my lewe. Werk in my lewe deur U Gees sodat ek U voorbeeld van stilswye, waar en wanneer dit nodig is, kan toepas. Dankie vir daardie stiltetyd wat ek in U teenwoordigheid kan wees. Amen.

 

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page