top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 12 Januarie 2024

Koos Espach


VII.  Paulus se Derde Sendingreis (Hand. 18:23-20:38) 

Hoofstuk 19 – Paulus in Efese

Die oproer in Efese (5)

 

Wat is waarheid?

 

Hand. 19:33-34 – “Toe die Jode vir Aleksander vorentoe stoot, het party van die mense vir hom gesê wat aan die gang is. Hy het met sy hand gewys dat hy iets vir die volk wil sê. 34Maar toe hulle merk dat hy ‘n Jood is, het hulle almal byna twee uur lank uit een mond aangehou skreeu: ‘Groot is Artemis van die Efesiërs!”

 

Paulus het die gramskap van die besigheidsmanne in Efese op die hals gehaal. Die stad is in rep en roer – hulle het dit teen “hierdie Paulus” en die Jode. Die meeste van die inwoners is by die amfiteater waar hulle luidkeels hulle ontevredenheid te kenne gee. Almal skreeu, meeste weet nie eens waaroor nie, maar skreeu saam. Onder hulle was ook ’n hele aantal van die Joodse gemeenskap teenwoordig. Vir hulle kan dit lelik word. In hulle poging om hulself te red van enige suspisie wat omtrent hulle gekoester mag word, wil hulle dit duidelik stel dat hulle niks met die Christene te doen het nie. Hulle moet hulself beskerm en stoot Aleksander as hulle pleitbesorger en woordvoerder, vorentoe.

 

Hy het dan ook sy bes gedoen om die aandag van die vergadering te verkry deur met sy hand te wys dat hy iets vir die volk wou sê. Die mense het egter geweier om na hom te luister – natuurlik, ‘n Jood word dadelik onder ander volke uitgeken. En al wat vir hulle saak gemaak het, was dat hy ’n Jood was en daarom geen aanbidder van Artemis nie. Hy is deel van “hierdie Paulus” wat hulle gode en godinne verafsku, deel van “hierdie Paulus” wat “die Weg” verkondig! Sulke mense moet hier nie praat nie. Toe hy daarom vir ’n gehoor vra, het die hele skare soos een man die belydenis van die Efesiërs begin uitskreeu: ‘Groot is Artemis van die Efesiërs!’ En hoe langer hulle skreeu hoe harder word dit sodat die hele stad vir twee uur lank geskud word deur hulle uitroep.

 

Die hele skare daar in die amfiteater het soos een man die belydenis van die Efesiërs uitgeskreeu: ‘Groot is Artemis van die Efesiërs!’ En vandag weet ons nie eens wie Artemis was nie. Haar imposante tempel is tans ‘n hoop klippe. Maar ons en ál die Christene van vandag se wêreld, weet steeds wie die “Weg, die Waarheid en die Lewe” is. En die woorde van Jesus eggo opnuut by ons: “Dan is jy tog wel ‘n koning?’ vra Pilatus. ‘Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning,’ antwoord Jesus. 'Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.’ ‘Wat is waarheid?’ sê Pilatus toe vir Hom ...” (Joh. 18:37-38a).  

 

Jesus bevestig tydens sy verhoor aan Pilatus dat Sy koningskap tot openbaring kom deurdat Hy “oor die waarheid getuienis aflê”. Dit gaan nie om ’n staatkundige koninkryk nie maar oor een wat met “die waarheid” te doen het en dus geestelik van aard is. Die doel van Sy koms was om van die waarheid te getuig. Die wêreld wat onderwerp is aan die owerste van die wêreld, satan, die vors van die leuen, moes die waarheid aangaande sy eie verlorenheid en aangaande die heilsplan van God hoor.

 

Dit is eintlik jammer dat Pilatus nie aangedring het op ’n antwoord toe Jesus nie ’n uitgesproke antwoord op sy vraag “wat waarheid is”, gegee het nie. Net so is dit jammer dat die Artemis aanbidders ook nie méér oor die “Weg en die Waarheid en die Lewe” wou hoor en aanvaar nie. Die waarheid is nie “wat” nie, dit is ‘n Persoon: Jesus Christus, Hý ís Waarheid! (Joh. 14:6). En die verdere verloop van die gebeurtenisse, die voortsetting van Jesus se verhoor, die kruisiging en opstanding, alles wat daarna gevolg het, is ’n openbaring van die waarheid. Daarom kon Paulus dit later bevestig dat dit geskied het in die volle openbaar, sodat heiden en Jood, die hele wêreld, kennis moet neem van Jesus se daad van getuienis: “Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, het Christus Jesus teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê van die goeie belydenis” (1 Tim. 6:13).

 

Elke mens het seker al die vraag gevra: Wat is waarheid? Die ironie is dat Pilatus op die presiese oomblik wat hy die vraag gevra het, se oë seker op die suiwerste Verpersoonliking van die waarheid gerus het. Hy was só naby aan die ‘God van waarheid’, dalk net ‘n armlengte weg, tog kon hy nie die waarheid verstaan, aangryp en vasgryp nie! “Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê”, het Jesus probeer om vir Pilatus uit sy dilemma te help. Ek en jy wat hier lees, moenie hierdie kort antwoordjie van Jesus onderskat nie – dis gelaai met die grootste openbaring wat ons ooit sal hê!  

 

Die Heilige Gees lei ons gelowiges wat aan die Waarheid behoort, steeds tot toenemende begrip van God se Woord en dan natuurlik, ons gehoorsaamheid daaraan. Deur Sy Woord en Gees lei God ons tot by die soenverdienste van sy Seun, Jesus Christus ons Verlosser, sodat ons Hom intiem kan leer ken as ons Saligmaker. Ons moet egter die Gees toelaat dat ons in daardie dieper ervaring en kennis van ons Verlosser en Heiland, gelei kan word! Dit bring ons by die Waarheid uit, nie ‘n “wat” nie, maar die Lewende Werklikheid, Jesus Christus ons Here! Ons moet ons plek voor Hom ken, meestal knielend, met ‘n belydenis op ons lippe: Ek sal altyd naby U bly en my vertroue in U waarheid plaas. Hou my vas Here van waarheid! Asseblief!

 

“Jesus Christus, ons Here, is die Waarheid sonder wie ons nie kan klaarkom nie” (Leo Tolstoi).

 

Gebed: Here Jesus, hou my naby U deur U Gees sodat ek die Waarheid sal ken en liefhê. Dankie dat U Woord die Waarheid is, dat Uself die Waarheid is en dat U Gees my in die Waarheid lei sodat ek kan onderskei tussen waarheid en leuen. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page